Heinie & Carina se troudag by The Cowshed

Heinie en Carina beskryf mekaar as beste vriende wat saam kan lag, laf wees en hul tyd geniet.  Die twee wat mekaar al van hoërskool dae af ken, het in November maand verlede jaar die knop deurgehak tydens ‘n spoggerige geleentheid by The Cowshed venue.  Die paartjie was van die begin af mal oor die venue en het veral gehou daarvan dat die venue vir die hele naweek aan jou uit verhuur word.  Hul gaste kon sommer heel naweek makietie hou!

In die artikel sal julle ook sien dat daar aktiwiteite is wat die bruidegom en sy strooijonkers onder andere ook geniet het die oggend van die troue.  Dié paartjie sê dat hulle graag ‘n minimalistiese en natuurlike troue wou hê en het dit bekom deur eenvoudige dekor keuses wat die skoonheid van die venue na regte laat kom het.  Die paartjie het die tafeldekor minimalisties gehou wat hope spasie gelaat het vir gaste, iets om beslis in gedagte te hou indien jou tafels relatief smal is.  Lees later in die artikel ook meer oor die paartjie se avontuurlustige wittebrood en geniet die prag foto’s van hul groot dag.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle op dié dag?


Heinie was 27 jaar oud en Carina 25. Ons troue was op die 4de November 2017 gewees.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het op Hoërskool ontmoet,  ek was in graad 10 en Heinie in Matriek gewees.  Ons was eers goeie vriende vir ‘n hele ruk voor hy my uitgevra het toe hy ‘n naweek by my ouerhuis kom kuier het. Hy wou my die hele naweek vra maar het nie moed gehad nie en toe die Sondag voor kerk uiteindelik moed gekry. Ons was nog altyd net beste vriende en kon lekker saam lag, laf wees en grappe maak.

Hoe het julle verloof geraak?


Kyk, my man is regtig nie een van die mees romantiese mense wat ek ken nie, maar hy het alles uitgehaal toe hy my vra om te trou. Hy het my die oggend gebel ek was in die dorp, hy het gesê ons het ‘n geleentheid gekry om oor die plaas te vlieg waar hy werk ek moet so een uur terug wees.  Ons het toe oor die plaas gevlieg, hulle het ons op ‘n pragtige plek in die wildkamp afgelaai en daar het hy my gevra. Daarna het hy gereël met ons familie en vriende om op ‘n ander plek te wag, en ons het die aand verder saam hulle gevier.  Dit was die grootste verrassing.

Hoe het julle die venue gekies?


Ek het rondgekyk op die internet vir venues nie te vêr van ons huis af nie en op die mooiste plek afgekom. Ons het by The Cowshed getrou. Dit was presies waarna ons gesoek het en ons het gaan kyk na die venue en  ons altwee was dadellik mal oor die plek, die dekor en die rustigheid. Die Venue word vir die hele naweek uit verhuur so ons het al van die Vrydagaand af heerlik saam met vriende gekuier.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek wou van die begin af iets minimalisties en naby aan die natuur gehad.  Ons kleurskema was groen, wit en ‘n klein bietjie vlootblou. Ons wou van die begin af ‘n atmosfeer geskep het waar ons mense gemaklik, feestelik en tuis gevoel het.

Hoe het julle jul ringe gekies?


Heinie het my ring laat maak, ek het net een foto op my selfoon gehad van ‘n ring waaroor ek absoluut mal was.  Hy het toe vir my daardie ring laat maak. Ek het sy ring gekoop by die juwelier, Buedell.

Wat was die merkwaardigste deel van die aand?


Ek dink vir ons altwee, was die merkwaardigste deel van die aand, na al die afwagting dat jy daardie aand besef hoe geseënd jy is met soveel mense wat vir jou lief is en omgee, almal het hand bygesit en gehelp met reëling, goedjies maak, nagereg koeke.  Die hele aand is sulke wonderlike gevoel mens kan nie iets uitsonder nie.

Vertel ons meer oor jul fotograaf?


Ons fotograaf was Jean- Mari van Mense met gesigte, en wow! Dit is ‘n baie moeilike besluit om te neem wie ‘n baie belangrike dag in jou lewe gaan vasvang. Maar ons kon nie vir ‘n beter fotograaf gevra het nie vandat ek haar ontmoet het, het sy soveel moeite gedoen. Hulle het elke liewe oomblik vasgevang wat vir ons baie kosbaar is.

Wat sou julle verander aan die dag as julle kon?


Ons sou regtig niks verander nie alles het net so perfek uitgewerk.  Dit was ‘n wonderlike naweek.

Was julle met wittebrood gewees?


Ons wittebrood was een groot avontuur, ons het Botswana ingevaar met ‘n bakkie en ‘n tent. Ons het deur Botswana getoer en geslaap waar dit vir ons lekker gelyk het. Dit was die lekkerste vakansie! Ons het die mooiste plekke gesien, en tyd gehad na ‘n paar besige maande om mekaar weer te waardeer.

Diensverskaffers: