Eric & Carien se troue met industriële elemente

Eric en Carien wou ‘n regte stads troue gehad het met industriële elemente wat beide van hul se ingenieurs beroepe uitbeeld en het daarom ook besluit om by ‘n dak-venue te trou wat oor die hele stad uitkyk.  Hul dekor was eenvoudig en het Carien se gunsteling kleur, mosterd geel, as die hoof kleur ingespan tesame met swart en wit.  As hierdie ook jou gunsteling kleur is, is dit ‘n moet om te kyk hoe die paartjie dit gebruik het binne hul kleurskema sonder om oorweldigend te wees.  Hulle het ook slim wenke gegee oor hoe om geld te spaar by die dekor soos om self van jou elemente te maak.

Carien het ‘n vleiende stylvolle rok gedra van Bridal Room en het Eric en die gaste na hul asems laat snak.  Let op hoe hulle die kleurskema ook gebruik het by die strooimeisies rokke en die tafelnommers wat deur Carien se Ma gemaak is.

Hierdie troue wys dat dekor elemente wat jy self maak, nie net gemaak kan word presies soos wat jy dit wil hê nie, maar ook soveel meer spesiaal is vir die paartjie. Hulle gee goeie raad en advies aan ander paartjies en het pragtige fotos op die dak-venue geneem – beslis ‘n troue om meer van te sien!

Hoe het julle ontmoet?


Ek en Eric werk albei in die mynbou bedryf as ingenieurs en dit is juis toe ons saam op `n projek gewerk het waar die liefde begin blom het. Eric vertel hy was seker ek is sy trouvrou die dag dat hy waarneem hoe ek in `n tenk klim om `n lekkende pyp koppeling reg te maak van binne af (ek was die enigste persoon op die myn klein genoeg om te pas!). Ons is baie verskillend maar dis juis die verskille wat ons so aantrek tot mekaar – ons voltooi mekaar en bring die beste in mekaar na vore.

Wat was die styl van die troue?


Ons is albei baie lief vir ons tuisstad, Johannesburg, en het van die begin af geweet ons wil `n stads troue hê wat werklik die prag van ons gunsteling stad eer. Die dekor was modern met `n industriële gevoel. Ek wou die dekor redelik minimalisties hou en selfs die blomme was eenvoudig maar treffend. Baie van die dekor het ons self gemaak, van die honderde wyn bottels wat ons geverf het vir die blomme tot die sement kers-houers. My gunsteling kleur is mosterd geel en ek wou graag hê geel en goud moes die held wees van die dag. Ons het die stads tema regdeur getrek en selfs die tafels benoem na verskillende stede in plaas van tafelnommers, met my talentvolle ma wat pragtige swart en wit waterverf skilderye geverf het om elke stad aan te dui.

Hoekom het julle die venue gekies?


Ons het geweet ons wil in die stad trou maar wou ook iewers vind wat nuut en anders is. Die oomblik toe ek by Fergusons inloop en die ongelooflik uitsig van die Johannesburg “skyline” sien het ek geweet dit is die regte venue! Fergusons het `n asemrowende, amper 360 grade, uitsig van Johannesburg en dit was deel van ons inspirasie om die Johannesburg “skyline” `n kenmerk te maak van ons troue.

Wat sou jul verander het as jul kon?


As ons nou terug dink sal ons absoluut niks verander nie! Die dag het ons wildste drome oortref! Selfs die weer het wonderlik saamgespeel, nadat die vorige naweek ysig koud was, het ons trou naweek perfekte weer opgelewer.

Was julle met wittebrood?


Ons het ons wittebrood in die pragtige Mauritius spandeer. Die weer was perfek, nie te warm nie, en alhoewel ons net vyf nagte daar spandeer het, het dit werklik soos `n maand gevoel! Ons is albei baie lief vir geskiedenis en ons het selfs tyd gemaak om `n ou suiker fabriek te besoek, iets wat ons twee ingenieurs vreeslik geniet het!

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Betrek die mense om jou – vriende, familie, die strooimeisies en strooijonkers. Almal wil graag help en dan voel almal deel van die dag. Jy sal verbaas wees wat party mense bereid is om te doen om te help! Ons het ongelooflik geseënd gevoel deur almal se bereidwilligheid om te help. Op die dag moet mens regtig `n tydjie vat om alles in te neem. Net na die gaste gaan sit het, het ek en Eric `n oomblik geneem om net die ongelooflike sonsondergang vanaf ons dak-venue te geniet…dit was een van my gunsteling oomblikke van die hele dag.


Diensverskaffers: