Zak & Karmin se opelug troue

Hierdie paartjie het nie net ‘n oulike verlowings storie nie, maar ook ‘n pragtige troudag gehad.  Wees seker om onder meer te lees oor al die oulike verassings wat die bruidegom gehad het vir sy bruid op die dag asook hoe hy haar moes vertel waar hul wittebrood sou wees.  Karmin het soos ‘n hedendaagse prinses gelyk in haar rok met die fraai strikkie agterop.  Die rok is beslis die gemaklike opsie vir dames wat hou van dans en baie been spasie wil hê asook die gene wat verkies om ‘n stywe rok na onder te vermy.  Dis duidelik op die foto’s dat hierdie die paartjie se droomdag was en die fotograaf van Herman Agenbag Photography het hom puik van sy taak gekwyt om hierdie dag vas te vang.  Die paartjie het ‘n heerlike bedouin-tent gehad op hul dag wat ‘n slim opsie is wanneer julle nie heeltemal seker is hoe die weer gaan wees op die aand nie en steeds ‘n buitelug troue wil hê.  Dis ook verfrissend om ‘n troue te sien waar die seremonie in die kerk is en nie by venue nie – gerus iets om in gedagte te hou  indien julle dorp ‘n mooi kerkie het.  Geniet die foto’s onder en kyk hoe lekker die paartjie en hul vriende makietie gehou het tot die son opkom.

Wat was jul trou datum en hou oud was jul op dié dag?


Ons is op 1 April 2017 getroud. Zak was 25 en Karmin was 27 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het mekaar op 14 Februarie 2011 ontmoet, op Valentynsdag by ‘n gemeenskaplike vriendin se verjaardagpartytjie.  Uit hierdie ontmoeting het daar eers ‘n goeie vriendskapsverhouding gekom.  Ons het mekaar gereeld by dansplekke raakgeloop en dié vriendskap het toe begin ontwikkel tot iets meer ernstig.

Hoe het julle verloof geraak?


Dit ‘n baie lang storie wat ons definitief nie sal vergeet nie.  My ouers woon op George en ons het ‘n baie sterk band met mekaar.  Toe Zak die verlowing beplan het, het hy dit goed gedink om my George toe te neem vir ‘n naweek om alles ekstra spesiaal te maak.  Zak het verskeie pogings aangewend maar ek was so naïef dat ek sy planne heeltemal in die wiele gery het.  Op die ou einde het ons tweetjies op die plaas langs die dam verloof geraak.

Wat was die inspirasie agter jul dekor?


Soos enige bruid het ons hope prentjies gesoek en natuurlik op Pinterest geboer.  Na al die idees het dit alles begin by granate en daarvan dan het die kleur aanleiding gegee tot die res van die blomme.  Die feit dat ons in ‘n tent getrou het was dit noodsaaklik om warmte te skep met die blomme en dekor

Hoe het julle die venue gekies?


Ons ken die opset by Optal Estate & Restaurant baie goed.  Hulle lewer vriendelike en uitstekende diens met kos uit die boonste rakke.  Ons is verlief op die prentjie van die pragtige Slanghoek vallei en vir ‘n beter venue kon ons nie vra nie.  Die fotograaf se fotos sal dit bevestig.

Vertel ons meer van jul ringe.


Carine van Zyl is die ontwerperster van ons ringe.  Ons het van haar te hore gekom deur goeie vriende wat ook hul ringe by haar laat maak het.  Toe ons haar besoek het om idees te bespreek, het sy die saak met soveel gemak en professionaliteit hanteer.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Daar is eintlik twee… Die eerste verrassing is ‘n Flash mob, Zak het dit skelm gereël met vriende en familie. Die tweede verrassing was tydens sy toespraak. Hy is baie musikaal en ritmies en het gereël dat sy broer en ‘n vriend saam met hom die deuntjie van Shaun Kingston se “Beautiful girl” op blaasinstrument te speel. Die res van die manne moes sing volgens die woorde wat aan hulle uitgedeel is.  Ek was werklik onkant gevang, dit was uitstekend.

Vertel ons meer oor die fotograaf en jul videograaf.


Ons fotograaf en videograaf was baie professioneel.  Dit is ‘n lang dag om onder die lens te wees, maar met hierdie manne het die tyd sommer vinnig verby gegaan.  Hulle het alles baie goed hanteer en dit reggekry om ons gemaklik te laat voel.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons sal nie iets wil verander nie, alles was perfek.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Van al die goed waarop jy kostes wil bespaar, moet die fotograaf nie een daarvan wees nie.  Alles gaan so vinnig verby en op die ou einde is die foto’s en video al wat jy oor het.  Dit is besonderse oomblikke van jou lewe en dié dag kan net deur ‘n uitstekende fotograaf vasgevang word.  Dus moet jy seker maak dat jy nie jouself blind staar teen pryse en pakkette nie, maar doen moeite om ‘n ontmoeting te reël met die fotograaf en bespreek dit wat jy in gedagte het.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Wat ons begroting betref het ons goeie advies gehad en ons het ons bes probeer om alles binne perke te doen.  ‘n Mens kan gou begin perspektief verloor wanneer jy troue beplan en juis daarom het ons lysies gemaak waar ons in volgorde van belangrikheid gewerk het.

Was julle met wittebrood gewees?


Zak het ons wittebrood aanvanklik as verrassing gehou.  Hy het eers vir my laat dink dat ons Amerika toe gaan en ek hom geglo omdat ek in besit is van ‘n Amerikaanse VISUM.  So begin ek pak volgens die weer wat voorspel word in Amerika totdat Zak besef het dat die klere wat ek pak nie so lekker gaan werk vir Mauritius nie.  Hy moes toe maar die aap uit die mou laat. Mauritius is ‘n ongelooflike mooi plek en daar is so baie om te doen.  Die beste deel van ons wittebrood was toe ons op ‘n Katamaran trippie gegaan het.

Diensverskaffers