RP & Surika se Boere-Chic selfdoen buite troue

Die troudag van RP en Surika is versekerlik propvol Boere-Chic inspirasie soos die titel bo lees.  Wat dié troue nóg meer besonders maak is dat die onthaal buite in die opelug was en meeste van die dekor self gedoen is,  as ons by Mooi Troues na die foto’s onder kyk kan ons dit skaars glo.  Welgedaan aan almal wat betrokke hierby was, veral die kandelare wat gespan was tussen die bome!

Cicilia Kaufmann van CK Make-up het die grimering vir al die beeldskone dames gedoen.

Met die dansbaan onder die sterre glo ons daar was behoorlik makietie tot laat die aand.

Rol af en geniet die foto’s van RP en Surika se troudag.

Wat was jul troudatum en hoe oud is jul albei op dié dag?


Die 20ste Januarie 2018 en ons was altwee 22 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons was saam op skool gewees.  Ons is ‘hoërskool liefstes’.

Hoe het julle verloof geraak?


RP het afgegaan op sy knie en die groot vraag gevra in Namibia by die Visrivier Canyon.  Met ons verlowing het ek nie net ‘n ring gekry nie, maar ook ‘n Bybel.  Voorop die Bybel was dit my naam met sy van.  Daar was ‘n boekmerk binne in die Bybel met ‘n gemerkte teksvers, Matteus 19:4-6.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Die eerste kyk, daardie is ‘n ongelooflike lekker gevoel wat baie moeilik is om te beskryf.  Dit is baie lekker om te besef dat almal daar is op die dag om saam ons liefde te vier.

Wat sou julle verander indien moontlik?


‘n Meer toeganklike manier gevind het dat al die gaste moet RSVP.  Na ons troue het ek die volgende boodskap opgespoor wat sê: “As jy nie voor die datum RSVP nie, bring asseblief ‘n toebroodjie en ‘n stoel.”

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


‘n Mens trou net een keer, maak dit soos wat julle wil en moet nie bekommerd wees oor die kommentaar na die tyd nie.  Onthou, smaak verskil en geniet elke oomblik van dit.  Probeer kostes te bespaar deur mense in die gemeenskap te gebruik.

Vertel ons meer van julle ringe


RP het my verloofring self gekies en ek is mal daaroor.  Ek het die The Browns Halo Angel, die ring het ‘n beskermengel – ‘n boodskap van liefde en die gereelde herinnering dat iemand jou lief het.  Vir ‘n troupand het ons net gekyk vir iets wat my verloofring komplimenteer.

RP se ring moes baie prakties wees, omdat hy as boer altyd met sy hande werk, ons het sy ring saam gekies.

Hoe het julle die venue gekies?


Ek was maar nog altyd een vir sprokies, met my kop vol prentjies.  Met Deus Amor Est se bos onder ‘n duisend sterre, kon ons werklik die skoonheid van die omgewing benut.  Deus Amor Est is ‘n sprokiesvenue.  Die bos, die kerk en al die wandelpaadjies deur die bos.  Ons wou ons liefde vir mekaar en ons liefde vir Hom vier.  Deus Amor Est, wat beteken “God is Liefde” was die perfekte agtergrond vir ons bruilof.

Wat was die inspirasie agter julle dekor?


Ons dekor was so eie aan ons.  Op die tafels was daar elemente van rou hout, sement, staal, helder kristalle en vrolike blomme.  Die geometriese vorms het my persoonlikheid as ingenieur goed uitgebeeld en die aardse elemente RP se persoonlikheid, so af van die plaas.  Ons tema was boere-chic

 

Wat was julle begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons doel was om so goedkoop as moontlik te trou, ons het orals probeer spaar waar dit moontlik was.  Meeste van ons dekor het ons self gemaak.  Dit het verseker baie geld gespaar.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


My man het kwotasies gekry vir die Kaap en Bali.  Glo dit of nie, maar Bali was goedkoper.  Ons was Bali toe vir ons Wittebrood.  Ek sal dit definitief vir enige iemand aanbeveel wat van aktiwiteite hou.  Ons is mal oor reis en het toe van die geleentheid gebruik gemaak.

Diensverskaffer