Mario & Jorietha se verlowing fotosessie

Ons by Mooi Troues beveel aan paartjies om ‘n verlowing fotosessie te hê sodat hul gemaklik kan word met hul gekose fotograaf en sy/haar kamera.  Vra jul fotograaf vir plekke wat hul kan aanbeveel; Fotograwe soos Lucille Scheepers weet van plekkies wat baie mooi lyk op fotos en die gewone mens sal nie die kreatiwiteit kan in sien nie.

Mario en Jorietha het met Lucille se aanbeveling gegaan om hul fotosessie in Stellenbosch te hou, waar hul liefdes verhaal begin het, en die fotosessie deel ons met Mooi Troues se lesers vandag.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons het mekaar ontmoet in Stellenbosch deur gemeenskaplike vriende.

Mario se uitspattige persoonlikheid, sy manier om my altyd te laat lag en die feit dat hy net soveel van die natuur en avonture hou as ek, het my dadelik anders na hom laat kyk en my geïnteresseer.

Jorietha se vriendelikheid, spontane lag en haar bereidwilligheid om altyd te help was wat my na haar toe aangetrek het. Natuurlik is sy ook glad nie sleg op die oog nie.

Vertel ons meer van julle verlowing?


‘n Vriend van ons het laat weet hy het ‘n bootrit gewen en ons moet saam met hom en nog vriende op die boot gaan.  Ons het almal op die 14de Januarie ons kossies ingepak en Simonstad toe gery vir ons bootrit.  Na sowat ‘n half uur op die boot, maak ons vonkelwyn oop.  Mario begin toe ‘n toespraak maak.  Dis op die stadium wat ek begin dink “hoekom sal Mario ‘n toespraak maak op ons vriend se bootrit?”  Mario gaan toe net daar op die boot, op sy een knie en gee die mooiste toespraak en vra my toe om met hom te trou.  Dit was alles vooraf beplan en die “wen ‘n bootrit” storie was alles opgemaak.  Dit was die perfekte dag.

Vertel ons die inspirasie vir die verlowing fotosessie?


Ons wou baie graag ‘n verlowings fotosessie laat doen aangesien dit so spesiale tyd in mens se lewe is.  Ons het nie aanvanklik ‘n spesifieke plek gehad waar ons die fotosessie wou hê nie. Lucille het ‘n paar idees gegee en toe sy die Hangbrug in Stellenbosch noem, het ons geweet dit is waar ons fotos geneem moet word.  Stellenbosch is immers waar ons liefdesverhaal begin het.  Verder is ons altwee lief vir die natuur.  Die Eersterivier met die pragtige bome rondom en die berge in die agtergrond was dus perfek.

Vertel ons van jul droom troue?


Ons droom troue is om al ons geliefdes, vriende en familie, by ons te hê en voor God trou aanmekaar te beloof.  Soos reeds genoem is ons mal oor die natuur en droom dus daarvan om in die buite lug ons seremonie te hê.  Ons hou van ‘n stylvolle en elegante tema met nie te veel “fieterjasies” nie.  Daar moet lekker kos wees en ‘n groot dans baan.  Ons is baie lief vir vas-dans.  As elke gas die dag saam met ons geniet het, sal ons gelukkig wees.


Diensverskaffers: