Christiaan & Cindy se troue in die natuur

Christiaan en Cindy se verlowing fotosessie was al gepubliseer op Mooi Troues en ons lesers kan hier klik om daar na te gaan kyk.  Die paartjie het besluit om kostes te bespaar deur net hul naastes en geliefdes te nooi na die troue en so het hulle meer geld gehad om op hul Wittebrood te spandeer.  Hul troue was ook gehou op ‘n familie plaas en daar is nie ‘n venue nie so hul het self ‘n beskutting opgerig en dit het so pragtig gelyk!  Hulle vertel ook dat hul tot vroeg die volgende oggend om die vuur gesit het en sing en gesels het.  Klink vir ons na ‘n baie lekker gesellige troue.  Rol af om te kyk na die mooi foto’s.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


16 Junie 2018 en Christiaan 27 & Cindy 24.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het ontmoet by Christiaan se ex-meisie se 21ste verjaarsdag, nee ek het hom nie afgevry nie, sy was toe alreeds sy ex-meisie.  Christiaan het my meer raak gesien as wat ek hom enigsins raakgesien het ek het inteendeel gedink hy is ‘n “oom” ek was nie gewoond aan ‘n man met so groot baard nie … ek het daai aand ‘n polka-dot rokkie aangehad en vir ‘n rukkie was “die meisie met die polka-dot rokkie” al wat ek vir hom was totdat ons weer ontmoet het by een van sy rugby wedstryde en ek hom toe uiteindelik raak gesien het.  Ek is nie ‘n meisie wat net enige iemand aan my ouers sou voorstel nie, Christiaan het my en my vriendinne toe gaan aflaai by my ma’lle se huis, my ouers het uitgekom en hom te gretig ingenooi vir koffie (ook iets wat hulle nie sommer sal doen nie), ek was eers ongemaklik met die idee en toe besef ek die koeël is deur die kerk.

Hoe het julle verloof geraak?


Omdat ek geweet het Cindy het nog nooit gevlieg nie en nog altyd wou Kaap toe, het ek geweet dis die ideale idee.  Ek wou tog dat sy saam my uitsien na ‘n tydjie weg, en daarom het ek vir haar vertel dat sy saam my moet Kaap toe vir werk.  Heel opgewonde maar tog hartseer dat sy vir werk die eerste keer moet Kaap toe pak ons ons tassies en vertrek.

My plan was om haar op die vlug te vra, maar toe raak die oomblik te groot.  Voor ons op die vliegtuig geklim het, het iemand aangebied om van ons ‘n foto te neem.  Ek was toe oortuig dat dit nou of nooit is.  Ek gaan toe op my knieg en poog toe om haar volle naam uit te spreek, nietemin haar vra om met my te trou nie.

Nadat sy besef wat gebeur, en so deur my hakkel en haar gelag, se sy toe JA!

Vertel ons meer van jul ringe.


Ons altwee het gekoop wat ons dink die ander een van sal hou en eerlikwaar na n lank gesoek het ons altwee die spyker op die kop geslaan.

Cindy het ‘n 9kt Wit Goud ring met ‘n n Vierkant Snit Diamant met totale gewig van 0,4kt.

Christiaan het n Silwer matafwerking ring.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Christiaan wou niks weet van ‘n Videograaf nie, want dis baie geld wat ons op iets anders kon spandeer.  Cindy het nie nee gevat vir ‘n antwoord nie, en sy kon nie meer reg gewees het nie, want jinne die finale produk is asemrowend.  Johan van J&N Wedding films het my so verbaas met sy professionaliteit,sy kwaliteit werk en sy billike pryse.  Ek sal definitief aanbeveel dat alle bruidspare ‘n videograaf kry veral J&N Wedding films!

Ons fotograaf Alexis,  waar begin mens?  Ons het seker 2 maande gesoek na ‘n fotograaf vir ons troue.  Ons glo vas dat dit een van dié belangrikste aspekte van enige troue is, toe ons op Alexis se foto’s afgekom het, het ons dadelik geweet dat ons van haar wil gebruik maak.  Ons is nie vir ‘n enkele sekond spyt nie!

Haar diens is uit hierdie wêreld uit en haar foto’s …?  Wel dit kan almal vir hulle self sien dat daar min is wat by haar kan kers opsteek …. sy was altyd op tyd en baie georganiseerd.  Ek beveel haar aand vir absoluut almal wat opsoek is na ‘n fotograaf!

Daar is net nie beter nie!  Wat ‘n voorreg om haar nou ‘n vriendin te kan noem!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Vat een dag op ‘n slag en “Hou dit eenvoudig” moenie julle self in die voet skiet om mense te nooi wat eintlik glad nie deel is van julle lewe nie.  Hou die troue klein en gaan op ‘n lieflike Wittebrood dit was die beste besluit wat ons ooit kon maak.

Hoe het julle die venue gekies?


‘n Troue in die natuur met die mense naaste aan ons was nog altyd ons harts begeertes en ons is dankbaar dat dit presies is hoe dit was.  Ons albei is baie sentimentele mense en daarom het ons besluit om op ons familie plot naby Hartbeespoortdam te trou, die seremonie was bo op die berg met ‘n pragtige natuurskone uitsig op Hartbeespoortdam en die onthaal by ons klein Klip Huisie wat ons self gebou het.  Ons is nie noodwendig ‘n paartjie wat ‘n glansryke troue wou hê nie, natuur, lekker mense en mekaar is al wat ons graag wou hê en dan natuurlik was die belangrikste ons belofte aan God en aan mekaar.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ons het gegaan vir ‘n klassieke vintage voorkoms in die bosveld met soveel moontlik liggies.  Boergondië was my gunsteling kleur en eerlik was Christiaan nie veel gepla oor die dekor nie so ek het carte blanche gehad met my idees en vereistes.  Ek glo “minder-is-meer” en het by die reël probeer bly.  Ons was gek oor die eindproduk.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het ‘n groot gedeelte van ons troue self betaal en daarom het ons dit maar so min as moontlik probeer hou.  Ons het streng by ‘n begroting probeer hou omrede hoe meer ons spaar hoe groter was ons wittebrood.  Ons kon op die ou einde met bydraes van ons ouers Zanzibar besoek.  Die troue was in totaal saam met die wittebrood om en by R120 000 wat baie billik was.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Christiaan reken vir hom was die oomblik toe ons by die onthaal ingestap het en dadelik die lekker atmosfeer tussen ons intieme groep vriende en familie kon aanvoel ‘n groot hoogtepunt van die aand.  Vir my is dit moeilik om ‘n hoogtepunt van die aand te kies, want die hele dag was onvergeetlik lekker en spesiaal.  My pappa se toespraak aan my was vir my baie spesiaal en so ook almal anders se mooi woorde en goeie gesindheid.  Ons het so lekker met absoluut al ons gaste gekuier en tot in die oggend ure om ‘n vuurtjie gesit en sing en gesels.  Natuurlik was ons eerste dans ‘n hoogtepunt al het ons al ons danspassies vergeet.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Die koek!!! Ons koek het die oggend van die troue geval, ek het nie daarvan geweet nie, maar dit was toe nou nie meer ‘n prentjie mooi koek nie.  So graag as wat ek dit wou verander weet ek ook nie of ek regtig sou wou nie, ons lag nou so lekker daaroor.  Buiten dit is daar eintlik niks wat ons anders sou wou hê nie.  Ons is ewig dankbaar vir alles wat perfek en nie so perfek was nie, want dit simboliseer wat liefde en lewe is.  Die dag was bo ons verwagtinge.  Sonder ons ouers en ons gevolg se hulp sou die dag baie meer onperfekte goedjies gehad het.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Toe ons die gesprek begin het van ons gastelys sny om ‘n behoorlike wittebrood te kon hou, het ons altwee dadelik gesê ons soek ‘n eiland vakansie.

Ons het altyd gedink dat ‘n plek soos Zanzibar nie ‘n opsie sal wees nie en toe dit ‘n moontlikheid geword het, het toe dink ons nie twee keer nie.

Dit was absoluut die moeite werd, ons was op hande gedra van die eerste oomblik af tot die laaste.  Ons was daar op ‘n ‘alles ingesluit’ pakket en dit was ‘n fees om te eet en te drink soveel as wat jy wil terwyl die son jou stukkend brand.

Daar was oomblikke wat ons te veel geëet en gedrink het wat die wittebrood net meer onvergeetlik gemaak het!

Ons het gesnorkel, “starfish diving” gedoen, saam die dolfyne geswem ander eilande besoek en net die beste tyd van ons lewens gehad.

Zanzibar is definitief wittebrood paradys!

Ons kan nie wag om weer te gaan nie!

Diensteverskaffers