Julian & Simoné se verlowing fotosessie in die natuur

Ons by Mooi Troues kan agterkom dat die mooi paartjie Julian en Simoné weet wat hul wil hê as natuurliefhebbers en ons is bly dat hul besluit het om hul verlowing fotosessie in ‘n Botaniese Tuin te hou.  Simoné het ook pragtig gelyk in ‘n blom patroon rokke wat dié hele fotosessie net so mooi afgerond het.  Hul fotograaf vir hul verlowing fotosessie was Mooi Troues adverteerder Soif de Virve Photograpy en die paartjie deel met ons lesers die belangrikheid om gemaklik te raak met jul gekose fotograaf voor die troudag.  Hulle wil die foto’s gebruik vir hul aanlyn trou webtuiste en ons by Mooi Troues is erg opgewonde om te sien hoe hulle troue lyk en moontlik kan ons Julian en Simoné se troudag ook met ons lesers binnekort deel.

Hoe het julle ontmoet?


Ek en Julian ken mekaar al vandat ons tjokkertjies is.  Ons was altyd bewus van mekaar so tussen sport, skool en Voortrekkers.  Die Here het ‘n snaakse manier om mense wat jy vir jare ken op die regte tyd, op die regte manier aan jou van voor af voor te stel.  Vroeg in ons universiteit dae het ons vir die eerste keer alleen begin kuier en dis toe waar die “betowering” gebeur het.  Ons het mekaar van vooraf ontdek.  Ons het besef dié is ‘n vriendskap wat verewig gaan hou.

Hoe het julle verloof geraak?


Julian het vir ons ‘n naweek weg geboek vir sy “verjaarsdag”.  Ek wou nog altyd Bali toe gaan, daarom het hy ons ingeboek by ‘n “Bali geïnspireerde” gastehuis in Hartebeespoortdam.  Ons het vir ons 1 maand herdenking by Hartebeespoortdam se kabel karretjies opgegaan, so vir ons is dit ‘n spesiale plek.  Julian het ‘n staproete gekry wat ons tot bo op die berg vat waar hy vir ons’ n heerlike piekniek uitgepak het.  Daar het Julian vir my die mooiste brief gelees waar hy aan die einde op een knieg neer gebuig het en die groot vraag gevra het… En natuurlik het ek Ja gesê.

Inspirasie vir fotosessie


Ons is groot natuurliefhebbers dus het ons geweet die fotos moet iewers in die natuur wees.  Ons het besluit op Pretoria Botaniese tuin.  Verder het ons dit oorgelaat aan Jana-Minette se inspirasie en sy het ons totaal verstom.

Die idee agter die verlowingsessie was definitief vir ons om die fotograaf beter te leer ken en ook gemaklik te raak met haar.  Ons gaan ook die fotos gebruik op ons webtuiste.

Vertel ons meer oor jul ideale troue


Ons idee van ‘n droom troue is ‘n dag vol liefde waar ons ten volle God se liefde en die liefde van ons familie en vriende kan ervaar.  Ons is geseënd om ons troue op ‘n familie plaas te kan hou, waar ons in God se natuur is en omring word deur ons vriende en familie.

Diensverskaffers: