Dirk & Carli se sakpas plaastroue

Dirk en Carli se troue was die toonbeeld van ‘n selfdoen plaastroue wat eenvoudig, maar stylvol is.  Die twee het hulp van kennisse en plaaslike kenners ingespan om takies vir hul troue af te handel en het so ook hul kostes laag gehou.  Die tafelnommers, wat bestaan het uit Afrikaanse idiome, het gesorg dat die twee kon eer gee aan hul moedertaal op ‘n nuwe manier wat maklik as inspirasie vir ander ook kan dien.  Gaan kyk ook hoe hierdie paartjie gebruik gemaak het van eukaliptus blare om hul dekor aan te vul en die neutrale grys skuur op te helder met die groen kleur.

Vertel ons hoe het jul ontmoet?


Ons het in dieselfde kontrei grootgeword, later begin die jonges al hoe meer saam kuier, ‘n braai hier, ‘n krieketwedstryd daar en siedaar!

Wat was die styl van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Ons voel ons moet eers verduidelik.  Toe ons besluit het om op die Terreblanche-familieplaas te trou, het die tema natuurlik by die venue ingeval.  Ons het alles waarop ons ons hande kon lê gebruik om dit ‘n egte eertydse plaastroue te maak.  Die tafels is spesiaal laat maak en soos wat dit ‘n egte boeregemeenskap betaam het almal bakkievragte vol mooi goed aangery.  Troues is nie iets wat volop hier voorkom nie.  Die plaas-tema het ons natuurlik gelei na groei, die blomme en tafeldekor is alles in die veld gepluk en as geskenk kon die gaste elk ‘n handvol boomsade huis toe neem om aan ons liefde te help groei.  Ons taal, Afrikaans, was ook iets wat saam met die plaas gekom het en elke tafel het met sy eie trots-Afrikaans plaas-idioom gespog as naam.

Was julle met wittebrood?


Ons het besluit om die onbekende deel van ons land saam te verken en is met ‘n kamp-waentjie en ‘n paar skaaptjoppies Weskus toe.  Natuurlik ‘n uitdaging, maar meer as die moeite werd.  Daar is niks wat mens so na aan mekaar bring soos ‘n paar van Pella se Woestynpaadjies en geen selfoon opvangs nie.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Almal sê dit natuurlik, maar dit gaan te vinnig verby.  Ons sou minder probeer het om die perfekte dag te hê en meer probeer het om alles net in te neem en dit te geniet.  Wit en room is dieselfde vir iemand wat nie weet nie.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Beplanning is die belangrikste, besluit so vinnig as moontlik wat julle wil hê en sorg dat almal wat iets moet weet, dit weet.  Om aan te neem “iemand” sal daaraan dink, gebeur nie noodwendig nie.

Wat was jul begroting vir jul troue?


Ons het beoog om nie meer as R40 000 te spandeer nie en natuurlik met almal se hulp en die plaas tot ons beskikking kon ons daarby hou.


Diensverskaffers:

  • Venue: Familieplaas Tweespruit Edenville
  • Dekor: Renette Cronje
  • Ruikers en tafelversierings: Salmon Becker
  • Trourok: Barbara Steyn
  • Grimering: Pebble’s Beauty – Corne
  • Hare: Dina van Rensburg
  • Fotograaf: MORE Than Just Photography
  • Tafels: Hennie Prinsloo
  • Stoele en ander dekor: All in one Party in Bethlehem
  • Spyseniering: Katinka Theron
  • Spitbraai: Piccolo’s
  • Platejoggie: Steven Mc Gowen