Magnus & Suzanne se bruilofsfees by Groenrivier

Magnus en Suzanne het 20 Mei 2017 offisieel hul lewens as ‘n getroude paartjie saam begin met ‘n bruilofsfees wat bygewoon is deur 120 van hul naastes.  Die twee wou ‘n geleentheid sonder fieterjasies hê met ‘n kleurskema wat oorwegend uit wit bestaan, dus was Groenrivier Venue die perfekte opsie vir hulle aangesien die venue ‘n skoon palet het wat jou vrye teuels gee met dekor en kleurskema opsies.  Die paartjie het groen in die blomme gebruik om te verseker dat hulle troue nie te wit voorkom nie, maar steeds skoon en eenvoudig lyk.  Toekomstige bruide, let ook op hoe die bruid haar trourok se kant mou’tjies later die aand afgehaal het om meer gemaklik te wees, iets slim om ingedagte te hou indien jy nie twee rokke vir jou geleentheid wil hê nie.  Lees ook gerus die twee se raad oor hul wittebrood in die advies gedeelte, dalk inspireer dit jou net om ‘n ander bestemming vir jul wittebrood te kies!

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek en Magnus se sussie het mekaar in 2009 op universiteit ontmoet en dadelik baie goeie vriendinne geraak.  Ek het vir Magnus in 2010 ontmoet toe ek een vakansie vir sy sussie gaan kuier het.  Daarna het ons mekaar eenkeer in Pretoria raak geloop, ons het nommers uitgeruil en so bietjie met mekaar begin gesels.  Ek het intussen Kaap toe getrek en ons het kontak verloor.  Einde 2014 het ons  weer kontak gemaak, van daar af het daar nie ‘n dag verby gegaan wat ons nie met mekaar gepraat het nie en die res is geskiedenis…

Ons was nog altyd baie gemaklik in mekaar se geselskap en was van die begin af baie goeie vriende.  Die eienskappe wat ons na mekaar aangetrek het is die feit dat ons altwee in dieselfde goed belangstel.  Ons het dieselfde humorsin en kan  vir ure sit en gesels en vir mekaar lag.

Wat was die styl van jul troue?


Daar was nie ‘n spesifieke styl aan die troue nie, ek wou nie vreeslik blomme en bont kleure op ons troue hê nie, so ons het besluit op ‘n rustieke styl met neutrale kleure soos wit, goud en groen. Ons was nog altyd mal oor Riebeeck Kasteel en wou van die begin af iewers in die Swartland omgewing trou. Toe ons by Groenrivier se venue instap het ons geweet dis waar ons wil trou en het glad nie eers verder na ander venues gekyk nie.

Vertel ons meer van jul wittebrood?


Ons het saam beplan aan ons wittebrood en het besluit op Bali. Ons het by die Grande Mirage Resort in Nusa Dua gebly.  Die plaaslike mense is baie vriendelik en het ons tuis laat voel. Hulle het ons daagliks met skemerkelkies bedien langs die swembad. Ons het ook ‘n bromponie gehuur en die eiland bietjie verken, die bromponie rit was omtrent ‘n belewenis.

Wat sou julle verander as moontlik was?


Alhoewel ons die wittebrood baie geniet het, het ons net weer besef ons bly in die mooiste land en daar is soveel plekke wat ons nog nie gesien het nie. Ek en Magnus is albei baie lief vir die Bosveld en ek dink ons sou ‘n romantiese Bosveld wittebrood meer waardeer het.

Wat is julle advies aan ander paartjies wat hul troue beplan?


Moenie mense nooi omdat jy verplig voel nie, nooi regtig net die mense wat saak maak in jou lewe. Mense, musiek en kos kan jou troue maak of breek, doen moeite om ‘n goeie patejoggie en spyseniering maatskappy te kry asook die regte gastelys.

Wat was jul begroting vir die troue?


Ons aanvanklike begroting was R150 000 met die wittebrood ingesluit, maar dit het op die ou einde sowat R180 000 gekos, sonder die wittebrood.

Diensverskaffers