Gloeiende bruid met ‘n gesonde vel

Adara Beauty Clinic se stigter, Daniella, gee vir jou professionele advies wanneer dit kom by velsorg voor jou troudag.  Daniella sê:  As `n vel deskundige en pasgetroude jong vrou, het ek besef dat daar `n aanvraag is vir raad oor hoe om ‘n gesonde, gloeiende vel op jou trou dag te hê.  Nou dat ek terug dink aan my groot dag, het ek besef dat ‘n mooi vel regtig vir my baie belangrik was, want ek wou ‘natuurlik’ (met grimering) mooi lyk op my trou fotos, sonder dat die fotograaf elke liewe foto moes dokter.  Dus, het ek besluit om al die kennis wat ek oor die jare geleer het, met toekomstige bruide te deel.

Saam met Mooi Troues, het ons besluit om ‘n reeks webjoernale te skryf.  Hierdie webjoernale sal dien as ‘n gids vir toekomstige bruide wat natuurlik sprankelend wil lyk op die groot dag.  Die webjoernale sal salon behandelinge asook doen-dit-self huis behandelinge bespreek, wat die bruid kan toepas voor sy Mevrou word.

Nou dat julle, die lesers, ingelig is oor wat die doel van dié webjoernale is, kan ons sommer dadelik met die eerste maand se behandeling bespreking begin.

Ses maande voor jou groot dag:

Sjoe, dit is amper tyd om jou liefde te seëvier.  Wat `n fantastiese ondervinding!  Glo my ek weet, ek was nie te lank terug daar nie.  Dit is een van die mees opwindendste tye in `n vrou se lewe!  JY GAAN TROU!  Eerstens, baie geluk!  Mag die huwelik vir jou net goeie dinge in hou, en mag jy elke oomblik opreg geniet en waardeer.

Tweedens, wil ek jou velsorg regime bespreek, sodat ek jou kan begelei op die pad na ‘n gesonde vel.  As jy nog nie op ‘n vaste velsorg roetine is nie, beter jy dit dadelik begin doen!  Dit is ongelooflik belangrik om twee keer ‘n dag jou gesig te was, te hidreer en te behandel.  Dit klink soos baie moeite, maar glo my sodra jy in ‘n roetine is, word dit ‘n tweede natuur.  Om ‘n goeie velsorg roetine te volg, beteken nie net dat jy ‘n gesonde, gloeiende trou vel sal hê nie, maar jy sal oor 20 jaar steeds ook die vrugte daarvan pluk.

Hier is `n lysie wat jy kan uitdruk om te verseker dat jy jou vel, elke dag die regte behandeling gee.

  • Was jou gesig twee maal ‘n dag, oggend en aand. HIERDIE IS ‘n MOET!
  • Moet nooit met enige grimering gaan slaap nie, veral nie oog-grimering nie.
  • Velverfrisser of ‘Toning’, en nee dit is nie die toning wat in die gimnasium plaasvind nie, hierdie is ‘n aktiewe stap in jou velsorg regime, dit verseker ‘n SKOON vel na jou gesig was.
  • Sit dagroom na jou oggend was aan.
  • ‘n Nag room is verskriklik belangrik om jou vel deur die nag te hidreer, daarom moet jy seker maak daarvan dat jy ‘n goeie nag room, na jou aand was aansit.
  • Jy kan ook enige ander rome aansit wat deel is van jou velsorg reeks
  • Afskilfering of ‘Exfoliate’: hierdie stap is verskriklik belangrik om verstopte asook vuil porieë skoon te maak, en kan so twee maal ‘n week gedoen word!
  • Bederf jou vel met ‘n goeie gesig masker een keer ‘n week
  • Laaste, maar ook die heel belangrikste… Sit elke oggend sonskerm aan (al reën of sneeu dit), onthou die son se UV strale rus net in die aand!

Hierdie velsorg reeks sal meestal problematiese- asook, vel soorte wat deur die omgewing beskadig is bespreek (o.a., sonskade, besoedeling ens.).  Die artikels sal ook so in die verbygaan, vel pigmentasie bespreek. Maar een ding wat jy in gedagte moet hou, is dat as jy sukkel met vel pigmentasie, sal behandeling ses maande voor jou trou dag nie effektief genoeg wees nie. Pigmentasie is iets wat definitief behandel kan word, maar behandeling sal om en by ‘n jaar voor die groot dag moet begin!

Pigmentasie is ‘n behandelbare vel-kondisie, maar dit neem ‘n tydjie om resultate te sien, eintlik nes enige ander vel-kondisie.  Daarom wil ek jou herinner dat jy geduldig moet wees as dit by jou vel kom.  Soos meeste goeie dinge in die lewe, gebeur dit nie net oor nag nie, maar is wel tydsaam, en absoluut die moeite werd!

Wel nou ja, so kom ons aan die einde van die eerste Gesonde Trou Vel artikel.  My doel met die artikels is om ten minste een bruid met ‘n natuurlike, gloeiende trou vel op haar groot dag te bederf.  So, hou `n ogie op Mooi Troues se webtuiste vir die volgende artikel, sodat jy ook ‘n gloeiende bruid, met ‘n gesonde vel op jou groot dag kan wees!

Artikel Krediet: