Riaan & Mariska se troudag by The Nutcracker

Riaan en Mariska het hul troudag by The Nutcracker venue in die Vrystaat gehou en hul deel met lof met Mooi Troues se lesers hoe hul op die oulike venue besluit het om hul troudag daar te vier.  Mariska se rok was deur Timeless Bridal Couture ontwerp en sy het absoluut pragtig gelyk.  Ons hou baie van die detail van die rok om die rug.  Die fotos onder vertel ons ook dat Riaan en Mariska smoorverlief is en dat hulle hul troudag vreeslik geniet het.  Rol af en geniet dié paartjie se troue ook.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


24 Maart 2018, Riaan 36 en Mariska 27

Hoe het julle mekaar ontmoet?


‘n Gesonde en aktiewe leefstyl is iets wat baie belangrik is vir my en Riaan. In 2014 was ek reg vir ‘n nuwe uitdaging en dit het gekom in die vorm van Crossfit.  Ek het interessante nuwe mense ontmoet en nie lank nie en toe het hierdie vreemdelinge my vriende geword.   Een van hierdie individue het my laat weet dat hulle my graag wil voorstel aan iemand wat hulle voel perfek by my sal pas.  Ek was immers skepties, maar kort-voor-lank het hierdie man ook by Crossfit aangesluit en ek het myself gevind kort-kort loer vir daai ongelooflike mooi kuite.

 Hoe het julle verloof geraak?


Ek en Riaan het geweet ons lewenspad is in mekaar gevleg, lank voordat hy my gevra het om te trou.  Ek het geweet die ‘groot vraag’ gaan gebeur, maar die oomblik self het my asem weg geslaan.  Ek en Riaan het vir 3 weke die Wildernis gaan verken.  Ons was vanaf die Drakensberge al die pad na die vlaktes van die Karoo al die pad op na die Augrabiese watervalle.  Dit was ‘n avontuur om God se genade en liefde om ons te kan sien elke dag.  Onder die Waterval het Riaan op sy knieë gegaan en vir my gevra of ek vir altyd my lewe saam syne sal deel.  So het ons eie avontuur begin as lewensmaats.

Vertel ons meer van jul ringe


Ek is seker bevooroordeeld, maar my ring is net die mooiste.  Ek het altyd ‘n idee gehad van hoe ek my ring sou wou hê, maar Riaan het my wildste drome oortref.  My ring bestaan uit een groot diamant in die middel en twee kleiner diamante aan weerskante verder is daar klomp klein steentjies wat die trio omsingel.  Riaan se oupa was ‘n reus van ‘n mens nie net in ons harte nie, maar ook in vlees.  Ons was uitermatig baie geseën om sy oupa se ring te kan gebruik.  Riaan se ring is deel van sy oupa se nalatenskap, wie se voorbeeld ons wil laat voortdra in ons huwelik.

Vertel ons meer oor die fotograaf


Ek het nie geweet dit is moontlik om ‘n gevoel vas te vang op kamera nie. Riaan West het my wildste drome oortuig.  Ek het sy werk gesien ‘n ruk gelede en ek het net geweet ek het nodig dat hy my perfekte dag vasvang.  Ek het soveel meer gekry as iemand wat net fotos neem.  Ek het hierdie ongelooflike warm mens met ‘n besonderse talent gehad wat regdeur my so gemaklik laat voel het en rustig gehou het.  Elke ding was gedoen met ‘n glimlag en ons familie en vriende was so beïndruk met hierdie besonderse man.  Riaan West het vir my gewys dat alhoewel die dag vinnig verby is, dat die fotos vir jou nog ‘n leeftyd van glimlagte en liefde kan laat ervaar.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Om ‘n oomblik te kies wat vir my en Riaan voel soos die mees perfekte dag is nie maklik nie.  Die was sonder ‘n twyfel ‘n viering van twee lewens wat saam gekom het onder God se hand.  ‘n Viering saam die mense in ons lewe wat vir ons die meeste beteken.  Die werklike oomblik het wel gekom toe alles rustig raak en ek besef dat ek alles het waarvoor ek ooit God voor gevra het.  Dat die oomblik nie meer net ‘n ideaal is nie, maar ‘n realiteit en dat ons lewe saam smelt en dat liefde net kan seëvier.

Hoe het julle die venue gekies?


Ek het ‘n paar jare gelede van The Nutcracker te hore gekom en die gevoel van die plek het my nooit verlaat nie.  The Nutcracker was altyd op my ‘eendag’-lysie.  Ek en Riaan het besluit om te gaan kyk hoe lyk die plek.  Die span is absoluut fantasties en het ons dadelik gemaklik laat voel en vir ons die geleentheid gegee om die beplanning van ons groot dag so baie te kan geniet.   Met ‘n fenomenale uitsig oor die Vaal Rivier en ‘n atmosfeer van romans het dit nie baie oortuiging benodig nie.  Ons het geweet.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek wou ‘n gedeelte van my en Riaan se eksentrieke persoonlikhede in die dekor invleg.  Omrede ons altyd reg is vir avontuur en alles verkies in die oop lug was dit belangrik dat die dekor baie natuurlik en wild is, dit moet jou die gevoel gee van ‘n vrye gees.   Ons het hoofsaaklik van Proteas en Fynbos gebruik gemaak en om daai romantiese atmosfeer te huisves het ons baie kerse gebruik.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Doen wat vir julle mooi en gemaklik is.  Die dag gaan oor julle twee en die groot belofte wat jul maak aan God voor jul vriende en familie.  Niemand gaan weet as die rooi rose nie deel van die rangskikking moes wees en as die foto-bord dalk op die verkeerde plek is nie.  Jou gaste is daar om die dag saam met julle te geniet.  Moenie te veel geld aan dekor spandeer nie sowel as dankie se geskenkies.  Ek stel wel voor dat jul ‘n goeie fotograaf kry.  Foto’s is vir altyd!

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was so R100 000.00.  Riaan is baie streng as dit kom by finansies, so hy het my mooi intoom gehou.  Ons het net elk een trooimeisie/strooijonker gehad. Ons het The Nutcracker gekies juis omdat die saal/tafels ens baie mooi is.  So was nie nodig om baie op te maak met blomme en dekor nie.  Dit het baie gehelp.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Om in die paradys te kan wees saam jou lewensmaat maak alles net soveel meer spesiaal.  Ons kon tyd kry om te rus en net te ‘wees’.  Ons was sonder twyfel op ‘n avontuur en die keer as ‘een’.  Van snorkel, ski, wake- en paddle boarding tot eiland verkenningstogte.  Ons het alles gedoen.   Dit was ‘n belewenis van kultuur en avontuur in ‘n atmosfeer wat getuig van geluk en liefde.   Om die saam met Riaan te kon doen is wat werklik hierdie Ware Mauritius Styl vakansie in ‘n sprokie vir my verander het.

Diensverskaffers