Gideon & Marlene se troudag by Allesverloren

Gideon en Marlene het besluit om in die Riebeek Vallei, Swartland in die Wes-Kaap by die beeldskone wynplaas Allesveloren die knoop deur te hak.  Hulle het hierdie wynplaas spesifiek gekies weens die feit dat die lokaal self nie groot hoeveelhede dekor elemente benodig nie en die woud waar die seremonie sal plaasvind, sprokiesmooi vertoon.  Hulle het baie natuurlike eienskappe in hulle dekor en versierings ingebring wat die troudag ‘n natuurlike aardse tema gegee het.  Die woestyn rose gesamentlik met die hout effek wat deurspoel by die dekor het die eenvoudigheid van hierdie geleentheid beslis beklemtoon en geaksentueer.  Wees seker om te sien hoekom Allesverloren verseker ‘n pragtige plek is om jou spesiale dag deur te bring.  Lekker lees.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié datum?


Ons het 21 April 2018 gekies as ons troudag en ons is albei 30 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het mekaar die eerste keer ontmoet in 2007 by ‘n rugby wedstryd in die Kaap.  In 2009 loop ons mekaar weer raak in Stellenbosch.  Ons het besluit om kontak te behou en het van toe af gereeld gesels.  Ons vriendskap het net sterker geword en op ‘n dag het ons besef dat ons eintlik mal verlief is op mekaar.  Op 21 April 2010 begin die romanse amptelik.  Baie jare het gevolg met ongelooflike goeie tye en soms ook baie moeilike tye maar 8 jaar later word ons droom waar en trou beste vriende met mekaar.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het vir die naweek Yzerfontein toe gegaan.  Ons het die Vrydag aand daar aangekom toe dit reeds donker was.  Terwyl ons op die dek gesit en ‘n drankie geniet het is Gideon kamer toe om glo ‘n geskenkie te gaan haal wat hy vir my gekoop het.  Toe hy terug kom het hy gesê ek moet my oë toemaak en my hand uithou.  Ek het opgestaan met toe oë en al.  Die volgende oomblik staan hy op sy knieë en vra die groot vraag.  Ek kon nie die ring in die donker sien nie maar het baie vinnig ja gesê.

Wat is die merkwaardigste oomblik van die dag?


Definitief toe ons mekaar vir die eerste keer sien terwyl ek saam my pa in die paadjie afloop.  Ons kon nie ophou glimlag nie.

Vertel ons meer van jul ringe


Gideon het my ring spesiaal laat maak.  My ring is van Platinum.  Dit is ‘n “Cushion cut diamant” in ‘n stralekrans posisie.   Gideon se ring is van Tungsten.  Dit is ‘n grys/silwer kleur en die binnekant is roosgoud.

Wie was jul fotograaf en videograaf gewees?


Ons fotograaf was die ongelooflike talentvolle Clinton Stoltz (Pure Image Photography). Op die dag het Clint ook hulp gehad van sy net so talentvolle assistent Karen.  Clint het ook ons verlowings fotos geneem so ons het geweet dat ons trou fotos iets besonders sal wees.  Hy laat jou so gemaklik voel en het regtig ‘n gawe om die beste oomblikke vas te vang. Ons trou fotos is ongelooflik mooi en spesiaal en iets wat ons vir altyd sal bewaar.  Ons videograwe was Boland Weddings.  Markus (hoof videograaf en ook eienaar van Boland Weddings) is ‘n baie aangename mens en baie passievol oor sy werk.  Ons was net so gemaklik voor die videograwe en het soms vergeet dat hul besig is om videos te neem.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Ek is mal oor die rustieke voorkoms en het baie idees op Pinterest gekry.  Op die ou end het ons besluit op rustiek maar elegant.  Ons wou dit natuurlik en gemaklik hou en dat dit inpas by die venue self.  Ons trou kleure was Vlootblou en Vuil-Pienk en ons blomme was Proteas, Fynbos en Woestynrose.

Hoe het jul die venue gekies?


Ons het na 4 venues gaan kyk in die Riebeeck Wes/Riebeeck Kasteel area.  Ons het egter dadelike geweet dat ons mal was oor Allesverloren.  Die venue self is so mooi dat jy eintlik nie dekor nodig het nie en die pragtige woud waar jy jou seremonie kan hou was definitief ‘n groot rede waarom ons op Allesverloren besluit het.

Vertel ons meer van jul wittebrood?


Ons het saam beplan aan ons wittebrood en het 3 dae na ons troue Maldives toe gevlieg.  Ons was vir 7 nagte tuis aan die Kuredu Island Resort.  Dit was ‘n ongelooflike ervaring.  Foto’s kan nie regtig vertel hoe ongelooflik mooi dit daar is nie.  Beslis die beste vakansie van my lewe en elke sent werd.

Diensverskaffers: