Ryan & Carla se ou-wêreldse troue

Ryan en Carla het per toeval ontmoet deur vriende en sou nooit kon raai dat hulle uiteindelik mekaar se lewensmaats sou word nie.  Hul troue was ‘n mooi geleentheid wat liefdevol en rustig voorgekom het.  Die blommerangskikkings was sag, vroulik en het gefokus op die pragtige Protea blomme wat deurentyd gebruik is as dekor.  Die kleurskema was ook gebaseer op die kleure van die Protea wat perfek aangesluit het by die venue se ligte kleurskema.  Mooi Troues is veral mal oor die video materiaal wat geneem is deur Mighty Fine Photograpghy, die paartjie se liefde en geluk op hul troudag word perfek vasgevang – beslis ‘n moet om te sien!  Carla het Ryan se asem weg geslaan in ‘n rok van Bridal Manor.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek en Ryan het mekaar ontmoet by Ed’s Diner restaurant in Pretoria-Oos op 16 Januarie 2016.  Een van my vriendinne het my genooi om saam met haar en ‘n vriend uit te gaan vir die aand.  Ek was nie te gretig om saam te gaan nie, want ek wou natuurlik nie die derde wiel aan die wa wees nie.  Haar vriend stel toe voor dat hy een van sy vriende ook sal saam nooi sodat ons almal lekker saam kan kuier.  Na ‘n lang gewik en geweeg stem ek toe in om saam te gaan.  Die vriend wat opdaag is toe Ryan Emery.  Ons het heerlik saam gekuier en aan die einde van die aand het hy vir my nommer gevra… Ek moet bieg dat ek iets in Ryan raakgesien het wat vir my anders was, iets waarvan ek baie gehou het.  Ek het nooit gedink dat ek my trouman die aand sou ontmoet nie!

Twee weke na ons ontmoeting het ek ‘n onverwagse oproep van Ryan af gekry – ek kon dit amper nie glo nie.  Al wat hy toe wil vra is of ek asseblief sy metgesel sal wees vir ‘n opkomende troue.  Omdat ons nog nie mekaar eintlik ken nie, sê hy toe dat ek nie dadelik vir hom ‘n antwoord hoef te gee nie, ek kan eers saam met hom op ‘n afspraak gaan en dan kan ek daarna vir hom ‘n antwoord gee.  Dit klink toe vir my soos ‘n goeie plan en ons het daardie volgende week op ‘n afspraak gegaan.  Ons het so lekker gesels dat die kombuis al toegemaak het teen die tyd dat ons kos wou bestel.  Ek was toe 12 Maart 2016 sy metgesel na die troue en die res is geskiedenis.

Watter eienskappe trek julle na mekaar aan?


Soos wat ek vir Ryan beter leer ken het met tyd het ek raakgesien dat hy ‘n sterk, eerlike en opregte man is.  Hy is ook altyd lojaal in alles wat hy aanpak…’n man so na aan my hart.  Eienskappe wat ek in Carla raakgesien het is dat sy ‘n sterk vrou is.  Sy is ‘n omgee-mens met ‘n sagte hart wat my kalmeer en veilig laat voel.  En…sy is ongelooflik mooi vir my ook!

Wat was die styl van die troue en waar het jul inspirasie gevind?


Die styl van ons troue was ou wêrelds met ‘n bietjie kant en ook baie natuurlike elemente.  Ek het nog altyd ‘n sagte plekkie gehad vir ‘n protea blom.  As kind het ek hulle vreeslik bewonder, so ek dink dit is waar my inspirasie vandaan gekom het.  Ons trou kleure was ligte pienk en room-wit wat ook protea kleure is.

Ons het die venue gekies vir 2 redes:

1) 1 Korientiers 13 – hierdie Bybel versie het ‘n baie spesiale betekenis vir my.  Ryan het dit vir my gelees die aand toe hy my uitgevra het om sy meisie te wees, en weer die aand net voordat hy my gevra het om met hom te trou.  Kort nadat hy my gevra het om met hom te trou het ons begin om na trou “venues” te kyk.  Na ‘n lang gesukkel om die regte plek te kry wat by ons prentjie pas, het ons by “Lace on Timber” ingestap. Met die woorde van 1 Korientiers 13 op die vloer geskryf, het ons net daar en dan besluit, dit is ‘n teken, ons moet hier trou.

2) Ons altwee wou graag ‘n rustieke trou venue gehad het, en “Lace on Timber” het perfek by ons prentjie ingepas.  Die hoe bloekom bome en die oop kapel was vir ons besonders uniek.   Van daar af het alles net in plek geval.

Was julle met wittebrood?


Alles was ‘n verrassing, ek het niks geweet nie en Ryan het alles self beplan.  Al leidraad wat hy vir my gegee het is dat ek somersklere moet inpak, genoeg vir 10 dae en dit is al.  Hy het heeltyd vir my gesê ons gaan Delmas toe, want hy wil my gaan wys waar hy grootgeword het.  Die Maandag na ons troue het Ryan my tasse in die kar gepak en ons het begin ry, tot by Sun City.  Ons het twee heerlike nagte in die Palace spandeer en toe Woensdag oggend vroeg na ons volgende bestemming vertrek. Ryan se ouers het ons lughawe toe gevat, nogsteeds nie bewus waarheen ons gaan nie. Soos wat ons loop om ons tasse in te boek, sien ek toe vir die eerste keer dat ons Seychelles toe vlieg.

Ons het vier aande op die hoof eiland, Mahe, oorgebly by ‘n boetiek hotel met die naam Carana Beach geslaap het.  Daarna het ons ‘n bootjie gevat na Saint Anne eiland waar ons die volgende ses aande spandeer het.  Ons was verskriklik bederf, van vonkelwyn in die kamer met ons aankoms, tot romantiese aandete op die strand met ons voete in die sand.  Ons het ook verskeie aktiwiteite op die eiland gedoen, baie geswem, gesnorkel, staproetes gedoen, ‘n bootrit geneem rondom die eiland, baie lekker geëet en tyd op die strand spandeer.

Dit was idillies!  Dit het gevoel of ons in die paradys was. Ons altwee was baie hartseer om terug huiswaarts te keer.

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Moenie teveel bekommer oor die klein besonderhede nie.  Geniet net elke oomblik, want dit gaan regtig vinnig verby.  Moenie teveel geld spandeer op klein nuttelose goed nie, mense waardeer dit nie.  Moet nie probeer begroot op goed wat vir jou belangrik is nie, onthou jy trou net eenkeer en jy wil nie later terug kyk en sê, ek wens ek het dit of dat eerder gedoen nie.

Vir die Bruid: hou lipstiffie by jou, al die fotos neem maak jou lippe droog. ‘n “noodgeval-kissie” byderhand vir as jou rok later die aand skeur of iets anders wat onverwags is gebeur.  Begin jou troue vroeg genoeg, sodat daar genoeg tyd is vir paartjie, asook familie fotos.   Hoe later hoe minder tyd het julle wat dit lig is vir die fotos.

Wat was die begroting vir jul troue?


Ons begroting was min of meer R 150 000 en ons troue het ons rondom R 180 000 gekos op die ou einde.



Diensverskaffers: