Petrus & Marelize se verlowing fotosessie

Die verlowing fotosessie van Petrus en Marelize is propvol inspirasie en Marelize vertel onder dat die fotograaf aan beveel het dat hul teen Constantia Nek in die Kaap die fotosessie moet hou.  Dit is altyd goed om jou fotograaf te vra waar hul dink sal die beste wees vir jul fotosessie.  Marelize het ‘n wit rok met blom patroon gedra wat ‘n goeie kontras was teen die woud agtergrond.  Ons hoop Mooi Troues se lesers geniet dié verlowing fotosessie net so baie soos ons het.

Vertel ons van jul ontmoeting en die eienskappe wat julle na mekaar aangetrek het?


Marelize: Ons het in 2012 reeds ontmoet deur gemeenskaplike vriende, maar ek was maar blind vir die “afsprake” wat Petrus probeer inwerk het. Ons het kontak behou al het beide van ons taamlik rondgetrek.  In 2015 het ons mekaar weer in Kaapstad raak geloop (my oogklappe het toe eintlik afgeval!), oor en weer begin kuier, en die res is geskiedenis!  Wat my aangetrek het na Petrus is sy eerlike en opregte uitkyk op die lewe, sagte hart (hy dra maar sy emosies op sy mou!) en die feit dat ons dieselfde uit die lewe wil hê.

Petrus: Soos genoem het ons reeds al ‘n hele tydjie terug ontmoet deur gemeenskaplike vriende.  Ek het sommer van die begin af aanklank by Marelize gevind en van haar gehou, maar soos sy tereg gesê het, het sy nie my aanvanklike pogings raakgesien nie.  Ons het gereeld saamgekuier maar het so bietjie kontak verloor toe ons elkeen agter ons onderskeie werke moes trek.  Ons het weer mekaar een aand raakgeloop en dinge het net van daar af gevorder.  Marelize is ‘n baie mooi mens met ‘n baie mooi hart.  Sy kan alles geniet en kan altyd die mooi dinge in die lewe raaksien!

Vertel ons meer van julle verlowing?


Marelize: Ek is ‘n groot kampeerder so Petrus se aanvanklike plan was dat ons gaan kamp in die Cederberge en hy daar op ‘n ‘hike’ my vra om te trou. Ek het minwetend saamgegaan, maar dinge het begin verkeerd loop toe die wind ons tent amper wegwaai, ons ‘hike’ nie uitgewerk het nie, en toe ‘n Rieldans-kompetisie wat met ons braai-planne inmeng.  Ons het maar moed opgegee en huistoe gery – warm sjampanje en verlowingsring in die kar.  Die Maandag na ons mislukte kamp het ek by ons woonstel opgedaag na werk en ‘n heel ander prentjie ontvang as wat ek verwag het – blomme, hordes kerse, (koue) sjampanje en ‘n Indiese kos piekniek op die vloer.  Al wat ek kon uitkry was ‘JA!!!’

Petrus:  Ek het groot planne gehad om haar te vat vir n kamp in die Cederberge en om vir haar daar op ‘n krans (met ‘n uitsig) die “Ja-woord” te vra.  Moeder natuur het egter ander planne gehad en na vele besinning het ons maar weer huiswaarts gekeer.  Die Maandag by die werk het ek heeltyd planne beraam oor hoe om vir Marelize te vra om te trou.  Ek kon nie langer wag nie, so ek het toe vinnig ‘n plan gemaak.  Ek het halfdag verlof by die werk ingesit en ons woonstel gaan omskep.  Sy was baie verbaas toe sy by die woonstel opdaag!

Vertel ons die inspirasie agter die verlowing fotosessie?


Marelize: Ons wou van die begin af iets buite neem, verkieslik in die berge, want dis waar ons op ons gemaklikste is.  Lindie (fotograaf) het ‘n paar voorstelle gemaak en ons het Constantia Nek gekies waar sy self ook nog nie ‘n fotosessie gehad het nie, so dit was vir ons almal ‘n lekker uitstappie.

Petrus: Ons albei hou van die buitelewe en hou ook van natuurlike fotos. Lindie het ons vertel dat sy dink Constantia Nek sal ‘n goeie opsie wees en ons het haar vertrou.  Dit was ‘n goeie idee en regtig ‘n baie lekker ervaring. Lindie het ons ook op ons gemak gemaak met die hele fotosessie.

Vertel ons wat is jul droom troue?


Marelize: Solank ons die dag saam met mekaar en die mense na aan ons kan geniet, is ek gelukkig!  Dan is dit ‘n ware bruilofsfees!  Maar buiten dit hoop ek al die aspekte wat ek visualiseer vir ‘n eklekties troue realiseer.

Petrus: Ek stem saam met Marelize.  Ons wil net graag die dag saam met mekaar, ons familie en goeie vriende geniet.  Dis die mense in jou lewe wat als lekker maak en die moeite werd maak.

Klik hier vir meer diensverskaffers

Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids.  Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ʼn internet konneksie het en ʼn toestel wat gekonnekteer is tot ʼn aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ʼn rekenaar.  Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag.  Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer?  Klik hier vir ons advertensie kostes.

Artikel Diensverskaffers: