Claude & Megan se besonderse troue

Megan en Claude se troue was ‘n vreugdevolle samekoms van vriende en familie in ‘n sprokies mooi omgewing.  Die venue het uitsonderlik mooi gelyk met die groenigheid wat oral te sien is tesame met die donker hout van die venue se meubels.  Die kerslig, wat deesdae ‘n groot neigings is, het die sprokiesverhaal ekstra mooi afgerond soos die bruidspaar by die trappe afgestap het. Hierdie is beslis ‘n troue om na te kyk as jy nie baie helder kleure en blomme op jou groot dag wil hê nie.  Moet ook nie die fyn onderborde miskyk nie, dit wys wat iets eenvoudig soos hierdie kan doen vir tafeldekor.  Die bruid se grimering is pragtig en gedoen deur Mia’s Make-up, haar trourok wat blos-kleurig is wys al die detail omdat dit nie spierwit is nie – iets wat bruide ingedagte kan hou as hul trourok baie fyn detail het.  Die fotografie wyk af van die gewone foto’s wat buite in tuine geneem is, die effense donkerder skakerings is ‘n neiging wat pragtig lyk in teenstelling met baie helder en lig fotografie.  Moet ook nie die foto’s miskyk waar Megan se vriendinne en die blommemeisies haar vir die eerste keer sien nie, dis ongelooflik hoe die emosie vasgevang is en wys net weer wat ‘n goeie fotograaf vir jou dag kan doen.

Wat was jul troudatum en hoe oud was julle op dié dag?


Ons het die 20ste Desember 2017 getrou.   Megan was 26 en Claude 27 jaar oud.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ons het mekaar in Kimberley ontmoet by die kerk. Ons het vriende geraak en begin saam kuier. Tydens Aardklop het Megan se suster Inge my genooi om saam met haar vriende te gaan ontbyt eet. Dit was by hierdie ontbyt waar ek besef het ek gaan eendag met Megan trou.

Hoe het julle verloof geraak?


Dit was baie moeilik gewees. Ek het ‘n hele paar keer iets beplan dan val iets voor en dan kom ‘n mens nie by dit uit nie. Op Saterdag, 21 Mei 2016 het ek vir Megan gesê ons moet gaan middag ete eet in Blouberg. Na dit het ons op die strand gaan stap. Sy het omgedraai en na Tafelberg gekyk en toe sy terug draai na my, toe staan ek op my knie en vra haar om te trou.

Wat was die inspirasie agter julle dekor?


Ons wou graag gehad het ons troue moes uniek en anders wees in die goed wat ons gedoen het.  Dit is hoekom ons ‘n kenmerkende muur met hout lere, kerse en feetjie liggies geskep het en bome in die onthaal saal gesit het. Omdat ons ‘n buite troue gehad het wou ons ook ‘n buite onthaal hê, maar om buite jou onthaal te hou is ‘n bietjie moeilik omdat die weer  onvoorspelbaar is. Ons het toe besluit om die saal op te maak met hout tafels met groen blare en plante.

Hoe het julle die venue gekies?


Ons het ‘n plek gesoek waar ons gaste wat van vêr af kom by die venue kan oorbly. Webersburg het al ons verwagtinge oortref met die goeie diens, baie slaapplek en ‘n mooi landskap. Webersburg het ook al die kos en wyn verskaf en na almal se behoeftes omgesien.

Vertel ons meer van julle ringe


Megan is mal oor Proteas. Ek het besluit om toe vir haar ‘n witgoud ring in die vorm van ‘n protea te kry met ‘n mooi diamant wat saam met dit gaan. Ek is nie iemand wat juweliersware dra nie, daarom is my ring is baie eenvoudig.  Dit is ‘n 3mm silver ring.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die troue?


Claude – Die seremonie

Megan – Die seremonie en dat ons getrou is deur iemand wat baie na aan ons.

Vertel ons meer oor julle fotograaf en jul videograaf


Lauren Pretorius (fotograaf) en Mighty Fine (videograaf) was baie professioneel gewees. Hulle het al die oomblikke van die troue vasgevang en seker gemaak ons is gemaklik.   Hul het so mooi ingepas op die troue en somtyds moes jy mooi kyk om hul raak te sien in die onthaal saal.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Ons sou absoluut niks verander nie.

Wat is julle advies aan ander paartjies wat besig is om hulle troue te beplan?


Vat jul tyd en moet nie oorhaastige besluite maak nie.  Maak een honderd persent seker van die kwaliteit van en diensverskaffers wat jul gaan gebruik.  Hul bepaal hoe suksesvol die dag gaan verloop.

Wat was julle begroting en hoe het julle daarby gebly?


Die begroting was R250 000.  Dit was baie moeilik gewees om by die begroting te bly.  Eerstens moet jy besluit wat is die belangrikste is vir jou. Gaan jy baie geld spandeer op iets wat minder belangrik is? Ons het seker gemaak ons spandeer die nodige geld op die videograaf en fotograaf aangesien hulle die hele dag vir jou vasvang. Die venue, dekor en die kos is ook baie belangrik.  Mense onthou altyd hoe dit gelyk het en was hul geëet het.

Was julle met wittebrood gewees?


Claud het ‘n wittebrood gereël na Thailand en Bali vir 16 dae. Terwyl ek besig was met die reëlings het ek alles geheim gehou. Ek het eers later vir Megan vertel aangesien ek sukkel om geheime te hou vir haar. Alles was klaar gereël toe begin die vulkaan in Bali aktief raak.  Ek het toe besluit om Bali te kanselleer en die res van die wittebrood ook in Thailand te hou.

Diensverskaffers