Chris & Celize se bosveld troue

Chris en Celize wou totale kreatiwiteit hê op hul troudag en het dit gevind hier in die bosveld.  Hulle troue was ‘n kleurskema van wit met groen eukaliptus blare en ander blomme as versiering.  Die dekor was eenvoudig en het gesorg dat die klem gelê word op die geleentheid en die venue se natuurlike natuurskoon.  Gaan kyk mooi na al die dekor items wat gebruik is, dalk word jy inspireer en kan ook soos die paartjie selfs nog ‘n paar rand terug steek in sak.  Lees ook die wyse raad wat Celize gee oor blomme meisies en hoe om stres te vermy op jou groot dag.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het mekaar ontmoet toe ons saam gewerk het by ‘n ouditfirma in 2012.  Hy was my senior en ons het op ‘n daaglikse basis begin saamwerk.   Ek onthou hoe ek by my ma gekla het oor hoe ongelooflik baie hy my irriteer en hoe sy vir my gelag het en vir my gesê het dit klink meer vir haar asof ons van mekaar hou.  Soos gewoonlik was my ma al weer reg.   Met ons eerste afspraak het ons piekniek gehou met ‘n uitsig van Pretoria se liggies …. en die res is geskiedenis.

Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Ons troue was eenvoudig en tydloos.  Ons is altwee eenvoudige mense en het ons inspirasie van mekaar en ons verhouding getrek.  Ons wens vir ons dag was om almal gemaklik en welkom te laat voel en net lekker makiti te hou.

Hoekom het julle die venue gekies?


Die venue soektog was vir ons ongelooflik lekker gewees.  Die een probleem wat ons aanhoudend met die venues beleef het was dat ons nie heeltemal die vryheid kry om ons unieke stempel af te druk nie.  Ons het besluit op ons venue, omdat dit totale kreatiewe vryheid bied en dit was baie bekostigbaar.

Was julle met wittebrood?


Ons was na die ongelooflike area van Mosselbaai toe. Dit was omtrent die vakansie van ‘n leeftyd.  Chris het my naderhand so deurmekaar gepraat dat ek op ‘n tyd gedink het ons gaan Potchefstroom toe en later toe dink ek ons gaan Rustenburg toe. Mosselbaai was so ‘n lekker bederf, want nie een van ons was al voorheen in daai area nie, so ons het baie lekker plekkies verken.  Ons wittebrood het alles ingesluit van ‘n piekniek op ‘n seiljag tot Haaihokduik.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Een van my bruidsmeisies.  Gedurende die maande voor ons troue het sy nie eers opgedaag vir my kombuis-tee of henne aand nie.  Die dag voor die troue het sy laatmiddag in die dorp aangekom met skokkende nuus…. “Haar rok pas nie en is een groot gemors!”  Ek het vir al die bruidsmeisies materiaal gegee om hulle eie rokke te laat maak en haar rok was nie eens van dieselfde materiaal nie.  Een van my ander bruidsmeisies het tot redding gekom en kon ons ‘n soortgelyke rok opspoor. Dit was net onnodige stres so voor die troudag.

Advies aan ander paartjies wat hul troue beplan?


Probeer om nie mekaar te veel op te stres oor klein goedjies wat moontlik kan verkeerd gaan met die reëlings of op die dag nie.  Ondersteun mekaar en onthou julle beplan die dag wat julle, julle liefde aanmekaar gaan bevestig.  Dit is een van die heel lekkerste tydperke van julle nuwe lewe saam.

Wat was julle begroting vir jul troue?


Ons oorspronklike begroting was R100,000. en die troue het ons op die einde R80,000.00 gekos

Diensverskaffers:

  • Fotograaf: Frisson Photographic
  • Spyseniering: Gayle Coetzee
  • Troukoek: Niquita Coetzer
  • Grimering: Nolene de Jager
  • Hare: Mariska Tutt