Rohan & Leana se lieflike verlowing fotosessie

Die verlowing fotosessie van Rohan en Leane merk al die boksie af.  Eers het die paartjie by ‘n groot Bougainvillea plant poseer en die Pienk blommetjies is net so ongelooflik mooi in die foto’s.  Die tweede plek het die paartjie uitrustings verander en op ‘n strand gaan poseer.  Ons by Mooi Troues is absoluut dol oor die kontras van die agtergronde en in geheel kan ons sien Rohan en Leana is so verlief dat hul nie eens ongemaklik geraak het voor die kamera nie.  Geniet hul verlowing fotosessie hier onder.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Ek was ‘n 3de jaar onderwysstudent  wat my boer in 2015 in Langebaan ontmoet het.  Ek was onmiddellik smoorverlief op die blou oog man.  Die verliefdheid en liefde het nog nooit ophou groei. Ons is albei plat op die aarde mense met omgee harte. Ons is opreg en weet wat ons uit die lewe wil hê.  As ek Rohan in een woord kan opsom is dit “Liefde”.

Vertel ons meer hoe julle verloof geraak het?


Rohan het my omtrent verras.  Hy het my weggevat vir my verjaarsdag naweek na Gordonsbaai.  Ons het die Vrydag gaan uiteet, na die ete wou hy kamstig fotos neem by die hawe.  Toe ek my handsak neersit en omdraai toe gebeur die spesiaalste ding ooit- my droom man gaan op een knie en vra of ek sy vrou sal word!  Vriende van ons het alles afgeneem.  Nie net het ek my droom man gekry nie, maar ook my droom ring.  In my ring is gegraveer ‘Liefde is alles”

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Vir ons maak die see, water, sand, rotse, Jesus se handewerk die heel mooiste fotos.  Dit was nie vir ons iets waaroor ons getwyfel het nie, dit was van self sprekend.  Rohan is ook mal oor die see en is op sy gelukkigste op of langs die see.  Hy is ‘n regte see-kind. Ons was gelukkig om die perfekte sonsondergang te kry vir uitstekende lig.

Wat het jul laat besluit oor die verlowing fotosessie?


Ons gaan die fotos gebruik as deel van ons programme wat ons die dag op die troue gaan uitdeel.  Daar kom ook ‘n baie groot foto op ‘n esel by die hek van ons venue.  ‘n Verlowing fotosessie redelik naby aan jou troue maak die opwinding soveel meer, ek sal dit definitief aanraai vir almal.  Die manne besef nie altyd dat die tyd al hoe minder raak na die troue, Rohan het beslis na die fotosessie ook begin opgewonde raak.

Vertel ons meer wat het jul ingedagte vir jul droom troue?


“Liefde is alles”

Die woorde in my ring, die slagspreuk van ons troue.  Ons droom is dat almal die dag liefde sal ervaar en uitstraal.  Dat almal ons geloftes aan mekaar sal feesvier.  Ons trou by die asemrowende Forest Hall Estate waar alles prentjie mooi beplan is.  My droom man, my droom ring en ons droom troue is nou net ‘n paar dae weg.

Diensverskaffers