Raad: Ontwerp van rokke

janitatoerien

Teen die tyd het jy al heel moontlik ‘n paar rokke gaan aanpas en besef dat jy ‘n rok sal moet laat maak om jou unieke styl en persoonlikheid te komplimenteer. Hier moet jy nou jou navorsing begin doen en kyk vir ‘n ontwerper van wie se styl jy hou en jou rok kan maak.

Daar is so baie talentvolle ontwerpers, elkeen het hul eie styl, wat beteken daar sal defnitief iemand bestaan om jou droom rok ‘n realiteit te maak.

Eerstens sal jy ‘n afspraak moet reël met die ontwerper. Só kan julle oor jou idee gesels en daar sal ‘n konsultasi fooi van betrokke wees. Hier begin die kreatiewe proses en elke ontwerper het hul eie manier van ‘n konsultasie doen. Dit is deel van elkeen se styl en proses om die bruid beter te verstaan en sodoende vir haar die ideale rok te skep. Party ontwerpers gaan jou in lap toedraai om te sien waarvan jy hou, ander gaan jou van hulle voorbeeld rokke laat pas en ander mag dalk net luister na jou idees en gedagtes.

Hoe besluit jy wie om saam te naam na hierdie afspraak? Die ontwerper mag dalk vra dat die aantal persone wat saam kom beperk word tot een of twee. Die rede hiervoor is slegs dat daar minder opinies is en dit verwarring voorkom. Kies jou suster, ma, óf beste vriendin. Iemand wie verstaan wat jy wil hê en jou beste belange op die hart dra.

Bring vir die ontwerper ‘n paar prentjies saam van rokke waarvan jy hou, veral as dit ‘n rok is wat soortgelyk is aan een van ons ontwerpe. Iemand het jare terug vir my gesê “Kreatiewe mense is almal ‘n bietjie self-involved” en die beste manier om tot hulle ego te speel is om te komplimenteer. Dis ook hoekom ons so sukkel om nee te sê wanneer ‘n bruid ons vir nog ‘n guns vra. Dít wys ook vir ons jy het nie net die eerste naaste mens gekies om jou rok aanmekaar te slaan nie, maar jy het navorsing gedoen om seker te maak dat ons jou visie tot lewe kan bring beter as wat jy kan droom.

janitatoerien2

Gedurende die konsultasie probeer die ontwerper uitvind waarvan jy hou, die soort silhouette, die tipe materiaal ens. Vir my is dit ook altyd lekker as die bruid my meer van die troue vertel. Dit gee my ‘n kans om te hoor watter tipe bruid sy is en die gevoel wat saam met die troue gaan. Ek probeer altyd die rok só ontwerp om die gevoel van die troue te komplimenteer, byvoorbeeld om meer boheemse elemente in te bring in die ontwerp wanneer die troue ‘n “eclectic ambiance het. Meeste ontwerpers gaan dit probeer doen sodat die trou prentjie as ‘n geheel saam werk. So gesels lekker met ons! Vertel ons van die “mason jars” met die kerse in en die “festoon lighting” wat in die boomtakke gaan hang. Ons is mal daaroor om “wow” rokke te maak en wanneer jy met opgewondenheid oor jou troue kan praat kan ons meer van jou styl in jou rok bring.

Gedurende die konsultasie sal daar ook met jou bespreek word hoeveel die rok gaan kos en wat jou begroting is. My voorstel is om vooraf te hoor in watter prysklas die ontwerper se rokke gewoonlik val. Moet asseblief nie ‘n e-pos stuur met 10 prentjies en vra wat elkeeen gaan kos nie.

Moet ook nie instap met die bekommernis dat jy alles moet weet waarvan ons gaan praat nie, dis ons werk om alles te weet. Ons sal jou stap vir stap wys wat ons bedoel met ‘n Georgette of Beaded Mesh en ons sal jou vertel hoe die lap gaan werk met die ontwerp. Ons sal jou ook nie stuur om materiaal op jou eie te gaan koop nie, ons het óf ons eie voorraad óf ons neem jou saam wanneer ons die materiaal gaan koop. Die rok se materiaal is nie joune om oor bekommerd te wees of om te kry nie, wees gerus.

Ons verkies ook om dit self te kry, dit gebeur bitter min dat ons die lap gaan gebruik wat jy reeds gekoop het, want dis gewoonlik verkeerd. Genugtig, ek het al ‘n sak oopgemaak wat die bruid gebring het en die Polyester Monster wat daar uitgespring het was genoeg om enige iemand met ‘n sagte vel nagmerries te gee. ‘n Vloeiende rok in ‘n stywe rou sy? Gaan nie gebeur nie. Dus los dit gerus in ons hande en ons kies vir jou die mooiste lappe uit wat jou gaan omhels in ‘n sagte streling en so “shwiesh” maak wanneer jy dans! Ooooh pragtig!

Wanneer dit by die skets van die ontwerp kom werk elkeen ook anders. Party ontwerpers gaan dalk vir jou een skets maak en jou dadelik kwoteer op dít en ander gaan dalk vir jou twee of drie sketse maak en later stuur. Dit is maar net hoe ontwerpers se style van werk verskil en hoe hulle deur die proses gaan.

My belangrikste raad is om die ontwerper ook toe te laat om groot te droom en vir jou iets te ontwerp wat dalk buite jou gemaksone is. Ons mag dalk net ‘n idee kry wat jou pragtig gaan laat lyk. Ons beste rokke is gewoonlik daardie waar ons ‘n kans kan vat en iets anders en besonders kan maak en ons geniet dit.

Volgende keer vertel ek jou meer oor die probleem met die goedkoop Chinese rokke en hoe dit bruide se keuses en die mark vir trourokke in ons land beïnvloed. Ernstige goed, so kry ‘n koppie koffie en sit reg, want jy gaan weg stap as ‘n ingeligte verbruiker.

 


 

 

Diensverskaffers:

Fotograaf: Claire Thomson Photography