Fouché & Rodré se Verlowing op die plaas

Mooi Troues se lesers is gek vir Plaastroues en dus is ons opgewonde om Fouché & Rodré se Verlowing op die plaas met ons lesers te kan deel.  ‘n Spesiale dankie aan Charl van der Merwe Photography vir die besonderse mooi kiekies.

Vertel ons hoe het julle ontmoet


Ons het mekaar ontmoet as studente in ons derde jaar in Bloemfontein.  Ons was by ‘n dansplek toe ‘n vriendin Fouché se hoed vat en net daarmee verdwyn.  Die plaasseun was so erg besorgd oor daardie John Deere hoed dat ek moes seker maak dit kom terug by hom.  Ons het daarna begin gesels en so het die paadjie saam begin, ‘n paar kronkels maar dit het ons elke keer net bymekaar uitgebring. Fouché vertel;  wat van Rodré vir my uitgestaan het is haar mooi van binne & buite, haar opregtheid teenoor ander  en verseker haar eerlikheid en hoe sy oor alles ‘n grappie kan maak. Fouché het weer my hart gewen met sy skaam glimlag, sy baie skerp humorsin en sy groot liefde vir die Here.

Vertel ons meer van jul verlowing


Ons verlowing was een groot verassing, min wetend het Fouché die ring al in Maart gekoop.  Gereelde kuiers by die familie in Parys, het ons Sondagmiddag niks vermoedend reggemaak vir ‘n ete saam met sy tannie-hulle, volgens hom, by ‘n deftige restaurant.  By die tannie-hulle gekom spring Fouché toe dadelik in die oom se bakkie, want daar is fout met beeste op die plaas en hy moet gaan help.  Ons ry toe “restaurant” toe.  Toe ek weer sien stop ons langs die rivier waar Fouché staan en wag met die einste John Deere hoed op, blomme, en in sy hand die boksie met die ring.  Ek was so verstom ek het hom amper nie eens kans gegee om die vraag te vra nie.  Hy het net daar op sy knieë gegaan.  Ek dink wat die oomblik net meer spesiaal gemaak het was dat ons daarna gebid het, en hy gesê het: “Jy weet van nou af is ons ‘n span.”

Vertel ons die inspirasie vir die fotosessie


Ons wou iets doen wat op die plaas is, maar steeds mooi en stylvol is.  Gelukkig het ons ‘n baie kreatiewe neef en fotograaf, Charl van der Merwe, en amper skoonma/ma  wat net weet wat werk en wat nie.  Omdat die reën ons daardie dag bietjie gevang het en ons nie by die oorspronklike plan kon bly nie, het ons sommer besluit om die foto’s te neem waar Fouché my die eerste keer gevra het om sy meisie te wees, dit was toe eintlik meer as perfek.

Vertel ons van jul droom troue


Definitief ‘n mooi plaastroue.  Solank daar lekker kos …en baie poeding, goeie musiek, familie en vriende met glimlagte op hulle gesigte saam met ons, ons spesiale dag vier sal ons troue meer as perfek wees.

Diensverskaffers

  • Fotograaf: Charl van der Merwe
  • Blommerok: Riette Marx
  • Grimering & Hare: Bonquet Myburgh
  • Dekor: Self