‘n Skoon palet met Groen aksente

Die diensverskaffers wat hierdie fotosessie bymekaar gesit het wou graag inspirasie bied aan bruide en weer wys hoe mooi eenvoudige dekor en ‘n mengelmoes van teksture kan wees.  Vir die bruide wat hou van natuurlike elemente en verkies om blomme en fieterjasies te vermy sal dekor opsies soos onder gesien perfek wees.  Alternatiewelik kan die roosgoud kershouers vervang word met kleure indien jou kleur-palet meer kleure bevat.  Tafels kan ook aangevul word met losstaande kerse wat ‘n groot opkomende neiging is in die trou-industrie om enige blomme te vervang.   Die fotosessie het ‘n skoon en vars gevoel wat die dag lig sal laat voel en jou gaste sommer onmiddellik in ‘n vrolike bui sal laat.  Hierdie dekor kan baie mooi wees by ‘n buitelug troue of selfs ‘n skoon, wit venue vir ‘n moderne gevoel. Indien jy graag buite wou trou, maar bang is vir slegte weer kan hierdie die goue middeweg vir jou wees.  Let ook op die mooi trourok wat die model dra – eenvoudig en onkonvensioneel, maar tydloos.  Lees onder meer oor die fotosessie en word inspireer deur die eenvoud hiervan.

Wie het die fotosessie gereël?


LUSH het die fotosessie gereël, en hierdie besigheid fokus op troues en leefstyl fotografie. Haar fotografie-styl is skoon en tydloos en vertel ‘n storie deur emosie en atmosfeer vas te vang in die foto’s wat sy neem. Die besigheid strewe daarna om saam met ander besighede nuwe opwindende projekte aan te pak en mekaar te inspireer. Die klem van die besigheid val op kwaliteit werk asook ‘n goeie verhouding met kliënte en diensverskaffers, om sodoende ‘n unieke diens te lewer.

Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?


Die diensverskaffers is almal jong dames wat hulle eie besighede begin het. Dis inspirerend om te sien hoe hulle hul besighede ontwikkel en hoe elkeen se styl ontwikkel. Ons is in dieselfde industrie en wil die bruid se dag so spesiaal as moontlik maak. Dit is altyd goed om saam met kreatiewe mense te werk en ‘n produk te skep wat bruide sal inspireer.

Wat was die inspirasie vir die fotosessie?


Vir die fotosessie was ons plan om ‘n skoon pallet met Roosgoud elemente en groen plante te gebruik. Die fokus was minimalisties en skoon, gemeng met growwe en gladde teksture. Die sessie is vir bruide wat van elegante en minimalistiese dekor hou. Hierdie is ‘n voorstelling van hoe ‘n eenvoudige spasie omskep kan word in ‘n stylvolle spasie.

Wat was vir julle die spesiaalste deel van die fotosessie?


Die oomblik toe ek my kamera optel, het ek besef ons is almal bymekaar om iets mooi te skep. Die hare, grimering, dekor, model en tierlantyntjies het ‘n mooi, skoon prentjie geskep wat perfek saam pas. Almal wat betrokke was het hulle beste gegee, en ek dink mens kan dit sien in die eindproduk.

Wat is jul advies aan paartjies wat die inspirasie wil volg?


Meng growwe teksture met gladde teksture, die sagte eenvoudige wit rok teen die growwe grys mure en eenvoudige wit servette met die growwe hout tafel en groen blare in die middel van die tafel. Roosgoud is subtiel bygevoeg om aandag te trek. Die blomme was ‘n kombinasie van blare wat in die veld gepluk is en gekoopte blomme. Hou by ‘n klein kleur palet en dra ‘n rok wat jou beste bates beklemtoon. Dit gaan nie oor wat jy nie het nie, maar  oor hoe jy dit wat jy het gebruik. Die belangrikste is dat jy jou dag geniet.

Diensverskaffers