Cyril & Anne-Mart se troue by Het Vlock Casteel

So 80 kilometer Noord-Oos van Kaapstad lê Riebeeck-Kasteel ‘n baie klein dorpie; maar die dorpie spog met ‘n unieke trou venue, Het Vlock Casteel.  Die venue is gebou met die argitektuur van ‘n kasteel en was oorspronklik beplan om ‘n wynkelder te wees.  Gelukkig het die planne verander en was die wynkelder toe ingerig as ‘n venue wat maklik 150 gaste kan akkomodeer met ‘n dans-vloer.

In Herfs 2017 het Anne-Mart haar droomdag saam Cyril gevier op haar familie plaas.

Ons by Mooi Troues is mal oor die dramatiese effek wat die wolke gebied het vir die fotos.

Anne-Mart vertel ons dat Cyril nie veel met die trou reëlings betrokke was nie, maar sy ken haar man goed en het sy smaak ingewerk by die dekor.  Die dekor was grys en geel en die kombinasie, as dit reg gedoen word soos in Cyril en Anne-Mart se troue, is ‘n vrolik maar dog stylvol en klassiek.

Word weg geneem in die bruidspaar se troufoto’s onder en kyk veral na die venue en bespreek sommer dadelik die plek vir jul groot dag.

 

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het ontmoet op die 14 Maart 2011.  Na baie petroltenke leeg gery, oproepe, e-posse, geselsies en WhatsApp-boodskappe  later het ons net geweet.  My oë het hom aangetrek, volgens hom het ek pragtig gelyk; En ondeund.  Ek wou n introvert hê oor ek bietjie van n ekstrovert is. ”Cyril was skamerig met donker oë en wimpers.

Sommer vinnig het hy vir my gesê dat ons oor 3 jaar verloof sou raak…en ons het.  Vir ons eerste afspraak het ek hom genooi na my boetie se troue, maar my ouers moes hom eers ontmoet.  Hy’t vir my ma ‘n orgidee gegee en vir my pa een van die heel groot bokse met Lindt sjokolade balletjies.  Ons was erg op ons senuwees.  Van toe af vra my pa, elke keer as ons gaan kuier, waar sy sjokolade is.

Hy kon die hele aand sy oë nie van my afhou nie.  Ek het ‘n swart rok met rooi skoene aangehad met ‘n rooi blom in my hare, Marilyn Monroe-styl.  Ek het aan die begin vir Cyril engel ( sy van is Engelke) genoem, en my ma dink nou nog hy is ‘n engel.

Hoe het julle verloof geraak?


Ons het Kasteelberg gaan klim.  Gewoonlik maak ek die broodjies en iets om te drink.  Daardie oggend het hy daarop aangedring om te pak.  Ons sou die vorige dag gegaan het, maar ek was naar? Ek kon nie verstaan hoekom hy so graag wil gaan bergklim nie.  Toe ons bo kom, haal hy kolwyntjies uit (sy suster het dit gebak en ‘Sal jy met my trou?’ daarop gespuit met blou versiersel, maar met die hitte het dit gesmelt.  Hy het toe met koki op wit papier geskryf en die stukkies papier om die kolwyntjies gesit) Ek het net begin huil…Ja gesê…die ring was presies wat ek wou gehad het.

Vertel ons meer oor die inspirasie van die styl van jul troue?


My inspirasie kom uit die natuur en die omgewing waar ek groot geword het Olyftakke,  waterblommetjies, mos, vars kruie en baie loof.  Ek het kleur ingebring met geel Pioenen  en Orgideë.  Die strooimeisies se rokke was skakerings van grys.  Daar was bistro-gloeilampe dwarsoor die saal gespan en 3 reuse stellasies met blomme wat vanuit die dak gehang het.

Ons het hout tafels gebruik met glas-kandelare, lang wit kerse en glas-potte.  Dankie geskenkies was sementpotjies met vetplantjies en aalwyne in en olyfolie en konfetti was olyfblare en kruie.

Ons het die tafels almal bymekaar gesit met die dansvloer aan die eenkant van saal, sodat mense kon sit en gesels en die ander heerlik dans.  Ek wou hê dat die dekor ons albei se smake reflekteer en ek dink dit was perfek.  Ons droomtroue is presies wat ons wou gehad het.   Familie, vriende, kollegas was daar.  Dit was net heeltemal te vinnig verby en Cyril het agterna gewonder of dit nie oor twee dae kon wees nie.

Ek het die venue, wat oorspronklik ‘n wynkelder sou wees, van niks af begin en my sussie bestuur dit nou.  Die plek lê my regtig baie na aan die hart.  Toe ek klein was, wou ek by die see trou, maar toe ek ouer word, kon ek nie anders as om by ons familie-venue te trou nie en omdat dit ‘n groot venue is, het die 150 gaste met gemak ingepas.

Vertel ons van jul wittebrood?


Ons het in die V&A Waterfront begin, en was daarna op Hermanus, ons gunsteling vakansieplek.  Hier het hy die mooiste plek vir ons gehuur, presies my smaak.  Ons het pikkewyne by Simonstad gaan kyk, my troetelnaam vir hom is ‘pikkewyn’.  Ons het ook op die bekende rooi bus deur die Kaap getoer en wyn geproe.  Ons het ook die natuurskoon rondom Hermanus geniet.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Ek sou nie na raad geluister het om duur trou-skoene te koop nie, ek gaan dit nooit weer dra nie.  Ek het ‘n goedkoper en gemakliker paar gehad wat net so goed sou werk.  Ek het nie dieselfde onderrok op my troudag aangehad as die een toe ek my rok aangepas het nie.  Toe ek die onderrok uittrek was my rok te lank en kon ek nie lekker dans nie.

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Dit is doodnormaal as mans nie so betrokke wil wees nie.  Jy ken hom mos…so probeer sy smaak inkorporeer.

Ek dink dis beter om eerder ‘n week later op wittebrood te gaan…Die reëlings put albei regtig uit.

Diensverskaffers