Jamie & Cea se Oudtshoorn-troue

Jamie en Cea se buitelug troue het ‘n informele gevoel gehad wat fokus op die samekoms van twee mense.  Hulle venue het perfek ingepas by die informele atmosfeer wat hulle wou skep. Dis die moeite werd vir ander bruide om na hierdie venue te gaan kyk indien jy ‘n buitelug venue soek wat nie onaangenaam gaan wees indien daar effens mot-reën of ‘n ligte windop die aand is nie. Boonop het die venue ook reeds ‘n dansvloer wat addisionele kostes sal sny omdat jy geensins die dansvloer area hoef aan te dui nie. Tydens die regmaak sessie het die bruid ‘n Polaroid kamera gehad vir haar en die bruidsmeisies om te gebruik. Dis ‘n oulike byvoeging om in-die-oomblik foto’s te neem wat julle onmiddellik kan sien en dan sommer kan hou terwyl almal wag vir die fotograaf se foto’s.  Familie fotos is vooraf geneem by die akkommodasie, ‘n slim idee as jy graag meer tyd saam met jou gaste wil spandeer na die seremonie i.p.v. daarvan om ‘n lang tyd weg te glip vir foto’s.  Die dekor was eenvoudig wat regtig die rou-hout tafels en stoele laat uitstaan het en onnodige kostes soos tafeldoeke en tafellopers uitgesny het.  Kyk gerus onder as jy graag ook so ‘n informele samekoms op jou dag wil hê.

Hoe het julle twee ontmoet?


Ek het Jamie vir die eerste keer ontmoet by Beyerskloof omtrent agt jaar gelede toe hy en sy vriende in Stellenbosch kom kuier het. Ons het mekaar ontmoet deur ‘n gemeenskaplike vriendin. Jamie het in Bloemfontein studeer en ek in Stellenbosch so ons was net vriende en het mekaar gereeld oor Desember vakansies gesien. Dit was eers toe hy so vier jaar gelede in die Kaap kom kuier het wat ek besef het ek is smoorverlief op sy sin vir humor, hoe hy die lewe aangryp en elke dag ten volle geniet en sy omgee en liefde vir ander. In een kort week tydens sy kuier in die Kaap het ons vreeslik baie pret saam gehad en ek het besef ek wil elke dag van die jaar so lekker saam met iemand kan lag.

Wat was die styl van jul troue?


Dit was vir my en Jamie baie belangrik dat ons troue ‘n lekker gemaklike en informele atmosfeer moet skep en dat almal net lekker moet saamkuier en dans tot in die vroeë oggend ure. Ons het ‘n regte plaastroue gehad by De Opstal in Oudtshoorn. Ek kom oorspronklik van Oudtshoorn af en De Opstal was vir my perfek vir die prentjie wat ons van ons troue gehad het. Die seremonie was in die plaaskerkie gehou waar ek groot geword het in Schoemanshoek en die onthaal was onder ‘n groot markiestent gehou met rou-hout tafels en grasperke met gemaklike banke en kuier areas.  Ons het ons inspirasie meestal op Pinterest gevind en ook deur ander troues wat al voorheen by die venue gehou was.

Was julle met wittebrood gewees?


Ons wittebrood was verseker een van die hoogtepunte! Ons was in Bali vir 10 dae waar ons ‘n paar dae aan die kus naby Kuta spandeer het en ‘n paar dae in die oerwoud by Ubud. Ek sal ‘n eiland vakansie vir wittebrood vir enige iemand aanbeveel – dit was die beste vakansie van ons lewens.

Wat sal jul verander as jul kon aan die dag?


Verseker ons wittebrood bietjie langer gemaak het! Ons het gedrukte kaartjies gehad aangesien ons nog bietjie tradisioneel is, maar die moeite om dit by gaste uit te kry is nie iets wat jy ook nog tydens jou troue nodig het nie, deesdae kry mens sulke mooi webtuistes om jou kaartjies aanlyn te doen.

Wat is julle advies aan ander wat hul troue nou beplan?


Moenie jou troue te lank uitstel nie. Dis lekker om verloof te wees, maar hoe meer tyd jy het om te beplan hoe meer tyd het jy om aan klein besonderhede te dink wat nie rêrig saak maak nie.  Mens kan BAIE kostes spaar op dekor deur byvoorbeeld oulike selfdoen trou-webtuistes vir uitnodigings te gebruik of ‘n kreatiewe vriendin in te span om jou blomme te doen.

Wat was jul begroting en hoeveel gaste het jul gehad?


Ons het nie regtig ‘n begroting gehad nie, ons het geweet wat ons wou hê en wat ons gevoel het oorbodig is of “te duur”.  Die totale troue het so ongeveer R150 000 gekos en ons het 120 gaste gehad by die troue.

Diensverskaffers