Jurich & Glenecia se troue in die truinroete

Ons deel die troue van Jurich & Glenecia met julle vir inspirasie vir paartjies wat in George, Tuinroete wil trou.  Glenecia deel met ons dat sy en Jurich die troue van die Kaap af beplan het en moes ‘n paar keer George toe ry net om seker te maak die trou reëlings beloop vlot.

Jurich en Glenecia het ook ‘n prys gewen en hul wittebrood by Blue Bay Lodge gehou.  Julle kan meer lees van Blue Bay Lodge deur hier te klik.


Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek en Jurich was saam op Hoërskool in George – maar hy was 3 jaar ouer as wat ek was so ons het glad nie van mekaar kennis gevat nie.  Ek onthou Glenecia as die skraal meisie met die skool rompie en brilletjies.

Ons het toe eindelik reg ontmoet in 2009, ek was tweede jaar op Universiteit.  Jurich het in my vriendin, sy niggie, se kamer gesit toe ek inkom.  Ek het nie geweet dat hy daar sou wees nie.  Jurich het toe gesorg dat hy my nommer by sy niggie kry.

Die volgende naweek (Augustus 2009) was ‘n langnaweek en ons vriendinne het ‘n saamrygeleentheid saam Jurich gekry Beaufort Wes toe om ‘n ander Universiteit vriendin te gaan kuier.  Dit is ook waar ons die eerste keer gesoen het.  Hy het ons afgelaai en kon nie weg kom nie – hy is later die aand na sy bestemming toe en ek het niks meer van dit gedink nie. Die Maandag toe ry ons weer saam Jurich terug Universiteit toe…ons het pizza gekoop en op ons koshuis gekuier en van daar af…Wel soos hulle sê “die res is geskiedenis”.

Glenecia se oulike moesies en donker hare het die eerste keer definitief my oog gevang.  Sy was van die platteland en ek wou altyd ‘n plattelandse meisie/vrou hê.  So het ons toe mekaar beter leer ken. Ons is ontsettend lief vir mekaar.

Jurich is selde ernstig, soms baie laf, hy sien uit alles die snaakste.  Waar ek nou weer baie ernstig is.  Hy gee my ‘n ander perspektief in die lewe.  Ons is al deur baie proewe en kom altyd sterker uit aan die anderkant.  Jurich het ‘n veerkragtigheid wat boekdele spreek – hy geen nie maklik op nie en sal altyd probeer om dinge beter te maak tussen ons.  So vul ons mekaar aan.

Wat was die inspirasie vir die styl van jul troue?


Die styl van ons troue was baie eenvoudig – soos ons albei is.  Ek het baie inspirasie op Pinterest gekry, met die hulp van my strooimeisies (Psalm Tobias, Fiona May, Tezna Abrahams en Nicole Swart) en ons dekor koördineerder (Mercy James) het baie gehelp om ons eenvoudige maar elegante trou idees in te sluit by ons troudag.  Die lokaal (venue: OppiePlaas) waar ons getrou het rus saggies in hartjie van die Tuinroete.  Ons hou van staptogte en uitstappies as ‘n paartjie – die venue het vir ons dit gegee.  Dit is baie natuurlik met berge, die dam, plantasies en diere tussen ons. Ons hou van die eenvoudige dinge in die lewe.  Oppieplaas is so rustig– ons kon vir niks meer vra nie.

Was julle met wittebrood?


Ja, ons was geseënd genoeg om ‘n wittebrood te wen by die Wedding Expo in die Kaap.  Ons het ‘n naweek spandeer in Saldanha by die Blue Bay Lodge.  Dis pragtig en letterlik op die see.  Ons het die omgewing verken, lekker gerus (want na die troue was ons taamlik moeg) en baie gery na die klein plekkies toe in die Weskus – dis nie speletjies om ‘n troue vanaf die Kaap te reël wat in George plaas vind nie.  

Wat sou jul verander het as jul kon?


Definitief meer mense nooi – om te trou was duur.  Ons het ‘n redelike groot troue gehad maar soveel vriende en familie was nie genooi nie, want ons moes aan ons gastelys sny.  Ons het in Oktober ook huis gekoop en dit het finansieel baie druk op ons gesit.  Ons sou ook graag wou oorsee gaan wittebrood hou – ons was nog nie een buite die land nie en hoop om binnekort bietjie oorsee te gaan.

Advies wat julle aan ander paartjies kan gee wat besig is om hul troue te beplan?


Doen dit julle manier – mens kan nie altyd vir almal tevrede stel nie.  Luister na opinies, maar doen wat vir julle gelukkig gaan maak.  Aan die einde van die dag is dit julle twee se dag.

Moenie geld en onnodige tyd op onbenullighede spandeer nie, soos byvoorbeeld Dankie geskenke (mense gee nie om oor sulke goed nie), om te bespaar het ons die voorgereg by pre-drankies ingeskakel.

Selfdoen as jy kan – ons het self ons magnete op ons Onthou-die-Datum geplak en self ons uitnodigings verpak.

Belê in ‘n goeie fotograaf en goeie grimeer kunstenaar.

Maak die kerkdiens spesiaal – dis waaroor die dag gaan.

Aandag aan detail – dis die klein goedjies wat saak maak in die lewe, voor jou troudag, op jou troudag en in jou huwelik.

Wat was jul trou begroting?


Ons begroting was R100 000.00 ons het omtrent R130 000.00 spandeer – ons moes ook baie naweke George toe gaan ry om goedjies uit te sorteer.  Daar was so baie goedjies wat ek nog wou doen maar daar was nie geld is nie, moenie laat dit jou afsit nie.  Wees dankbaar vir die min wat jy het.  Ek moet noem – ons kos was die duurste, maar ons wou graag hê ons gaste moes lekker eet.


Diensverskaffers