Hoe om jou trou venue te kies?

venue_0002


Marlé van Someday Soon gee vandag vir MOOI volgers die perfekte advies wanneer dit kom by die keuse van ‘n trou venue. Die venue is beslis die eerste en belangrikste item om af te merk op die troulysie. Dit vorm die basis van die hele troue en moet dus sorgvuldig gekies word.  Die verloofdes moet eerstens ‘n gastelys opstel om die aantal gaste te bepaal en kan só die begroting uitwerk en besluit watter venue die beste geskik is.

Tweedens moet hulle besluit oor dit wat vir hulle belangrik is vir die troudag. As die paartjie van die natuur hou en buite wil trou, sal dit ideaal wees om n venue te vind wat hierdie opsie bied. Die gevoel van die troue moet die paartjie direk reflekteer omdat daar niks mooier is as n gelukkige en GEMAKLIKE bruid en bruidegom nie! Kies dus ‘n tema wat jul as individue en paartjie verteenwoordig.  Die venue, asook al die ander trou-elemente, sal met tyd en beplanning perfek hierby inpas.


 

venue_0001


Begin deur n kortlys te maak van venues wat jul tema, styl en begroting pas. Besoek die venues, aangesien foto’s misleidend kan wees. Neem ook n kamera saam , sodat jy later die voor- en nadele teen mekaar kan opweeg.

Vra vrae, hoe meer inligting jy het hoe makliker is die finale keuse. Voorbeelde sluit in:

–          Wat is ingesluit in die pakket? Bv. verblyf, die opstel van die saal, kelners, tafels, stoele, eetgerei, breekware. Kry ook die getalle van die beskikbare items.

–          Wat is NIE ingesluit in die pakket nie? Hierdie is net so belangrik! Dit mag dalk klein goedjies wees, maar kan later in ‘n aardige bedraggie ontaard.

–          Het die venue ‘n voorkeur-verskaffers lys? Hierdie verskaffers ken die venue en het n goeie verstandhouding met die personeel. Dit vergemaklik die beplanningsproses baie.

–          Hoe lank is die venue beskikbaar? Baie venues laat meer as een troue per naweek toe, ander verkies weer net een per naweek. Dit speel n groot rol by die opstel en afbreek van die troue en beinvloed die arbeidskostes van die verskaffers.

–          Is daar ‘n koördineerder op die dag? Alhoewel dit ‘n ekstra uitgawe is, is dit definitief die moeite werd. Geen bruid moet bekommerd wees of die kerse aangesteek is en of die verskaffers betyds is nie.

–          Waste ander kostes/inligting moet jy in ag neem? Voorbeelde hiervan is “corkage”  en die oortyd-bedrag.

Laastens is dit belangrik dat jy en die venue-bestuurder  goed oor die weg kom, jy gaan immers ‘n paar maande met hierdie persoon gesels oor jou grootste dag.

venue_0002


Krediet:

Artikel geskryf deur Someday Soon