Neutraal-kleurige inspirasie vir metgeselle

Vandag deel Mooi Troues inspirasie vir die metgeselle as ‘n verandering en bied weereens pragtige inspirasie vir dekor en kleurskemas aan toekomstige bruide.  Jacoba Clothing het aan ons slim raad gegee wat kleredrag aanbetref vir bruide en gaste.  Na aanleiding van al die raad wat Jacoba Clothing gee aan gaste en bruide kan jy sien dat die modelle gemaklik voel in hul kleure en dat elke rok die model se beste bates vertoon.  Hierdie is een van die belangrikste dinge om ingedagte te hou as ‘n bruid, maar ook ‘n gas by ‘n funksie.  Kyk gerus onder na die foto’s maar lees ook die riglyne wat die industrie kenners gee.  Moet ook nie die pragtige skoene miskyk nie! Ons moet natuurlik ook praat oor die tydlose en mooi dekor wat gewys word in hierdie gestileerde fotosessie.  Dié fotosessie was gehou by 401 Rozendal en die gebruik van swart stoele en swart bykomstighede gekombineerd met goud lyk modern en meer gehard teenoor die gehele gebruik van neutrale kleure wat wys dat neutrale kleure altyd as ‘n basis gebruik kan word vir troues i.p.v. die klassieke wit.  Neutrale kleure soos room lyk nie net tydloos nie, maar ook sag en natuurlik sonder om die redelike algemene groen elemente te gebruik. Ons hoop julle geniet die fotosessie net so baie soos ons – definitief ‘n vars briesie!

By Jacoba glo ons dat ELKE vrou soos ‘n absolute godin kan voel en lyk. Die heel belangrikste hiervan is die voel gedeelte! As jy gemaklik voel, het jy selfvertroue en dis waaruit skoonheid spruit.

Wanneer jy gaan inkopies doen vir ‘n rok vir ‘n spesiale geleentheid is daar ‘n paar dinge om in ag te neem:

  1. Begin by die fondasie!  Ons glo sterk aan n ‘ysterbroek’!  Of as jy voel dit knel…maak seker jy kies onderklere wat jou gemaklik laat voel en en alles in plek hou wat in plek gehou moet word.  Wanneer jy enige klere aanpas is dit noodsaaklik om die onderklere aan te hê of saam met jou te vat wat jy saam met daardie uitrusting gaan aantrek.  Dis die enigste manier om te weet presies hoe jy gaan voel en lyk in n sekere kledingstuk.
  2. Die eerste vrae wat ons gewoonlik ‘n kliënt vra is dinge soos, wil jy n mou hê, n lang rok of n kort rok, noupassend of meer vloeiend en wat dra jy gewoonlik?  Is jy meer klassiek of vroulik, smeulend of meer konserwatief.  Dis dalk n goeie idee om hieraan te dink voor die tyd want dan kan jy die assistent n baie spesifieke idee gee van wat jy wil hê, wat alles baie makliker maak.
  3. Watter deel van jou lyf is jou gunsteling en watter deel is die (geliefde) swart skaap van jou lyf.  Om gemaklik te voel is dit baie belangrik om die dele waarvan jy hou te beklemtoon en die wat jy minder van hou weg te steek.  Goeie voorbeelde hiervan is die appel- en peerlyf vorms.  Appel-lyfvorms het gewoonlik mooi bene, maar verkies om hulle middel te verbloem.  Kies dan ‘n korter rok wat jou bene wys maar los vloei oor die lyf, kyk gerus na ons Erica rok op die webtuiste of ‘n rok met ‘n noupassende onder gedeelte en ‘n losser bokant.  Ons Caitlynn, Tanya en Marietjie-rokke is goeie voorbeelde hiervan. As jy ‘n peer-vorm is, is dit weer ‘n goeie idee om ‘n noupassende bokant te kies met iets meer vloeiend onder. Kyk gerus na ons Judi, Elizabeth, Claudine en Samantha style op die webtuiste vir inspirasie.
  4. Wanneer jy aanpas, moet nooit ‘n rok kies vir wanneer jy nog 3kg gaan verloor of bietjie bruiner gaan wees of gelukkiger of enige iets nie anders nie.  As jy nie dadelik gemaklik voel in ‘n rok nie, dan is dit nie vir jou nie. Dis gewoonlik nie die gewig wat die probleem is nie, maar dat jou lyf tipe nie in die rok pas nie.  As jy nie in die winkel gemaklik voel nie, is die kanse dat jy ooit gaan, baie skraal.  Ons meet dit altyd so:  As ek die rok sommer dadelik wil aantrek en nooit weer uit trek nie, dan is dit die een. Die oomblik wat jy dink, as ek nog so 2kg verloor gaan hierdie rok perfek wees…hou verby! Mens kan gewoonlik sien as iemand DIE rok gekry het aan die breë glimlag op hul gesigte.  By Jacoba Clothing hou ons nie op om rokke aan te dra voor daardie glimlag nie sy opwagting maak nie.
  5. Kleur!  Dieselfde as die styl.  Jy sal weet as jy gemaklik voel.  Partykeer het funksies of troues ‘n kleurskema waarby gaste aanbeveel word om te hou.  Ons persoonlike opinie is dat jy ‘n kleur moet kies wat komplimenteer en nie noodwendig te bypassend is nie.  Solank dit nie bots met die kleure wanneer daar gaan fotos geneem gaan word nie, kies ‘n kleur waarin jy gemaklik voel en wat pas by jou kleur-kompleks. Dit maak ‘n baie groot verskil. As jy die verskillende kleure voor jou gesig hou sal jy baie gou kan sien watter kleure helder jou gelaat op en watter laat jou uitgewas lyk. As jy wonder vra ander mense in die winkel se opinie…mense is altyd gewillig om te help!  Ons sal ook voorstel dat jy met groter nommers by donkerder kleure hou.  Dit vertoon beter en dit voorkom dat dit dalk soos n nagrok lyk!
  6. Maar vir my die BELANGRIKSTE is dat jy gemaklik voel.  As jy vinnig “opgeblaas” voel, kies altyd ‘n rok wat los sit sodat jy nie hoef te stres oor wat jy kan eet of die heel aand ongemaklik hoef te voel nie.  Wie kan nou troukoek of Canape’s  weerstaan by so ‘n geleentheid!  Dit gee jou die vryheid om jou aand te geniet terwyl jy nogsteeds mooi lyk en voel.

Daar is Jacoba Clothing se laaang “Two cents” oor hoe om ‘n rok te kies.  Die fotosessie wat ons hier gedoen het, het ons juis probeer bewys dat maak nie saak of jy kort, Kurwes op die regte plekke het, klein van bors, oud of jonk is nie, solank jy gemaklik voel en n glimlag op jou gesig het is jy klaar 90% daar. Die ander 10% is menslikheid!

Kom loer gerus in by ons nuwe winkel in Tyger Waterfront.  Ons het ingetrek saam met Lily Blue Shoes and Wedding accessories so jy kan nou sommer alles onder een dak kry.  En dit voel soos “opdress” speel met Anina se asemrowende bykomstighede wat die hele winkel vol hang.

Ons het ook n splinternuwe aanlyn winkel waar ons rokke beskikbaar is met ‘n paar clicks! Of gebruik dit sommer om rond te kyk na wat ons het en of daar ietsie is waarvan jy hou!

En as daar enige vrae is, ons is net een oproep ver!

Diensverskaffers