Mark & Lezhaan se Winter verlowing fotosessie

Mark en Lezhaan het nie veel meer nodig as mekaar om gelukkig te wees nie en sien daarom uit om nou ook ‘n huwelik saam aan te pak.  Ons is seker hierdie twee se troue gaan net so sprokiesagtig wees as wat hul verlowings storie is, onder sal jy hierdie twee se sprokies verlowing storie vind.  Ons is seker dit sal ‘n glimlag op jou gesig ook sit! As jy ook hou van ‘n warm, knus gevoel tydens fotosessies kan hierdie dalk net die inspirasie wees waarvoor jy soek vir jou fotosessie.  Hierdie foto’s is pragtig vasgevang deur Shot by Angel fotografie.

Vertel ons hoe het julle ontmoet ?


Ons het mekaar ontmoet in Maart 2013 deur een van ons vriende.  Ek was so op my senuwees al wat ek bly dink was ek ken niks van die persoon nie, al wat ek weet is dit wat ek gehoor het.  Dit was definitief liefde met die eerste oogopslag, hy het al my verwagtinge oortref.

Die eienskap van Mark wat my die meeste aangetrek het tot hom is sy eerlikheid, opregtheid, saggeaardheid en sy passie vir die lewe . Hy het my baie geleer van myself en my uit my gemaksone gehaal en daarvoor is ek baie dankbaar.

Lezhaan is net vir my spesiaal en ek het geweet dis die meisie met wie ek die res van my lewe wil spandeer.  Sy is baie liefdevol en gee om vir ander en ek dink vir my is dit een van haar mooiste eienskappe die liefde en geduld wat sy teenoor ander mense wys.  Sy is baie plat op die aarde tipe persoon wat perfek pas by my en soms het sy ‘n sin vir humor wat ek baie aantreklik vind.

Vertel ons meer van die verlowing?


Ek moet se van al die stories is ons verlowing vir my die heel mooiste sprokie.  Ek is nie iemand wat hou van verassings nie maar, my verloofde het al my verwagtinge oortref.  Hy het my die oggend op kersdag 2014 wakker gemaak om geskenkies oop te maak.  Dit was my aspoestertjie oomblik maar, ek dink die feit dat ons so plat op die aarde is, het dit meer spesiaal gemaak. Ek kan onthou hy was opgewonde nes ‘n kind op kersdag.  Voor my was drie boksies groot na klein.  Min te wete het elke geskenkie gelei na die groot vraag.  My eerste geskenkie was ‘n juwele boksie, die tweede geskenkie was ‘n sneeu-borrel wat dit troumars speel maar, my aandag was net op daai klein boksie.  In ‘n oomblik van opgewondenheid en nuuskierigheid het hy op een knieg gegaan en my gevra om Mev Ritter te wees.

Vertel ons die inspirasie van die verlowing fotosessie?


Ons verlowings fotosessie het plaasgevind by Vinboho in Panorama. Ons fotograaf Angel van Shot by Angel, het ‘n spesifieke idee in gedagte gehad vir ons verlowings foto’s. Ek en my verloofde is mekaar se beste vriende en wil altyd in mekaar se geselskap en om mekaar wees en probeer altyd iets spesiaal doen vir mekaar al is dit ‘n rustige aandjie by die huis of ‘n aand uit. Die idee van ‘n romantiese atmosfeer som ons perfek op die “Winter tema” was vir my so oulik en uniek en dit beeld presies uit wie ons is. Angel het ons so gemaklik laat voel en al ons spesiale oomblikke vasgevang.

Vertel ons wat is jul droom troue?


Ek dink van kleins af dink elke meisie aan die spesiale dag. Ons droom troue is klein en intiem met die naaste vriende en familie. Dit sal afspeel in ‘n klein, ou kerk met klein kersies en ‘n romantiese atmosfeer. Ons verkies baie groen inplaas van blomme en versierings. Kos is ‘n baie belangrike aspek in ons troue ons het ‘n tradisionele en moderne spyskaart gekies. Die belangrikste vir ons is die belofte wat ons aan mekaar en voor ons naastes en voor God maak.

Diensverskaffers: