Corné & Mariné se pragtige Oos-Kaap troudag

Mooi Troues is opgewonde om met ons lesers die pragtige troudag van Corné en Mariné te deel.  Die paartjie het by ‘n venue in Jeffreysbaai, Oos-Kaap deur gehaak.  Die oulik en baie aantreklike paartjie lyk baie gelukkig in hul troufoto’s in die bos langs ‘n rivier en wys Mooi Troues se lesers die potensiaal wat die Oos-Kaap bied vir bestemming troues.  Hoekom sommer nie ‘n hele naweek daarvan maak nie?

Die foto van Corné wat nie die trane kon terug hou toe hy die beeldskone Mariné in die trou-gang sien afloop is ook te kosbaar.  Die kerkie waar die paartjie eg aan mekaar geweer het lyk ook baie mooi.

By Mooi Troues glo ons nie daar hoef verder oorreed te word om tog jul droom dag in die Oos-Kaap te vier nie, indien jy nog huiwer rol af en laat die foto’s jou anders oorreed.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle albei op dié dag?


24 Maart 2018, Bruid 26 en Bruidegom 30

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Mariné was besig met haar finale jaar van studies en het geproef by dieselfde skool waar Corné (destyds) gewerk het.  Corné het toe ‘n braai gereël vir al die jong onderwysers en die res is geskiedenis!

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het die aand by Mariné se gunsteling restaurant (Muse) gaan eet saam met vriende.  Daarna het Corné aangebied dat ons vir ‘n koffie gaan by die Pier (dieselfde plek waar hy Mariné destyds uitgevra het).  Intussen was ons vriende op pad na Corné se huis toe om die rose, kerse, Franse Champagne en Sushi uit te pak.  Toe ons by Corné se huis instap en ek alles raaksien … en toe vir Corné op sy knie … het hy dit reggekry om my onkant te betrap!

Vertel ons meer van jul ringe?


Mariné se ring is roosgoud met ‘n peer vormige diamant.  Corné het spesiaal my ring laat ontwerp sodat my troupant onder die diamant kan inskuif. Corné het ‘n klassieke roosgoud ontwerp (dieselfde styl as ons albei se pa’s sin).

Vertel ons meer oor die fotograaf


Ons twee fotograwe was fantasties!  Hul altwee is so vriendelik en ons het soveel pret gehad tydens ons fotosessie.  Die videograaf is verskriklik talentvol en hy het ons baie gemaklik laat voel.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die dag?


Beslis toe ons mekaar die eerste keer gesien het.  Corné was verskriklik emosioneel toe ek by die kansel afloop en gedurende sy toespraak.  Dit het my onkant gevang en ek moes hard probeer om my trane te sluk.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Probeer soveel as moontlik self doen.  My ma het ons japonne, die blommemeisie rokkie en servette self gemaak en my broer (wat net 16 jaar oud is) het al die hout dekor gemaak.  Dit het ons baie geld gespaar!  Probeer ook alles so vroeg as moontlik bespreek- ons het besef hoe lank voor die tyd verskaffers al bespreek is.  Die belangrikste is om die dag te geniet.  Ek het alles haarfyn beplan, maar ongeag dit het daar nogsteeds goedjies verkeerd geloop.  My ma het my herinner dat niemand weet hoe dit eintlik moet wees nie, so net jy is bewus as iets skeef loop!

Hoe het julle die venue gekies?


Aangesien baie van ons gaste ver moes reis, was akkommodasie op die perseel vir ons belangrik. Mentors Country Estate het oorgenoeg akkommodasie verskaf vir al ons gaste.  Dit het ons toegelaat om dit sommer ‘n lekker naweek troue te hou en ons het alreeds die Vrydag aand saam met al die familie gebraai.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons altwee is mal oor die natuur en die plaas.  Ons wou soveel as moontlik hout dekor elemente inbring en baie groenigheid.  Ek wou ook baie liggies en kerse inkorporeer om ‘n romantiese atmosfeer te skep.  Ons wou dit eenvoudig, stylvol en elegant hou.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons was bevoorreg dat albei ons ouers bereid was om finansieel by te dra.  Natuurlik wou ons ook iets bydra!  Ons begroting was R120 000 en ons het net onder dit ingekom.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


Ons was Mauritius toe vir ons wittebrood en het gebly by Le Méridien.  Dit was ons albei se eerste keer oorsee en dit was onvergeetlik lekker!

Diensverskaffers