Phillip & Marike se droomdag by Groenrivier

Vandag deel ons weer ‘n pragtige troue met julle wat gehou is by die bekende Groenrivier Venue.  Die paartjie, Phillip en Marike, het besluit om hul troudag op die datum van haar grootouers se huweliksherdenking te hou wat die dag nie net ekstra spesiaal maak nie, maar ook vul met nostalgie.  Hulle troudag was gedeel met 105 van hul naastes.  Hul raad aan paartjies is om te onthou dat hierdie dag net oor julle gaan en elke oomblik te geniet van die dag.  Hulle beskryf ook die begroting as die moeilikste deel van die hele proses.  Hulle het begroot om ongeveer R200 000 te spandeer, maar het uiteindelik ongeveer R218 000 spandeer op hul droomdag. Die  paartjie se troue is elegant en romanties met die sagte kleurskema en klassieke dekor opsies.  Hul foto’s het ‘n sagtheid daartoe wat perfek vasgevang is deur die fotograaf.  Kyk onder om meer te lees oor die paartjie se groot dag en wees ook seker om te kyk na hul dekor en kos opsies, hul nagereg opsies is beslis ‘n oulike idee wat ander ook kan gebruik en die koek is werklik ‘n kunswerk.

Hoe het julle ontmoet?


Vyf en ‘n half jaar gelede het ‘n gemeenskaplike vriend my genooi na ‘n geselligheid by Phillip se ouerhuis, slegs ‘n paar honderd meter van my af. Phillip was besig met die vuur, maar toe ek instap, het ons oë dadelik kontak gemaak. Daar was ‘n sekere sagtheid in sy oë wat my aangetrek het om hom beter te leer ken. Die kwaliteite wat ons tot mekaar aangetrokke gemaak het en steeds doen is verseker ons gedeelde waardes asook ons liefde en passie vir die natuur en diere.

Wat was die styl van jul troue gewees?


Aangesien ons albei lief is vir die natuur wou ons ‘n rustieke gevoel op ons troue skep gekombineer met romantiese, sagte elemente. Die algehele gevoel het ‘n organiese atmosfeer van rustieke en natuurlike elemente weerspieël, gekontrasteer teen elegante en moderne dekor en blomme-installasies. Groenrivier Function Centre in Riebeeck-Wes het perfek ingepas met die plaas atmosfeer wat by die venue heers asook die sagte, romantiese, wit onthaalarea wat jou ‘n leë doek bied om jou eie idees na vore te kan bring.

Wat het julle vir ‘n wittebrood gedoen?


Ons het besluit om die tradisionele roete te volg deur die volgende dag op wittebrood te gaan. Weens die beperkte beskikbaarheid van vlugte, was ons genoodsaak om reeds 06:00 daardie volgende oggend op te styg met ons aansluitings-vlug later die oggend.  Die eindbestemming was ‘n verrassing vir my totdat ons die hek bereik het wat gesê het ‘Mauritius.’  Wat hierdie wittebrood nog meer spesiaal gemaak het was die feit dat dit ons eerste vakansie alleen weg was.  Son, see en skemerkelkies was ons voorland vir ‘n week.

Wat sou jul verander as jul kon?


Ons sou graag die wind rustiger wou hê, maar gelukkig het Michelle nogsteeds dit reggekry om met ons foto’s te toor! Vêrder was alles perfek.

Wat is julle advies aan ander paartjies wat hul troudag beplan?


Onthou, jou troudag is net so lank soos enige ander dag – indien dit nie selfs korter is nie! Daarom, maak seker dat jy elke oomblik van die dag inneem. Van die laaste oomblik wat jy as mejuffrou wakker word totdat julle die saal as man en vrou verlaat. Die grootste fout wat ek gemaak het was om myself te bekommer of die gaste hulself geniet.  Hierdie is die een dag wat dit net oor jou en jou man gaan en oor niemand anders nie! Stel ‘n trou-koördineerder aan indien jou begroting dit toelaat – dis meer as die moeite werd! Laastens, onthou om te eet- gaan sit rustig saam met jou man, al is dit vir 10 minute, en geniet die kos waarop julle saam besluit het. En moenie die nagereg vergeet nie!

Diensverskaffers