Wat as dit reën op jou troudag?

Almal beplan ‘n prentjie mooi sonskyn dag vir hulle troue, tensy jy ‘n Winter troue beplan of in seker dele van die land in die Somer trou en jou area kry Somer reën.  Hierdie artikel gaan spesifiek oor die oomblik wanneer jy dink die weer gaan sonskyn wees en nou reën dit.

Daar is niks meer stresvol as wat jy dinge op die dag van jou troue moet begin rond skuif weens die weer wat ewe skielik verander het.  By Mooi Troues glo ons daaraan om altyd ‘n Plan-B gereed te hê, maak nie saak hoe goed jy die area ken of hoe mooi die weer is in die area daardie tyd van die jaar nie.  Ons praat hier van die natuur en alles is moontlik, tot wat vir ons as mens onmoontlik lyk.

‘n Paar punte van advies wat ons kan gee:

Gesels met julle koördineerder:

Indien jy ‘n trou koördineerder het, gesels met die persoon oor die moontlikheid van reën of ander redes dat daar ‘n Plan-B moet wees … Maak seker dat Plan-B wel uitgevoer kan word sonder enige vertragings op die dag van julle troue.  Byvoorbeeld: Julle troue se seremonie buite op ‘n pragtige grasperk tussen die berge, maar dit begin liggies druppels val, maar julle Plan-B was om in die Kelder van ‘n boetiek wynlandgoed die seremonie of onthaal te hou, maar nou is dit nog vuil en modderig binne die kelder.  So dit gaan veroorsaak dat alles laat gaan verloop.  Die koördineerders moet seker maak die area is wel skoon en semi-gereed om vinnig te kan inrig, sonder te veel drama.

Dit hang af watter opsie jy gekies het by jou koördineerder en watter beplanning hulle deel is van en nie.  Indien hulle met die diensverskaffers ook te doen het, kan jy sommer die onderste punte ook lees en met jou koördineerder bespreek of direk met die diensverskaffers.

Selfdoen troues:

Wanneer dit kom by selfdoen troues is daar bietjie meer werk as wat jy ‘n koördineerder het, maar ook nie soveel meer as jy wel ‘n plan van aksie in plek het nie.  Dit gaan alles oor jou beplanning tegniek en of jy vooraf dinge beplan en strategies bymekaar gehou het.  Ons het ‘n 12 maande beplanning opvolg artikel reeks gedoen as julle meer wil lees daaroor.  Die volgende paar punte is baie belangrik en dit is ‘n paar van die dinge wat ‘n impak sal hê op hoe jou dag sal verloop indien die weer wel verander.

Waar gaan jy jou foto’s en video neem?

Hierdie is seker die tweede mees stresvolste punt as jy ‘n buite troue het óf binne troue het en buite wil foto’s neem sal dit jou nommer een stres wees. Waar om jou foto’s te neem as dit reën of erger, ‘n effense storm is.  Dit is baie belangrik om ‘n fotograaf te gebruik wat genoeg ervaring het en die stres kan hanteer van ‘n laaste minuut verandering in die skedule en of plek waar die foto’s geneem kan word.

Die beste is om ‘n afspraak met jou fotograaf te reël en die moontlikhede met hom/haar te bespreek.  Gesels oor dit asof dit gaan gebeur.  Vra advies van jou fotograaf en hoor watter advies hy/sy het.  Onthou: Fotograwe neem met lig en as die lig nie voldoende is of by die fotograaf se fotografie styl pas nie, dan is daar ‘n probleem indien julle nie vooraf met die fotograaf reëlings maak nie.

Indien jou fotograaf al voorheen by die venue waar jy troue geskiet het, vra of hy/sy vir jou idees kan gee waar julle moontlik nogsteeds die fotosessie op die dag kan doen, in ‘n area waar jy nie sal nat word nie.  As jy naby genoeg aan die venue of area waar jy gaan trou woon is dit beter om die venue in persoon self te gaan besoek.  Wees op die uitkyk vir alternatiewe opsies waar jy foto’s kan neem indien dit op die dag bietjie onweer is.  Kyk na beskutte area’s wat nogsteeds dalk buite is en mooi is vir foto’s maar waar daar nie direkte reënval sal wees nie.

Jy kry wel paartjies en fotograwe wat baie avontuurlustig is en wel in die reën sal skiet.  Dit is verskriklik mooi, maar maak seker dat almal betrokke dan wel deel sal wil wees met die avontuur.  Die fotograaf se toerusting sal nie nat kan word nie, want dit het elektroniese komponente wat kan beskadig as dit nat word.

Ons dink die belangrikste is kommunikasie.  Maak seker jy kommunikeer met jou fotograaf voor die tyd sodat hy/sy weet wat om te vervang indien dit onweer is, sodat jy nogsteeds mooi foto’s kan kry en nie later spyt sal wees nie.

Buite Seremonie & Venue:

Meer paartjies begin buite troues te hou.  Wat is dan nou lekkerder as ‘n troue onder die bome, tussen die berge of onder die sterre.  Dit klink idillies en word baie gedoen, maar as dit onweer is, sal jy definitief aan ‘n ander plan moet dink en jy wil nie op jou troudag hieraan dink nie.

Wanneer jy jou seremonie area en venue boek en dit is wel buite, maak seker jy vra jou venue watter opsies hulle tot beskikking indien dit onweer is.

Maak ook seker dat die opsies wat hulle sê wel gedoen kan word en gereed kan wees as ‘n Plan-B op jou troudag sonder om te veel tyd op te neem.

In Kort:

Kommunikeer met jou koördineerder, venue, fotograaf en ander diensverskaffers voor die tyd en beplan ‘n Plan-B klaar vooraf, sodat jy nie die reëlings op die dag van die troue hoef te beplan nie en rond hardloop nie.  Werk ook twee tydlyne uit; Een vir die gewone beplanning en dan een vir Plan-B, sodat jy sommer op die dag net vinnig oorskuif na die volgende plan, sonder om in ‘n histerie te gaan.  Plan-B is jou ekstra plan, indien iets skeef loop met Plan-A.  Dit is om te verhoed dat jy onnodig oor stres word op jou troudag en dinge skeef loop en jou dag bederf word.

Artikel Krediet:

  • Advies:  Mooi Troues
  • Artikel foto’s: Okay Dear 
  • Profiel foto: Go Urban Photography