Janus & Corlette se troue by The Nutcracker

Die paartjie is van die gelukkige mense wat weer later in hul lewens geluk gevind het en nou die res van hul lewens saam kan spandeer en herinneringe maak.  Janus en Corlette vertel ook meer van hul hoogtepunte op die dag, soos al hul vriende en familie wat daar was en hoeveel meer spesiaal die intieme troue vir hul was eerder as ‘n groot geleentheid waar jy nie almal te siene kry nie. Hulle het vooraf besluit wat vir hulle belangrik is en klein besonderhede wat eie aan hulle is op die dag ingesluit en dinge wat minder belangrik vir hulle is uitgesluit of net op ‘n klein skaal inkorporeer.  Gaan kyk na die absoluut emosie belaaide foto’s wanneer die bruid se pa haar vir die eerste keer sien.  Hierdie is oomblikke wat elke bruid graag wil vasgevang hê, bespreek dit gerus vooraf met jou fotograaf sodat almal agterna gelukkig kan wees met die eind resultaat.  Hierdie prag-dag het afgespeel by The Nutcracker Venue, wat ook een van Mooi Troues se adverteerders is en soos die paartjie vinnig agtergekom het, ‘n goeie opsie vir jou groot dag is!  Lekker lees en geniet die foto’s.

Wat was die datum van jul troudag en hoe oud was julle op die dag?


Ons het getrou op die 11de November 2017.  Ek, Corlette, was  33 en Janus 40 op ons troudag.

Hoe het julle mekaar ontmoet?


Ek en Janus het op ‘n aanlyn webtuiste ontmoet.  Aangesien ons albei bietjie skaam is, was dit vir ons moeilik om iemand op ‘n sosiale gebied te ontmoet.  Teen die tyd van ons eerste afspraak, was ons reeds mal oor mekaar se geselskap en van daar af het die liefde net geblom!  Die amper moedelose hunkering na liefde het tot ‘n einde gekom.  Die deksel het presies die potjie gepas!

Hoe het julle verloof geraak?


Janus was baie opgewonde die dag toe hy my ring gaan afhaal het.  Die ring het ‘n gat in sy sak gebrand en hy het uit die bloute in die tuin op sy knieë gegaan en my gevra om sy vrou te word.  Op ‘n doodgewone dag, sommer net so, niks deftig nie – toe verander dit in een van die beste dae van ons lewe.  Ek sou niks verander het nie!

Hoe het julle die venue gekies?


Ons het ‘n lys van venues op Facebook raak gelees en na elke venue se webtuiste gaan loer.  The Nutcracker het vir ons die meeste uitgestaan van al die venues.  Ons het albei in die Vrystaat groot geword en dit was in die middel geleë vir vriende en familie wat van ver sou reis.  The Nutcracker is net ‘n asemrowende plek.  Dit het ‘n rustige plaas atmosfeer, weg gesteek van al die gejaag. Perfek vir paartjies wat ‘n naweek troue oorweeg.  Dit het ons dekor en idees alles net prentjie mooi afgerond.

Wat was die inspirasie agter jul trou dekor?


Ons het eerste op die troukoek en blomme besluit voor ons nog aan enige kleurskemas gedink het.  Ek was net absoluut gaande oor die wynrooi, mauve pienk en sagte grys en ons albeide wou ‘n vintage, tog klassieke styl hê.  Die olyftakkies op die tafels het vir ons nuwe lewe en nuwe hoop weerspieël en die kerse het ‘n sagte romantiese atmosfeer geskep.  Ons het net drie maande gehad om alles te beplan en moes baie vinnig besluite neem.  Asanté Weddings & Events Management het al hierdie drade bymekaar gebring en iets ongeloofliks opgetower!

Vertel ons meer van jul ringe


Ons het my ring laat maak by Altin Jewellers.  Ek wou graag ‘n Morganite steen hê met roosgoud, iets uniek en eie aan my wat nie alledaags is nie.  Johan by Altin Jewellers het ons advies aan ons gegee en het vir Charlise, my dogter, ook ‘n ring ontwerp. Dit was vir Janus belangrik om vir haar ook een te gee.  Janus het ‘n eksentrieke idee van sy ring gehad en het besluit op ‘n swart Tungsten ring met roosgoud afwerkings.

Vertel ons meer oor jul fotograaf en jul videograaf


Ilse en Sean van Gingerale is pragtige mense, ongelooflik kreatief.  Ons het hulle vir koffie ontmoet in Parys en gekyk na van hul werk, dit was presies wat ons wou gehad het. Hulle het ons gemaklik laat voel voor die kamera, asof ons al jare se ervaring het.  Hulle is passievol oor hul werk, en vang elke emosie en spesiale steel-oomblik vas.  Ons het baie pret gehad met ons fotosessie. Dit was omtrent ‘n avontuur!  Dit het ons laat ontspan en ons kon mekaar net geniet en lekker lag oomblikke deel.

Wat was die merkwaardigste oomblik van die aand?


Die aand was propvol uniekheid, selfs in die klein dingetjies.  Ons troue was klein en intiem en daarom was elkeen wat daar was vir ons juis besonders.  Die oomblik toe ons as Mnr en Mev. Booyens verwelkom word was ‘n hoogtepunt, die eerste dans en in besonder ook die dans as bruid met my Pa.  In die laaste snikke toe ons saam met vriende kon sit, skoene uitgeskop, met ‘n glasie wyn en gesels oor die afloop van die aand was veral vir ons lekker.   Dit was merkwaardig om ons drietjies uiteindelik as ‘n gesin en eenheid te beskou.

Wat sou julle verander indien moontlik?


Voor ‘n troue se almal vir jou, geniet dit, dit gaan so vinnig verby…  Ons het nie besef hoe vinnig dit werklik kan verby vlieg nie.  Ons sou meer tyd met alles wou hê, elke oomblik bietjie langer inneem voor die volgende item op die lysie moes plaasvind.   Alles gebeur net te vinnig. Selfs die volle 6 ure saam die fotograwe het net te kort gevoel.  Die tyd-gleuwe vir elke item moet baie mooi oordink en bestuur word.

Wat is jul advies aan ander paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


  • Gebruik ‘n trou koördineerder , dis regtig die moeite werd.
  • Wees gaande oor elke besluit wat jy neem.  Sodra jy ‘n bietjie twyfel, soek verder totdat jy 100% tevrede is.
  • Maak genoeg tyd vir elke oomblik op jou troudag, wees rustig en geniet dit.
  • Nooi gaste wat ‘n positiewe impak maak op jou lewe, dit is die mense wie se gesigte jy graag wil erken en onthou wanneer jy op jou ou-dag na jou albums kyk.

Wat was jul begroting en hoe het julle daarby gehou?


Dit is belangrik dat jy moet prioritiseer en weet wat die heel belangrikste kostes vir jou is en watter kostes gesny kan word.  Alles hang af van wat jy wil hê en wat jy bereid is om daarvoor te betaal.  Vir ons was ‘n goeie fotograaf baie belangrik, aangesien die fotos al is wat jy oor het van jou groot dag.  Ons het kostes opgeweeg en boekgehou om seker te maak ons oorskry nie ons begroting nie. Die prentjie van jou droom troue verander konstant soos jy dit in jou begroting laat inpas, aan die einde is dit nommer-pas!

Was julle met wittebrood gewees?


Ons het vir 10 dae op ‘n ‘padreis’ gegaan en elke 2de dag by ‘n nuwe bestemming oorgeslaap en gekuier.  Eers was ons in die Vrystaat vir ‘n paar dae en het toe die pad gevat na die mooie Drakensberge.  Daarna het was ons by die Suidkus vir die laaste gedeelte.  Ons het vooraf saam besluit om van Lekkeslaap gebruik te maak en het self-help eenhede verkies.  Ons het daarvolgens ons roete uitgewerk en by elke bestemming die spesiale besienswaardighede uitgesnuffel, en sodoende ons eie avontuur geskep.

Diensverskaffers