Anton & Danelle se selfdoen Winter troue

Die oulike paartjie Anton en Danelle se troue is propvol inspirasie vir paartjies wat hul troue intiem hou met dekor wat oorloop van hul persoonlikhede.  Anton en Danelle het dinge bietjie anders gedoen deur nie by ‘n gewone trou venue te trou nie, maar deur ‘n gesellige kuierplek uit te boek vir eksklusiewe gebruik.  Dit was ‘n Winter troue en die kleur Boergondië het gesorg vir ‘n snoesige atmosfeer.  Van die foto’s was ook geneem in ‘n kruietuin.  Ons by Mooi Troues weet sommer paartjies wat uit-die-boks dink sal gek wees oor dié troue.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


9 Junie 2018 en Danelle was 29 en Anton 30

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het ontmoet deur ons beste vriende Annilize en Jean Nel.  Anton het ‘n alarm sisteem vir hulle huis gedoen en ek weet nogsteeds nie hoe Annilize geweet het nie maar sy het gedink ons sal ‘n goeie paartjie maak en besluit om cupido te speel.  Hy het by hulle huis aangekom en sonder dat hy weet was ek ook daar.  Aan die begin van die aand was ons albei maar skamerig maar aan die einde van die aand het ons hande vas gehou en die res soos hulle sê is geskiedenis … en nog nie ‘n dag terug gekyk nie.

Hoe het julle verloof geraak?


My suster en Anton het saam gespan om die groot verrassing te reël en dit was verby spesiaal!  Ons sou saam met my suster en haar man gaan eet het by The Tin Roof Café in Pretoria-Oos (een van ons gunsteling restaurante)  Anton laat weet toe dat hy gaan laat wees en natuurlik was ek nie baie gelukkig daarmee nie maar toe ons om die draai kom, sien ek Anton daar staan met ‘n boksie in sy hand en al ons beste vriende en familie was ook daar om die oomblik te deel.  Ek het sommer begin huil van geluk toe ek besef wat nou gebeur en my antwoord was Ja, Ja en nogmaals Ja!

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geduld, geduld en nog meer geduld.  Dit is ‘n stresvolle tyd so emosies loop hoog , moenie bang wees om vir hulp te vra van vriende en familie nie.  Dit moet die mooiste tyd wees in julle lewens so geniet elke oomblik, dit gaan so vinnig verby so neem alles in en respekteer mekaar se idees – dit is tog albei se groot dag!

Vertel ons meer van jul ringe


Ek is mal oor my ring en dink dit pas perfek by my, Anton het presies geweet waarvan ek hou.  Die Roos-Goud pand met Moissanite diamante is ‘n besonderse ring en baie subtiel.  Anton se ring is ‘n Grys en Silwer Sirkonium pand wat baie manlik is maar tog ook sag op die oog.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf was Alexis Muntz en sy was net die beste van begin tot einde. Sy het ons so gemaklik laat voel voor die kamera dat alles net natuurlik gebeur het.  Elke aspek van die troue was so mooi vasgevang, sy het absoluut niks uitgelos  nie. Mens het net jou foto’s oor van jou groot dag so dit was baie belangrik om ‘n goeie fotograaf te kies en ons is so bly ons het vir Alexis gekies.  Sy het so lekker saam met ons gewerk om die beste fotos moontlik vir ons te kon gee, sal haar beslis aanbeveel vir ander paartjies.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons is baie rustige , plat op die aarde mense so ons wou ‘n venue gehad het wat sê – Dis Anton en Danelle uitgeknip.  Die venue is in natuur mooi en het ‘n lekker atmosfeer so die meeste was al gedoen vir ons.  Ons het ook gehou van die industriële maar tog romantiese gevoel en aangesien dit ‘n Winter troue was, was die kaggel in die onthaal area perfek.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons wou dit baie warm en romanties hou met die Boergondië kleur  natuurlik met baie groenigheid tussendeur, die venue het reeds so baie elemente gehad wat ek van gehou het so dit het my eintlik die meeste inspireer.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Absoluut niks, ons het regtig die dag vreeslik geniet.  Dit was net soos wat ons gedroom het dit sou wees.  Ons albei was kalm en soos klein kinders opgewonde!

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons het nie regtig ‘n begroting gehad nie maar het geweet wat ons kan bekostig en met hulp van ons ouers gelukkig.  Dit was vir ons belangrik om nie oorboord te gaan nie maar dit eenvoudig en klassiek te hou.  Anton moes ‘n paar keer die brieke aandraai (hy is die verstandige een in die verhouding) want mens raak oorweldig met al die mooi goedjies en idees daar buite dat dit moeilik was om nie net te begin spandeer nie.  Ek was meeste van die tyd op Pinterest opsoek na oulike idees en het tonne gekry natuurlik maar selfdoen is beslis die manier om geld te spaar, ons het baie van die goedjies self kon maak wat baie geld gespaar het.

Vertel ons meer van jul Wittebrood.


Ek en Anton het besluit om niks definitief te beplan nie en basies te ‘roadtrip’ vir ons wittebrood.  Ons het letterlik in die kar geklim en Oos-Kaap toe gery sonder om enigiets te bespreek , gestop by al die mooi winkeltjies en eet plekke.  Dit was so lekker rustig, net ons twee saam op die lang pad.  Ons eind bestemming was Hole in the Wall in die Transkei, nie een van ons was al ooit daar nie en het net goeie dinge gehoor.  Dit was een van die mooiste plekke wat ons al ooit gesien het, natuur op sy beste.  Elke dag vars seekos geëet en op staproetes gegaan deur die woud, ons het gevoel soos regte hippies.  Dit was die beste idee om nie ons dae te beplan nie want ons het regtig gerus en net mekaar geniet wat baie belangrik is na die groot dag. 

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Dit was toe ons vir die eerste keer as man en vrou saam gedans het op Ed Shereen se Perfect en al ons familie en vriende het rondom ons gestaan met lang vonkel liggies om die pad vir ons helder te maak.  Anton het op ‘n stadium vir my gefluister om rondom my te kyk en te sien hoe mooi dit lyk en hoe baie mense omgee vir ons.  Daardie oomblik was net so spesiaal en onvergeetlik.

Diensverskaffers