Roelof & Ané se Oktober troue

Roelof en Ané se troue was ‘n ontspanne geleentheid met boheemse invloede wat herinner aan die Misty Mountains van The Hobbit, soos Ané dit beskryf.  Die venue het ‘n skoon palet gelaat vir die paartjie om hul droomdag te skep.  Hulle het vooraf besluit dat die dekor elemente mos, hout, fyn glas en blomme sou bevat om aan te pas by die boheemse gevoel wat hulle wou skep.  Hier sien ons net weer hoe teenoorgesteldes soos fyn glas-botteltjies goed saamwerk met die rustieke gevoel van die rou-hout.  Byderwetse elemente soos die ronde blommekranse wat as ruikers gebruik is, is ook herhaal in die onthaal dekor.

Die fotografie is geneem in ‘n styl wat perfek pas by die dekor en lyk ongelooflik klassiek.  Die bruid en bruidegom het baie stylvol gelyk en ook ‘n paar unieke afrondings bygevoeg soos die bruid se vilthoed vir afronding tydens die seremonie en gemaklike skoene vir heelaand dans.  Kyk onder om meer te sien van die paartjie se groot dag en hul raad ook te lees asook ander vrae op Mooi Troues se antwoorde wat jou dalk ook kan help met die beplannings proses.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul op dié dag?


Ons het getrou op 3 Oktober 2017. Dit was ‘n Dinsdag en in die skole vakansie. Die rede vir dat ons in die week getrou het (hoekom moet ‘n mens in elk geval op ‘n naweek trou?) was grootliks omdat ek (Ané) ‘n hoërskool onderwyseres is en so min as moontlik klastyd wou mis.

Roelof was 25 en Ané 27 op hul troudag.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het ontmoet in 2011. Ons albei was op daardie stadium studente by Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (nou Nelson Mandela Universiteit) in Port Elizabeth. Ons het saam by ‘n funksie gewerk waar al die oud-rugby-legendes soos Mannetjies Roux en vele meer stories vertel het van hul rugby-dae. Roelof was ‘n kroegman en ek (Ané) was ‘n kelnerin. Ek het gegaan met die hoop om ‘n jong Springbokspeler te ontmoet, min geweet dat ek daardie aand my trouman sou ontmoet.

Hoe het julle verloof geraak?


My vriendin en suster het vir my gesê hul wil na ‘n venue gaan kyk vir ‘n verloofde van my vriendin se verjaarsdag. By die venue gee my vriendin toe vir my ‘n koevertjie. In die koevertjie was ‘n briefie met ‘n storie van hoe ons ontmoet het. Die briefie gee toe ‘n leidraad waar ons volgende moet gaan. So was daar koevertjies by al ons spesiale plekke. Die laaste plek het my geneem na die strand. Hy het daar gestaan en wag vir my in ‘n groot JA blok wat hy getrek het in die sand, langs ‘n klein NEE blok. Hy het toe op sy knieë gegaan en die boksie oopgemaak. Roelof is nie ‘n man van vele woorde nie, maar woorde was nie nodig nie.

Vertel ons meer oor die ontwerp van jul ringe


My verloofring het Roelof uit sy eie gekies, dis ‘n witgoud ring met blommetjie motief, met een soliede diamant in die middel en 36 klein diamantjies rondom. My trouring is ‘n eenvoudige roosgoud troupand. Ek hou baie van die meng van kleure. Roelof se troupand is ‘n swart Tungsten ring met ‘n roosgoud band in die middel.

Hoe het julle die venue gekies?


Roelof kom van die plaas af en daarom wou ons die plaas gevoel met ‘n skuur onthaal uitbeeld.  Die feit dat ‘n groot dansvloer vir ons noodsaaklik was, was een van die groot redes waarom ons Slipperfieds as venue gekies het. Die venue bied ook ‘n ongelooflike uitsig op die Lady Slipperberge wat die venue omring – dit laat ‘n mens dink aan die Misty Mountains van The Hobbit.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek is ‘n boheemse-meisie van hart en wou sover moontlik ‘n boheemse, feesagtige gevoel kry met ons dekor. Veldblomme met hout tafels, mos en glas blompotjies wat almal verskil het van mekaar. Ons wou ook ‘n banketstyl tafel uitleg hê met ‘n groot dansvloer. Ek wou ook baie graag glasbottels met blomme uit die dak gehang hê met feetjie-ligte wat sou bydra tot die warm, fees atmosfeer.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Die merkwaardigste oomblik was basies vir ons albei net om voor ons familie en vriende die grootste belofte te maak en om hulle as getuies te hê. Ons vriende en familie is vir ons baie belangrik en om dit net met hulle te kon deel, was vir ons merkwaardig en om te weet dat soveel mense ons lief het is vir ons ‘n groot seën!

Vertel ons meer oor jul fotograaf en videograaf


Ons het die beste fotograwe gehad! Ons het Van Bode Photography gebruik. Hulle het net ‘n manier om jou styl en al daardie spontane oomblikke vas te vang. Hulle het ook ‘n ongelooflike natuurlike manier om die fotos te neem en die fotos wat ons gekry het is so natuurlik en dis presies wat ons wou gehad het. Hulle het ons gemaklik laat voel voor die kamera en dit was glad nie ‘n stywe “affêre” nie. Hulle het ook die natuur-mooi van Lady Slipper vasgevang.

Wat sou jul verander indien moontlik?


Wat ons albei graag sou wou verander, was om meer tyd met mekaar te spandeer.  Ons familie en vriende het ons so besig gehou dat ons maar net vier keer met mekaar gedans het, maar dis letterlik al wat ons sou wou verander het want alles anders was verder perfek!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Roelof se advies gee hy aan die mans met ‘n tong in die kies: “moet nie teveel betrokke raak nie.” My advies is, moenie bekommerd en opgewerk raak oor klein goedjies nie. Jy is al een wat weet hoe sekere goed moet wees en hoe sekere goed moet lyk, so ontspan en geniet elke oomblik van die beplanning, want tyd vlieg en voor jy jouself kry, is die dag verby.

Wat was jul begroting het het julle daarby gehou?


Ons begroting was om en by R150 000.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Ons het twee Wittebrode gehad maar sal die eerste een, direk na die troue, beskryf.  Roelof het alles beplan.  Ons is Tsitsikamma Lodge en Spa toe vir twee aande.  Daar het ons heerlik ontspan en ons soos toeriste gedra.  Ons het gaan loop saam met olifante, ons het Birds of Eden en Monkey Land gaan besoek by Plettenbergbaai.  Daarna het ons vir  twee aande na Lake Side Lodge en Spa in Swartvlei gegaan.  Daar het ons ge-segway, “quad-bikes” gery en na die bekende Wild Oats boeremark in Wildernis gegaan.  Lake Side Lodge en Spa was werklik ‘n ervaring en ‘n groot bederf.

Diensverskaffers: