Walter & Marnette se troue

Walter en Marnette se troudag was op ‘n plaas in die Breedevallei gevier omring met berge wat vir prentjie mooi foto’s gesorg het.  Hulle het ook die egte plaas gevoel implementeer  om voor ‘n ou Land Rover te poseer.  Marnette se ruiker en die venue se tafel dekor was opgemaak met sagte pastel kleurige blomme wat ‘n skoon en vars kontras teen die ruwe plaas atmosfeer gebied het.  Die wit troukoek was ook versier met sagte pastel kleurige Makrolletjies.  Blaai gerus deur Walter en Marnette se troufoto’s onder en geniet hul spesiale dag.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle albei op dié dag?


14 April en Marnette was 24 en Walter 27

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Deur ‘n vriend van ons albei toe ek in die Kaap begin studeer het in 2012.

Vertel ons hoe het julle verloof geraak?


Ons moes blykbaar iets gaan aflaai het buite Durbanville.  Walter het toe bo op ‘n bult met die mooiste uitsig gestop en my gevra om te kyk op my foon waar die oom bly en terwyl ek daarmee besig was, het hy uitgeklim en my gevra,op sy knieë natuurlik.  Hy het geweet ek sou nie mense om my wou hê as hy die vraag vra nie.  Walter het gereël dat my ouers uit Vredendal Durbanville toe kom om die middag ‘n verassings-ete saam met ons te hê.

Vertel ons meer oor jul ringe


My verloofring het Walter se ouma se diamant in wat dit baie spesiaal maak. My troupand is ‘half-ewigheid antieke styl’.  Alles wit goud.

Walter se ring is titanium wat lig is,en effektief vir mans.

Vertel ons meer oor die fotograaf.


Adele se fotos het dadelik ons aandag getrek deur net die feit dat sy die foto’s  natuurlik hou.  Met ons verlowing fotosessie het Adele ons so gemaklik laat voel.  Foto’s neem is nou nie juis gemaklik vir almal nie.  Adele is baie professioneel in wat sy doen en is dit baie duidelik in hoe sy foto’s neem, dat sy weet wat sy doen en sy het ‘n oog vir wat ‘n mooi prentjie kan maak.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Die aand se verloop was perfek.  Ek sou net graag wou hê die mense moes van die trou koek eet. (Hulle het blykbaar nie geweet hulle mag daarvan eet nie)

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Toe ons mekaar die ringe gee, het die oomblik meer werklik gevoel.  Walter se toespraak het almal geraak en was die hoogte punt van my aand.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Besluit hoe jy jou troue wil hê.  Nie hoe jy dink ander mense daarvan sal hou nie.  Ons het besluit ons wil ‘n lekker kuier troue hê, so ons het nie ons gaste laat voel asof daar n verloop van die aand is nie.   Alles het net gevloei.  Ons seremoniemeester het gesorg dat die mense weet waar gebeur wat.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons wou sentraal trou, wat dit maklik maak vir die meeste van ons gaste- Robertson/Worcester.  Ons het ‘n paar venues gekies en vir die naweek na dit gaan kyk.  Die oomblik wat ons Bergland gesien het,het ons altwee daarvan gehou en net geweet ons sal graag by Bergland wil trou.  Die venue is ‘n lekker kuier venue, pragtige badkamers, ’n lekker kuier-stoep en ‘n groot grasperk waarop mens ook kan kuier of jou seremonie hê, soos ons dit gehad het.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons venue was die mooiste wit ‘doek’, so ek wou dit komplimenteer deur nie te uitspattig te gaan met blomme en versierings nie.  Ek is mal oor die kleur pastel en blare en Walter hou baie van liggies.  Ons het pastel kleur blomme, blare en liggies kombineer.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Om en by R140 000.  Ons het besluit wat vir ons die belangrikste is en rondom dit begroot en gesny aan die minder belangrike dinge.  Ons het boek gehou van alle uitgawes, asook die klein goedjies wat mens dink nie ‘n invloed het nie.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was vir 10 dae Bali toe.  ‘n Lekker eiland vakansie waar ons vir die eerste 3 dae net ontspan het na maande se beplanning en toe die res van die vakansie Bali verken.

Diensverskaffers: