Etienne & Maria se troudag

Etienne kon van die eerste oomblik sy oë nie van Maria afhou nie en het ook sommer vinnig besluit dat hy die meisie beter wou leer ken, of daar nou ‘n rugby wedstryd aan die gang was of nie!  Die spontane paartjie lyk ongelooflik mooi.  Die bruid wat uitgevat is ‘n uitrusting van The Bridal Room het pragtig gelyk saam met haar strooimeisies wat ‘n elegant gelyk het in hul rompe en klassieke-snit bloese vir die geleentheid.  Lees in die artikel ook hoe die twee verloof geraak het op Maria se verjaarsdag, wat toevallig ook hul troudatum was die volgende jaar, dis beslis ‘n fraai storie wat wys dat ‘n gedetermineerde man nie homself onder sal laat kry nie!  Maria gee ook slim raak aan bruide oor hoekom dit belangrik is om soms voor die troue ‘n oefenlopie te doen, veral wat die seremonie gedeelte van die geleentheid aanbetref.  In die artikel sal julle ook lees hoekom die paartjie besluit het om minder gaste te nooi na hul groot dag en hoe hulle toe ‘n geskikte venue gevind het vir hul geleentheid.  Algeheel is hierdie ‘n warm-hartige troue, vol spontane oomblikke wat elke leser sal geniet om na te kyk!

Wat was julle troudatum en hoe oud was julle albei op dié datum?


19 Mei 2018 het ons getrou. Dit was ook Maria se verjaarsdag. Ons is presies vir ‘n jaar verloof, want Etienne het op 19 Mei 2017 die ja-woord gevra.  Etienne was 27 en Maria 26 jaar oud gewees.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Op Woensdag 7 Oktober 2015, skiet Etienne deur Pretoria toe om vir vriend te gaan groet voordat die vriend die buiteland invaar om te gaan werk op een van die vele luukse toer skepe.  Baie opgewonde om terselfdertyd een van Suid Afrika se Wêreldbeker rugby wedstryde regstreeks te aanskou met ‘n lang bier in die een hand het hy min geweet, vanaand ontmoet Etienne sy trouvrou.

Etienne kon nie die einde van die wedstryd onthou nie want sy aandag was so vêr van die wedstryd af soos wat Suid-Afrika teen Japan verloor het in hulle openingswedstryd toe Maria met haar blou rokkie en haar rooi lippies by die deur van Lucky Rodrigo’s instap.  Etienne het nie laat wag op hom nie en sommer baie vinnig geselsies aangeknoop.

Hoe het julle verloof geraak?


Etienne is in die konstruksie bedryf so verlof is ‘n snaakse woord vir hom.  Hy was aan die einde van een van sy groot projekte toe hy besluit het om ‘n dag verlof in te sit om vir my te bederf op my verjaarsdag.  Ek het gedink dit is net ‘n verjaarsdag bederf.

Hy het my vir ‘n dag van spa behandelings gevat by Kievits Kroon. Min het hy geweet as mens vir ʼn spa dag gaan loop ʼn mens heeldag in jou japon en pantoffels, maar nie te min na ʼn paar behandelings was ek honger en kon ek nie verstaan hoekom Etienne eers wil stort en klere aantrek voor ons na die restaurant gaan nie.  Ek jaag hom aan en hy loop toe maar met die japon en pantoffels restaurant toe.  Toe ons daar kom laat hulle ons wag. Weereens verstaan ek nie hoekom nie.  Toe ons uiteindelik kon gaan sit, sit hulle ons alleen in die kelder.  En net daar in Kievits Kroon se kelder met ons japonne en pantoffels aan het Etienne op sy knieg gegaan en my gevra om te trou. Ek het gedink dit is die beste verjaarsdag geskenk totdat ons besluit het om te trou op my verjaarsdag toe is dit die kersie op die koek van verjaarsdag geskenke.

Wie was jul fotograaf gewees?


Ons fotograaf was Rozier van Okay Dear. Ek het hom opgespoor op Facebook toe ek een middag in my middagete troue beplan het. Hy het so ‘n foto van ʼn bruid op sy profiel gehad met haar bruidsmeisies wat almal verskillende kleur skoene aangehad het.  Die foto het net na soveel pret gelyk.  Dit is waarvan ek gehou het van Rozier se foto’s.  Dit is natuurlik en hy het ʼn manier om die ware geluk in daai oomblik so mooi vas te vang.  Ek en Etienne is altwee introverte en vir ons om al die aandag op ons te hê was redelik angswekkend.  Rozier het by die verlowingsfoto’s ons al baie gemaklik laat voel met sy geselsies tussen elke foto.

Vertel ons meer van jul ringe en die ontwerp daarvan


Ingrid van Ingalore Designer Jewellery het vir Etienne gehelp om my ring te ontwerp. Ek het voor my trouring nooit ringe gedra nie en ek wou iets baie minimalisties hê. My ring is witgoud met net een diamant.  Dit pas perfek by my en ek het nog nooit van tierlantyntjies gehou nie.

Etienne se ring het ons net by ʼn juwelier gekoop.  Hy het die ring op ons troudag gedra en na dit nog nie weer nie hy dra nou slegs sy rubber ring wat ons vir hom by Safe Rings gekoop het.  Hy doen driekamp en werk in konstruksie so ons het nie baie moeite gedoen met sy trou ring nie.  Ek is bly vir sy rubber ring sodat hy darem vir daai mooi geboude driekamp meisies kan wys hy is gevat.

Wat was die merkwaardigste oomblik van dié dag?


Vir my was dit die eerste dans.  Ek was so op my senuwees ek het Etienne maak met my oefen weke voor die tyd. Ons eerste dans liedjie was “Jy is my liefling” van Robbie Wessels – ook bekend as die langste eerste dans liedjie in die geskiedenis.  Ek het altyd gesê ek kan nie dans nie.  Want dit het regtig so gevoel, maar met Etienne voel ek, ek verstaan hom en dit was die lekkerste dans van my lewe. Al was die liedjie so twee minute te lank.  Die mense het na die eerste dans omtrent gelyktydig opgestaan om bar toe te gaan.

Vir Etienne was dit definitief die seremonie en toe ek ingestap het by die kapel. Hy sê toe hy daar gestaan het was dit asof hy super gehoor gekry het. Hy kon alles wat die dominee gesê het mooi hoor en inneem.

Ek is ʼn baba en huil vir enige iets. As ek bly is, hartseer is, as ek ʼn mooi hond sien.  So het ek voor die troue baie video’s gekyk en dan vertel ek vir Etienne dat hy gaan huil as ek by die kerk instap.  Hy wou niks daarvan weet nie.  Hy het tot vir my gesê ek mag nie kwaad wees as hy nie huil nie.  Toe maak ons ʼn weddenskap.  As hy huil skuld hy my ʼn “fine dining” ete by Kream en visa versa.  Toe ek by die kapel ingestap kom kon hy nie sy trane keer nie en het ek die weddenskap gewen.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ek wou baie graag dat my ma en pa saam met my in die kapel instap.  Die idee het wonderlik in my brein geklink, maar ons het dit nie geoefen nie. So toe ons nou begin afstap besef ons dat die gang te klein is om drie mense te laat inpas en toe trap my pa die hele tyd op my rok terwyl ek basies in hardloop om net die oomblik verby te kry.  Ek sou definitief daardie wou verander.  ʼn Instap oefenlopie.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie te geheg raak aan jou trourok nie – hy gaan vuil word. Moenie rooi sjampanje direk uit die bottel drink en mors nie, jou trourok se droogskoonmaak gaan jou dubbeld uitwerk vir so rooi vlekkie!

Laastens, trou is duur, maar die moeite werd!

Hoe het julle besluit op die venue?


Ek wou baie graag in ʼn glashuis trou en ook nie meer as 50 gaste nooi nie.  Ek wou saam met almal op die aand kon kuier en nie net almal groet nie omdat daar teveel mense teenwoordig is nie.  Meeste venues laat ʼn minimum getal toe en hulle minimum was teveel vir ons.  Ek het toe net begin soek op Google na “venue met glashuis”.  Natuurlik het die groot name soos White Light opgekom.  Ek was net bang ons min gaste raak verlore in die groot venue.  Volgende op die lys was River Meadow Manor. Ons was dadelik verlief op die glas-kapel en my man het van hulle tuin gehou.  Ons het die venue in September 2017 gevind en in Januarie 2018 het ons die datum vasgemaak.

Wat was die inspirasie vir jul dekor?


Ek het baie gehou van die groen blare by die wit van die kapel.  Ons troubeplanner, Ashleigh, noem ons styl “botanies”.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was R100 000. Ons het daarby gehou tot die laaste week van die troue. Ons was so          R16 000 oor ons begroting.  Dit wat ons oorgegaan het was ons nie spyt oor nie.

Waarheen was julle vir jul wittebrood?


Etienne het sy rol as wittebrood beplanner baie ernstig opgeneem en het by die tradisie gehou dat die wittebrood ʼn geheim moes wees.  Hy het tog dit reggekry om vir almal te kry om saam te speel. Almal het my vertel hulle vermoed ons gaan kamp naby die wildtuin. Ek was so oorreed dat ek tot my muskiet-masjientjie ingepak het.  Ek het so toe die oggend na die troue uitgevind Etienne het my paspoort uit my handsak gevat en vir ons ʼn week in Mauritius bespreek.  Ek het 3kg swaarder terug gekom na ons ʼn week ʼn alles ingesluit pakket by die Rui Creole Hotel in La Morne Maurituis geniet het.

Diensverskaffers