Velsorg advies artikel vir die bruidegom

Deesdae gee alles skoonheid-webjoernale net aandag aan vroue.  Dus vergeet almal van die man wat ook na sy vel wil omsien.  Daarom het Daniella van Adara Skoonheids Salon besluit om bietjie velsorg wenke met die manne ook te deel.

Om dinge af te skop wil ek net eers bietjie oor die dik velle van mans praat. `n Man se vel is geneig om effe meer olierig te wees, en dus is ‘n man ook meer vatbaar vir swartkoppies.

Ek glo dat mans ook `n velsorgroetiene moet volg en die regte behandlinge moet kry, om op hulle oudag, net so goed soos hulle lewensmaat te lyk!  Dit beteken natuurlik dat jy ‘n gesigproduk moet vind wat gepas is vir jou vel soort.

Sodra jy ‘n gepaste velsorgproduk gevind het, kan jy voortgaan met die volgende roetine.  Probeer om die roetine twee maal per dag te volg, eenkeer in die oggend en eenkeer in die aand.

Spoel jou gesig met warm water, of as jy kan, was jou gesig in die stort.  Die stoom in die stort maak jou porieë oop, sodat al die vuilgoed skoon kan kom.

Dien dan ‘n vyfsent-grootte hoeveelheid mans gesigwas aan jou gesig toe, enige iets meer as ‘n vyfsent is net ‘n mors van duur gesig produk!  Vermy dit ook asseblief om gewone lyfseep te gebruik vir gesigwas doeleindes.  Die oormate chemikalieë in die seep sal irritasie op jou vel se oppervlak veroorsaak, en ook jou vel beskadig.

Was nou jou gesig vir 30 sekondes in sagte sirkel bewegings, dit is noodsaaklik dat jy sag was en nie skrop of trek nie.  Gravitasie is geen plooi se speelmaat nie, en hoe meer jy trek en skrop, sal jou vel rek en jou plooie sal na die vloer toe sak.

Spoel nou jou gesig met lou-warm water af, dit sal verseker dat jou porieë krimp, en dat geen olie of vuilgoed deur die dag jou vel penetreer nie.

Hierdie volgende punt is ook baie belangrik – wanneer jy jou gesig afdroog, probeer om dit eerder saggies droog te ‘druk’ as om dit droog te vryf.  Die vryf en wrywing op jou vel se oppervlak, sal vroeë plooie veroorsaak, en dit wil geen mens hê nie!

Dan sal Daniella ook aanbeveel dat enige man moet bestee in ‘n goeie gesig-eksfolieerder.  Dit is belangrik om een tot twee maal per week te eksfolieer, sodat die porieë skoon geskrop kan word, en dooie vel verwyder kan word. Vermy dit net om jou gesig meer as twee maal per week te skrop, anders sal jou vel verskriklik uitdroog.

Na jou verfrissende gesig was sessie, kan jy nou jou vogroom aanwend. Weereens, net ‘n vyf-sent grootte word benodig, enige iets meer as dit, sal jou beursie elke maand ruk!  Vogroom voorsien jou vel met die vog wat dit deur die dag/nag verloor, dit verhoed ook vroeë veroudering en plooi. Vogroom is regtig baie nodig in ‘n man se velsorgroetiene, omdat dit oortollige olieproduksie verhoed wat op die ou einde minder swartkoppies beteken.

Die bogenoemde is uiters belangrik in enige persoon se velsorgroetiene (mans en vroue), maar as jy ander vel kwale het, soos voorkop of lag-plooie, kan jy vir jou `n anti-veroudering produk aanskaf.  Al wat hierdie produk sal doen is om vir jou vel ‘n gladde voorkoms te gee.  Vir mans,sal Daniella natuurlik `n mans-oogroom aanbeveel, aangesien mans en vrouens se velle baie verskil. ‘n Oogroom, sal plooie rondom die oë `n gladde voorkoms gee, en ook sakke en swelling verminder.

Laastens, maar eintlik die heel belangrikste, onthou om jou sonskerm elke dag aan te wend, al reën dit!  As jy langer as 30 minute in die son sal wees, wend ‘n SPF30 of hoër aan die gesig om die vel te beskerm teen sonskade.

Daniella hoop dat hierdie plasing vir jou ‘n gladde en gesonde vel sal bring!

Artikel Krediet: