Dave & Marcia se natuur verlowing

Dave en Marcia se liefde vir die natuur, blomme en refleksie in die water was die inspirasie vir mooi verlowing fotosessie.  Al die mooi elemente was deur talentvolle fotograaf van Dust & Dreams Photography vasgevang en ons by Mooi Troues is opgewonde om die fotos van die paartjie in ‘n roeibootjie met ons leser te kan deel.

Geniet die fotos en as jul natuurliefhebbers is sal die fotosessie vol bederf vir jul wees!

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


In my tweede jaar op universiteit was daar ‘n baie oulike ou wat my gevra het of hy my klas-rooster kan kopieer.  Hy het langs my in al die klasse gesit en saam met my na elke klas toe geloop.  Uiteindelik het hy my uitgevra na ‘n partytjie toe: ek het ingestem maar het gevra of ek ‘n vriend kan saambring.  Min het ek geweet dat die uitnodiging die begin was van ‘n wonderlike verhouding.
Dave en ek voel dat liefde nie noodwendig die spreekwoordelike “gelukkige einde” is nie, maar eerder dat daar werk in die verhouding en in mekaar is.  Ons is gewillig om saam te groei en die beste in mekaar uit te bring.

Vertel ons meer van julle verlowing?


Op ‘n Woensdagaand het ek by my ouers oorgeslaap om te kuier en aandete te eet.  In die vroeë oggendure staan Dave by die voordeur met ‘n tas…. Dit voel soos ‘n droom: toe ek wakker word is ons in Kaapstad besig om wyn te proe by Banhoek Lodge omring deur die pragtige Stellenbosch landskap.  Later die middag vra Dave dat ons 5 uur gereed moet wees vir aandete.  Rose en sjampanje wag vir my toe ek by die deur uitloop: Dave vra my om verloof te raak tussen pragtige wingerde, rose, sjampanje en die mooiste Kaapse berge in die agtergrond…’n dag wat ek nie sal vergeet nie!

Vertel ons die inspirasie vit die verlowing fotosessie?


Ons is albei baie lief vir die natuur, die geur van blomme en die refleksie van bome en wolke in water en riviere: ons fotos is  geïnspireer deur die natuurlike omgewing.

Vertel ons wat is jul droom troue?


Ons droomtroue is buite in ‘n kapel van glas.  ‘n Elegante, maar aardse tema is ons ideaal.  Liggies, diep, rooi peonies, rose in helder kontras, olyfgroen blare wat oor tafels vloei… Die belangrikste aspek van die dag: al die mense vir wie ons lief is om ons spesiale dag saam met ons te vier.

Diensverskaffers