Ulrich & Angelique se mooi troue

Die troue van Ulrich en Angelique het vreeslike mooi elemente in wat ons by Mooi Troues opgewonde maak om dié paartjie se troue met ons lesers te deel.  ‘n Prettige en ook lekker element van spookasem was gebruik in die fotosessie, dit is verseker die eerste keer wat ons so oulike idee sien.  Dit bring die kinderlikheid na vore en soos Angelique ons onder vertel het die fotograaf Ulrich baie gemaklik laat voel wat gesorg het vir prettige foto’s wat hul met hul nageslagte kan deel.  Die Origamie Voëls en Blom patroon van die strooimeisies se rokke het so ongelooflik mooi met die natuur van die opelug seremonie area gewerk.  Ulrich en Angelique vertel ons ook dat hul sommer vroeg besef het hul oorspronklike begroting van R120 000 is te min en hiermee wil ons Mooi Troues se lesers aanmoedig om deeglik huiswerk te doen oor verskillende diensverskaffers se pryse om teleurstelling te vermy …  Nie te min weet ons jul sal nie teleurgesteld wees met Ulrich en Angelique se troufoto’s hier onder nie, so rol af en geniet elke oomblik daarvan.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


12 Mei 2018 en Angelique was 24 en Ulrich 27

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons was beide finale jaar studente by die Universiteit van Pretoria (UP) en beide van ons het daai jaar in ‘n Kommune gebly in Brooklyn.  Heel toevallig was die 2 huise langs mekaar (met ‘n hekkie tussen in), so het ons bure geword toe hy daar intrek.  Die kommune waar ek (Angelique) gebly het was ‘n dames-kommune en die een waar Ulrich gebly het was ‘n mans-kommune.  Die dames se huis het ‘n swembad gehad en die mans het al te graag in die somer kom swem.  So het ons storie daar langs die swembad begin.

Hoe het julle verloof geraak?


Ulrich het my verras met ‘n langnaweek in die Kaap – tot die aand voor ons gevlieg het, was ek vas oortuig ek gaan vir werk Kaap toe (hy het so met my werk se bestuurder gereël).  Hy het my na een van ons gunsteling wyne se wynplaas toe gevat, Babylonstoren, waar ons na die wyn proe bietjie die plaas gaan verken het, so het hy my gelei tot by die plek waar hy op sy knee gegaan het en my gevra het om sy vrou te wees.  Dit was onder die mooiste, groot ou boom met ‘n  swaai wat uitgekyk het oor die wingerde.

Vertel ons meer van jul ringe.


My ring is ‘n oorspronklike ontwerp deur Marion Rehwinkel en Ulrich.  Ek was van die eerste keer wat ek haar werk gesien het, verlief op Marion se “vintage-moderne” styl, en hy het dit en ‘n paar ontwerpe waarna ons saam gekyk het saam gesit in een ring.  Ek was stom geslaan toe ek die ring vir die eerste keer sien-ek het nog vir hom gesê “hoe mooi” die ring is voor ek die “ja”-antwoord gegee het.  Dit was net perfek – ek sou nooit self kon droom dat die ring so sal lyk nie, maar dis alles wat ek wou hê.

Ulrich se ring was baie simplisties, presies wat hy in ‘n ring wou gehad het, dit is dof-gemaakte wit-goud aan die buitekant met ‘n roos-goud senter om by my ring aan te skakel. Ek het dit presies volgens sy spesifikasies by VDB Jeweler’s laat maak.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Die fotograaf was een van ons moeilikste besluite, dit is iets wat baie geld kos, maar dis ook die laaste ding wat mens wil afskeep.  Ons het wel na ‘n lang soektog en uitdun sessie besluit op Bahama Burgundy, sy was oorspronklik voorgestel deur ‘n vriendin wat net ‘n paar maande voor my haar gebruik het vir haar eie troue.  Haar fotos spreek vanself, maar haar persoonlikheid agter die kamera was ‘n fees, Ulrich hou niks van fotos neem nie, maar Charné en haar tweede fotograaf, Shanay Greene, het hom op sy gemak gehad, hulle was so energiek en vol komplimente, albei van ons het die fotosessie ongelooflik baie geniet.

Die videograaf het ons raak gesien op Harmonie Proteas se Facebook blad, so het hulle toevallig ‘n kollega van Ulrich se troue afgeneem, en ons het baie gehou van hul styl en die kollega kon hulle aanbeveel, so ons het nie eers 2 keer oor hulle gedink nie.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons het eers op ‘n internet soektog gegaan en Harmonie Proteas raak gesien, dit het ons onmiddellik vasgevang.  Dit was slegs die tweede venue wat ons besoek het, ons het onmiddellik geweet dis waar ons wil trou, nie net oor die pragtige Protea plaas nie, maar die hele atmosfeer wat die venue geskep het, dis formeel genoeg, sonder dat dit ‘n stywe gevoel afgee.  Dit het ook die styl van ons dekor baie gekomplimenteer.  Die feit dat dit ‘n opelug kapel gehad het, het ons ook baie aangetrek, ons wou definitief buite in die natuur trou.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons visie van die begin af was ‘n “rustiek” maar tog ‘n klassieke, romantiese styl, met ‘n kombinasie van elemente (bv, hout, koper en dan die blomme & blare).  Ons wou ‘n warm en kalm gevoel skep met die dekor.   Ons wou ons hê dat ons persoonlikhede in die dekor uitgebeeld word.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het oorspronklik so R120 000 begroot vir die troue, en kan nie se dat ons regtig streng volgens ‘n begroting gewerk het nie, want halfpad deur het ek besef hoe baie ek onder-begroot het en hoe baie goed ek nie in berekening ingebring het nie.  Ons het ‘n hele paar rand oor die begroting gegaan op die ou end, en dan het ons nie eers die duurste van die duurste gehad nie.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Ons sal definitief sê; Minder is meer.  Die dae van oorboord gaan op troues is iets van die verlede.

Mens kan nie alles by ‘n troue doen wat in die mode is nie.  Kies wat vir julle as paartjie die belangrikste is, en doen/kry dit.  ‘n Troue is ook nie ‘n kompetisie nie, doen wat by julle persoonlikhede as ‘n paartjie pas en belangrikste, wat julle kan bekostig.

Dis nooit te vroeg om goed te reël of te doen nie, hoe vinniger dit uit die pad kom, hoe beter.  Die doel moet wees om die week voor die troue net te kan ontspan, emosioneel voor te berei, dalk jou toesprake ens te skryf en vir die wittebrood te pak.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Dis moeilik om net een oomblik uit te sonder op ‘n spesiale dag/aand soos ‘n troue, maar ons eerste dans het amper die meeste uit gestaan.  Ons het op Roan Ash se “If I ever saw heaven” gedans, die liedjie was ook ‘n laaste minuut besluit, ons was albei smoor verlief op die lirieke na ons dit die eerste keer gehoor het – dit het ons dadelik aan mekaar laat dink.  Ons gaste het reg-rondom die dansvloer gestaan met vonkstokkies aan gesteek toe ons dans begin.  Die oomblik was so spesiaal en sprokies mooi toe ons styf teen mekaar gedans het, met almal waarvoor ons so lief is, se oë op ons met flikkerende liggies om die oomblik net ekstra romanties te maak

Wat sou julle verander indien moontlik?


Dit is ‘n baie moeilike vraag – die dag was baie naby aan perfek vir ons.  Om die troue te kon reël en self betrokke te wees met elke detail, was vir my baie lekker, ek sou dit nie anders wou hê nie.  Maar om self alles die dag voor die troue en selfs nog ‘n paar goed op die dag te moes doen, was nogal stresvol en daar was net te min tyd oom alles self te kan doen.  Ek sal enigiemand aanraai om indien moontlik, maar ‘n verskaffer of 2 aan te stel om die troudag vir mens self meer stres vry te maak.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons Wittebrood was ongelooflik.  Ons was vir ‘n week weg Mauritius toe, waar ons by die Beachcomber se Le Victoria gebly het, spesifiek by hul “Adult only wing”- Victoria for two.  Dit was die mooiste mooi, ons kamer was stylvol en modern, perfek ingerig vir ‘n Wittebrood, die mense was so vriendelik, die kos ongelooflik, en die strande prentjie mooi.  Ons het so lekker ontspan daar, dit was die perfekte wegbreek na die opwinding wat ‘n troue inhou.  Tydens ons kuiertjie het ons die hotel se spa besoek, ons was ook met ‘n private boot uit vir ‘n dag om die noordkus te verken, daar het ons ook gaan snorkel en pret gehad met dolfyne en ook die hotel se water sporte/aktiwiteite geniet.  Elke aand het ons mooi aangetrek en ‘n romantiese ete op die strand geniet, daar was ook elke aand ‘n vertoning of selfs net iemand wat musiek maak in die agtergrond om die aand mooi af te rond.  Later die nag was daar ook ‘n boma vuur met gemaklike sitplek voor die strand om net nog verder te kan ontspan met ‘n glasie wyn of selfs ‘n koppie koffie en nagereg.

Diensverskaffers: