Jandré & Marike-Lee se romantiese troudag

Jandré en Marike-Lee het na hul eerste ontmoeting geweet dat hulle bymekaar wil wees en sommer nog ‘n lang paadjie saam gaan stap. Lees onder die oulike manier hoe Jandré haar gevra het om te trou – dit was ewe onverwags as wat dit te verwag was.  Hulle troue het ‘n klassieke, romantiese gevoel gehad wat verkry is deur die gebruik van rooi rose, kristalle, feetjie ligte en wit as oorwegende kleurskema.  Die twee het slim met die keuse van hul venue gewerk om te verseker dat dit baie dienste kan verskaf soos koördineerder, spyseniering en blomme.  Mooi Troues hou ook van die korter rokkie wat Marike-Lee later die aand aangetrek het om te verseker sy kan lekker skoffel heel aand lank.  Wees seker om die paartjie se mooi foto’s in die natuur onder te sien!

Vertel ons hoe het julle ontmoet en die eienskappe wat jul na mekaar lok?


Ons het op Mxit (dis nog voor Whatsapp se tyd) ontmoet.  Ons het seker vir ‘n jaar aanlyn gesels voor ons besluit het om te ontmoet.  Ons het op ‘n dag besluit en die volgende dag toe begin ons uitgaan.  April van die jaar was ons 9 jaar saam.  Ons het verloof geraak September 2016. Ek het verwag dat hy my op die spesifieke dag gaan vra maar tog op daai oomblik het ek dit glad nie verwag nie.  Ons het die blomme gaan kyk in Darling.  Ons het iewers by ‘n plaas gestop wat die mooiste klein wit blommetjies gehad het.  Daar was ook ‘n windpomp en Jandré het vir my gesê om daar te gaan staan sodat hy ‘n foto van my kan neem.  Ek het begin loop en hy agterna.  Na ‘n entjie het hy gesê dis ver genoeg.  Toe ek omdraai was hy op sy knieë. Ek kan nie onthou wat hy gesê het nie – ek was te emosioneel, maar dit was perfek. Ek is maar ‘n stil en skaam mens maar wanneer ek by Jandré is kan ek net myself wees.  Ons lag altyd vir simpel goedjies.  Ons het vir mekaar so baie geleer omdat ons sulke verskillende persoonlikhede het. Jandré het so ‘n positiewe uitkyk op alles waar ek weer bietjie meer negatief is.  Ons help mekaar in so baie opsigte, sonder dat ons dit eers meer agter kom. Jandré: Marike-Lee se glimlag is aansteeklik – as sy vir my glimlag voel ek dadelik beter. Sy het ook ‘n regte omgee hart.  Veral as dit kom by diere.

Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Ek sou sê ons styl was elegant en romanties.  Ons wou meer wit en kristal hê met baie kerse. Ons het kleur ingebring met die blomme en strooimeisie rokke.  Ons het al ons inspirasie op Pinterest gekry – ek het al die idees waarvan ons hou vir die venue gevat en hulle het ons droom troue ‘n werklikheid gemaak. Ons het Eensgezind gekies omdat dit iets anders is as die bos/wynlandgoed troues.  Nie net is hulle saal vreeslik mooi nie maar die plaas self maak die mooiste fotos.  Hulle personeel is so vriendelik en gewillig om met enige reëlings te help. Hulle kos is ook uitstekend!

Was julle met wittebrood?


Ons was Knysna toe vir ‘n week.  Nie een van ons was al daar nie en daar is net so baie om te doen!  Ons wou goed doen wat ons nie gou weer die kans gaan kry om te doen.  Die hoogtepunt van ons wittebrood is definitief toe ons Knysna Olifant Park besoek het.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Ons sou graag meer met ons gaste wou gesels.  Die dag gaan so vinnig verby en as jy jou weer kon kry is die aand verby.

Advies wat julle aan paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie probeer om alles alleen te reël nie. Vra vir hulp. As julle ‘n venue kan kry wat help met die meeste reëlings is dit nog beter. En hou boek van alles! Alle e-posse en kommunikasie. Dis baie meer georganiseerd so.

Wat was julle trou begroting?


Ons begroting was R80 000. Dit is wat ons troue ons gekos het ook. Ons was baie geseënd met mense wat ons gehelp het.

Diensverskaffers: