Martin & Nita se Karoo Troue

Martin en Nita se paadjies het heel toevallig mekaar gekruis die dag toe Martin by die departement van Landbou ingestap het en voorgestel is aan Nita.  Daarna kon die twee nie die liefde tussen hulle keer nie.  Hulle is ‘n plat op die aarde paartjie wat soos baie ander getroudes vanaf klein dorpies hul mooiste dag wou vier met hul naaste mense, by die plek waar hulle mees tuis voel – die plaas. Lees verder onder om te sien hoe hulle ‘n selfdoen plaastroue gereël het.

Vertel ons van jul ontmoeting en wat julle aantrek tot mekaar?


Ek werk by Departement Landbou en Martin het die kantoor besoek.  Hy het met een van my kollegas ‘n afspraak gehad.  Ek was onbewus van sy besoek en was in my kantoor besig.  Ek was baie moedeloos daardie dag en het vir die Here gevra waar sal ek ‘n man kry in Laingsburg wat ‘n klein gemeenskap is met min mense en min potensiaal.  Die volgende oomblik toe staan Martin in die deur, dit was soos die antwoord op my gebed.  My kollega het gesê hy wil my aan Martin voorstel want my werk behels om met die boere te werk en hy is een van die nuwe boere in die distrik. Ons het begin gesels en alles het net van daar af ontwikkel.  Sy spontane geaardheid, liefde vir die natuur en diere het my na hom aangetrek en hy vertel dat my goeie hart en groot glimlag hom aangetrek het.

Wat was die tema van die troue en waar het jul julle inspirasie gevind?


Ons het op die plaas waar ons woon getrou.  Ons is albei baie lief vir die plaas en buitelewe.  Dit was vir ons baie spesiaal om daar te kon trou. Die tema was nie spesifiek nie, net die natuur met windpompe en die kleurskema was blou, silwer en wit met pragtige blomme wat die groen van die natuur inbring.  Dit was lekker dat almal kon help en dat die tannie wat die blomme gedoen het baie goeie vriende van die familie is en so ook al die ander wat gehelp het met vervoer van tafels, stoele ens. na die plaas en natuurlik die fotograaf.  Dit was vir ons lekker om almal wat ons liefhet en koester om ons te hȇ en ons te help met alles die dag.  Dit was meer persoonlik as ‘n venue waar jy die mense nie ken nie, so vir ons was dit baie lekker om dit so te doen en self deel te kon wees van die opmaak en mooimaak van alles.  Dit is ook vir ons spesiaal om vir mense, en hopelik eendag vir ons kinders te kan wys waar ons getrou het op die plaas.  Die plekkie lê ons na aan die hart.

Was julle met wittebrood?


Ons was vir twee weke Thailand toe.  Dit was baie romanties en ons het lekker avonture beleef.  Dit was lekker om ‘n ander land en kultuur saam te kon verken.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Daar is niks wat ons sal verander, die dag was perfek en dit was ‘n baie lekker kuier saam met almal wat ons liefhet, ons het natuurlik ook baie lekker geëet.  Ons sal dalk net ‘n video van die diens wou laat maak het.  Ons het voor die tyd gedink dit is nie nodig nie, maar nou na die troue sou ons dit graag wou hê.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat nou hul troue te beplan?


Geniet die beplanning.  Die dag van die troue gaan so vinnig verby.  Laat die beplanning deel wees van die reis.  Kry iemand om ‘n video te neem, want jy hoor niks van die preek as jy daar voor staan met al die oë op jou nie.

Hoe het julle, jul begroting laat werk vir jul troue?


Ons het baie hulp van ons familie en liefdevolle vriende gekry.  Die feit dat die venue en kerk gedeelde verniet was het baie gehelp.  Die blomme en fotograaf was dierbaar en het dit vir ons gedoen as trougeskenk, ons is hul ewig dankbaar en so lief vir hulle.  Dit was slegs die kos en huur van tafels, stoele en borde, messe en vurke en dan die glase wat ons moes betaal.  Skoonpa het vir ons al die drinkgoed geskenk. Ons is regtig baie bevoorreg met almal se bydraes en hulp.  Dit het ons troue bekostigbaar en spesiaal gemaak.


Diensverskaffers:

  • Blomme: Vriendin van Bruidegom se ma
  • Fotograaf: Karin Haasbroek 
  • Breekware, Stoele en tafeldoeke: Downings 
  • Vervoer: Viljoen Transport, Somerset Wes (om alles na die plaas te vervoer)
  • Spyseniering: The Smiling Oven
  • Skaap op die spit: Alewyn Nel
  • Hare en grimering: Rachelle Marincowitz
  • Trourok en strooimeisies se rokke: Belinda
  • Metaal windpomp as dekor: Bruid se broer
  • Troukoek: Bruid se ma