Ruan & Anri se selfdoen troudag

Ruan en Anri het ‘n stylvolle, elegante en vreugdevolle troudag agter die rug.  Volgens hulle was dit ‘n besonderse ervaring gewees vol spesiale herinneringe en mooi oomblikke.  Hulle het hulle dekor self verskaf en nie gebruik gemaak van ‘n maatskappy wat hulle ‘n plaas se prys sou vra nie, hulle het baie streng met hulle begroting gewerk.  Gelique het die pragtige strooimeisie rokke gemaak.  Hulle het perfek by die kleur skema gepas en dit was prentjie mooi gewees.  Hierdie paartjie gee ‘n paar wyse wenke oor mens se troudag.  Hulle noem dat ‘n mens vriende wat onlangs getroud is se advies moet neem en by julle besluite moet hou.  Hulle voel dat mens nie moet toelaat dat vriende of familie julle keuses en besluite beïnvloed nie.  Hulle stel voor dat mens uiters versigtig moet wees vir onvoorsiene uitgawes en om seker te wees wanneer julle ‘n kwotasie kry, julle weet wat is ingesluit en wat nie.   Ons hoop julle geniet die res van die artikel.

Julle troudatum?


Ons troudaum was 7 Julie 2018, maar daar is ook ‘n storie agter dit. Die 7 de Julie is vir ons kosbaar omdat dit die herdenking is van die dag wat ons begin uitgaan het. Toe ons oorspronklik navraag gedoen het vir die dag by Bell Amour, was die datum reeds bespreek. Ons het die venue besoek en bespreek vir die 15de Desember 2018.  Anri se ma het in Maart ons laat weet, sy sien Bell Amour het weer die 7de Julie beskibaar.  Ons het dadelik al ons verskaffers gekontak en net so was die datum vervroeg met 161 dae!

Ouderdom van paartjie op troudag?


Ruan (27) & Anri (23) alhoewel ons eintlik net 3 jaar verskil.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Anri het net by haar ouerhuis te lande gekom om haar Junie-Julie vakansie te begin tydens haar 4de jaar. Arno, Anri se broer het vir haar versoek om saam met hom kerk toe te gaan. Arno het Anri se nuuskierigheid geprikkel toe hy vir haar noem dat daar iemand is wat hy glo sy sal wil ontmoet. Ons het mekaar ontmoet daardie sondagaand voor kerk, mekaar weer raakgeloop die dinsdag by selgroep, net ge”kliek”. ‘n Hele week later was die eerste “date”, en daarna was die koeël deur die kerk!

Hoe het julle verloof geraak?


Dit was ‘n vroëe wintersoggend op ‘n suidkus strand. Daar was kerse gepak en letters in die sand, gepak in die woorde; “trou met my”. Ruan het af gegaan op een knie en die groot vraag gevra. Ons was gelukkig genoeg dat Anri se ouers en haar broer die groot oomblik kon meëdeel.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?

Die merkwaardigste oomblik vir Anri was toe sy in die gang af stap, en sy vir Ruan voor in die kapel sien staan met traan in sy oog, met die wete dat Ruan haar man gaan word. Vir Ruan was dit toe die deure van die kapel oop gaan, en Anri kom afgestap in die gang, toe Anri se pa, Eric haar oorgee aan Ruan in die kapel, en laastens elke keer wat iemand die bruidspaar aangespreek het as Mnr en Mev Dekker

Vertel ons meer van jul ringe.


Beide Anri en Ruan se ringe was laat maak. Die inspirasie vir Anri se verloof ring se stilering het gekom van pinterest af. Ruan en die bruid se ma, Ronell, het ‘n hele paar juweliere besoek en besef dat nie een 100% aan die vereistes voldoen nie. Ruan het met al die pins en fotos, ‘n juwelier in Durban Noord genader. Die diamante is familie stene, geskenk deur die bruid se ouma. Anri se pant was deur Ruan gekies, en is deur ‘n juwelier in Pretoria gemaak. Dieselfde juwelier het Ruan se ring gemaak.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Anri het Chantelle van der Merwe fotografie op Facebook ontdek, en besef haar styl was PRESIES wat ons wou hê. Ons het haar ontmoet met die verlowings-sessie, en ons was onmiddelik op ons gemak. Sy is ‘n vriendelike, spontaan en ongelooflike talentvolle fotograaf. Oorspronklik het die begroting nie toegelaat vir videografie ook nie maar op al ons getroude vriende se aanbeveling het ons plan gemaak. Die videografie span was op aanbeveling van Anri se grimeerkunstenaar. Na die voorstel het Anri hulle gaan opsoek op sosiale platvorms. Sy was mal oor hulle styl.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Aan die sprokiesbruilof is daar werklik bitter min wat ons sou anders doen! Die dekor en blomme was iets besonders. Een ding wat ons beslis sal oorweeg om te verander, is om die troue vroëer te begin. Die dag gaan ongelooflik vining verby en almal waarsku mens voor die tyd, en ons gaan dit ook sê. Suiwer elke oomblik, voor jy jou oë uit vee is dit verby! Oja, en voor ons vergeet, vat ‘n oomblik om te eet, of laat iemand vir jou ietsie in pak om te eet vir later.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Die begroting was vasgestel met behulp van ‘n baie in-diepte Excel-spreadsheet. Ons het die begroting ingevul en gesien dat ons eindbedrag net kort van R130000 draai. Ons het deur baie van die take self te doen, ‘n total van R24205 gespaar op die begroting, wat toegelaat het vir die videograaf, ekstra blomme vir die dekor, water vir die diens in die kapel, ekstra hout vir die boma by die kamers, ekstra drankies tydens die canapés en horlosies as trougeskenke aan mekaar.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ons het van die begin af geweet ons wil die dekor eenvoudig maar elegant hou. Ons het besluit op groenigheid, en silwer met kerslig. Ons het inspirasie vir baie van die elemente op pinterest gekry.

Hoe het julle die venue gekies?


Anri wou aanvanklik in ‘n wingerd of ‘n woud trou. Ruan se vereistes was eenvoudig… Akkommodasie op die perseel en GEEN grasdakke nie. En laastens, hoe nader die venue aan Pretoria is, hoe beter in terme van gerief. Bell Amour het aan al ons vereistes voldoen, en toe ons eers die venue sien, het beide van ons ons harte verloor.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Besluit watter elemente belangrik is vir julle, en begroot eerste vir dit. Daarna is die ander goedjies net bysake! Stel vas wat julle self kan doen, nie net spaar dit die paartjie vrek baie geld nie, maar dit laat toe vir daardie persoonlike stempel op alles. Neem vriende wat onlangs getroud is se advies en laastens, hou by julle besluite. Moet nie dat vriende of familie julle keuses en besluite beïnvloed nie. Wees uiters versigtig vir onvoorsiene uitgawes. Maak seker wanneer julle ‘n kwotasie kry, julle weet wat is ingesluit en wat nie.

Vertel ons meer van jul Wittebrood


As gevolg van die feit dat beide van ons weer Maandag by die die kantoor en hospitaal moes aanmeld, het ons besluit om Desember tydens Anri se vakansie op ons wittebrood te gaan. Ons gaan in Desember vir 2 weke deur Europa toer vir ons wittebrood.

Diensverskaffers: