Willem & Michelle trou by The One Heaven & Earth

Die troue van Willem en Michelle was by die nuwe venue The One Heaven and Earth in Hermanus se Hemel en Aarde vallei gehou en die paartjie deel met Mooi Troues se lesers hoe hul van dié venue gehore gekom het.  Ons by Mooi Troues kan in die foto’s onder sien dat die venue nog sommer baie gewild gaan wees by paartjies wat ‘n venue soek met ‘n plaas gevoel maar tog modern en stylvol is.  Ons sien ook dat daar asemrowende uitsigte is vir die mooiste foto’s so ons wens die venue alle sukses vorentoe.  Vir meer inligting moedig ons Mooi Troues se lesers aan om met hul kontak te maak deur hier te klik.

Wat was jul troudatum en hoe oud was jul albei op dié dag?


7 April 2018 en Albei van ons is 30 jaar oud gewees op die dag.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons avontuur het saam begin by die musiek fees, Oppikoppi in 2012.  Ek het in die Wes-Somerset-Wes gebly en Willem in Pretoria.  Ons het mekaar raak geloop en Willem se asemrowende blou oë het my asem weg geslaan.  Ons het die naweek elke oomblik saam spandeer en besef dat ons soveel in gemeen het.  Dit was moeilik om mekaar te groet na die naweek maar ons het kontak gehou.  Na omtrent drie maande se heen en weer vlieg en trane pik op die lughawe het ek besluit om Pretoria toe te trek en die mooie Kaap agter te laat.  En ses jaar later is ons getroud.

Vertel ons hoe het julle verloof geraak?


Willem het vir ‘werk’ deur afgevlieg Kaap toe en ek het hom later die aand ontmoet vir ‘n naweek weg in Stellenbosch.  Ons het Saterdag oggend deur gery na my gunsteling dorp in SA, Franschhoek.  Daar het ons op die Wine Tram geklim en by elke plaas ‘n glasie wyn geniet.  Op Mont Rochelle se plaas het Willem ‘n Piekniek by die dam gereël.  Willem het daar op sy kniee gegaan en my gevra.  Die trane was baie asook die blydskap.  Willem het nooit die vorige dag gaan werk nie maar egter deur gery Gansbaai toe om my ouers te vra.

Vertel ons van jul fotograaf?


Ons Fotograaf Kobus Tollig, het ons dag so goed vasgevang.  Sy fotos was pragtig en hy het die dag vir ons baie maklik gemaak.  Hy het soveel talent!

Vertel ons meer van jul ringe


Willem het my ring agter my rug laat ontwerp deur een van sy vriende en hy het sy ring van Wood-ring gekry.

Wat wat vir jul die mees merkwaardigste oomblik van die dag?


Die hoogte punt, sjoe… dis moeilik.  Elke oomblik van die dag was ongelooflik.  Die eerste keer toe ons mekaar sien was nogal emosioneel en baie spesiaal.  Asook die kos, dit was onbeskryflik lekker en baie gesellig. Santa Annas maak verseker die beste kos in SA!

Wat sou jul verander as jul kon?


Ons sou niks verander nie.  Dit sou net lekker gewees het om meer tyd saam ons gaste te kon spandeer.  Die dag vlieg verby.

Advies wat jul aan paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Wees getrou aan wie jy is, moenie alles koop of huur wat die internet vir jou voorskryf nie.  Besluit wat vir julle as paartjie belangrik is en fokus op dit.

Vertel ons hoe het julle die venue gekies?


Vriende van ons het ons vertel van ‘n pragtige venue wat op hulle plaas gestig is.  Ons het baie daar tyd spandeer as ‘n paartjie, dit was spesiaal om daar te kon trou ook.

Vertel ons meer oor die inspirasie vir agter die dekor?


Ons wou graag ‘n warm en gesellige troue hê.  Fab events het dit vir ons moontlik gemaak.

Wat was jul begroting vir jul troudag en hoe het julle daarby gehou?


Ons begroting was omtrent R80 000. Ons troue sou nie moontlik kon wees deur die voorsiening van God nie.  Deur soveel mense se afslag en goedhartigheid kon ons ‘n ongelooflike troudag hê.  Ons was (is) verskriklik geseën.

Vertel ons meer van jul wittebrood?


Ons is op pad na Europa in Desember waar ons van die WW2 landmerke gaan besoek.  Ons wou graag in die Winter gaan.

Diensverskaffers