Jacques & Heila se selfdoen Bosveld troue

Ons by Mooi Troues is opgewonde om die troue van Jacques en Helia met julle te deel.

Die Bosveld landskap en Heila se selfdoen kreatiwiteit het perfek saam gewerk.  Heila het vir dekor self die blomme rangskik en Bonsai boompies as middelstukke vir die onthaal tafels gebruik.  Heila met die kleur Serenity gegaan; Omdat jy nie tafeldoeke en servette in die kleur kry nie het Heila se ma vir die troue die tafel-lopers en servette gemaak.

‘n Briljante idee wat Jacques en Heila gedoen het vir hul troue was om ‘n Biertent met ‘n groot-skerm op te rig sodat hul gaste ‘n rugby wedstryd kan kyk terwyl hul besig was met hul fotosessie.  Dit het verseker dat die gaste nie verveeld raak of die wedstryd mis nie.

Hulle het ook die Suid-Afrikaanse tema sterk gehou met Melktertjies as heildronk-drankies in plaas van die tradisionele vonkelwyn.

Blaai deur Jacques en Heila se fotos en lees hul antwoorde propvol inspirasie op Mooi Troues se vrae.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ek en Jacques het by ‘n huis-partytjie van Hoërskool Randburg ontmoet.  Ek was 15 en hy was 17.  Hy het sy heel beste sokkie passies uitgeruk en my knieë sommer lam gedans.  Ons liefde vir dans, musiek, en om mekaar te kan laat lag, het ons na mekaar toe aangetrek en bymekaar gehou.  10 Jaar later het ons ons herdenking op ons wittebrood gevier.

Vertel ons meer van die inspirasie van die styl van die troue?


Ons het altyd geweet ons wil ‘n bosveld troue hê.  Sonder die tipiese bosveld kleure en wilde diere as agtergrond.  ‘n Bruilof waar al ons vriende en familie ons liefde vir mekaar vir ‘n hele naweek in die bos kon vier.  Ons het Goedgedacht as venue gekies omdat dit die bosveld en ‘n stylvolle venue met natuurlike hout en wit detail perfek gekombineer het.  Met ons dekor wou ons wegbreek van die tradisionele blomme en ons het ‘n minimalistiese styl gekies.  Ons het ons inspirasie gevind by feetjie liggies, verweerde palette en klein Bonsai boompies met grys-blou potte.  Ons wou ook die spesiale elemente van ons kultuur inbring en ons het besluit op Melktertjies in plaas van vonkelwyn en ‘n Biertent waar ons gaste die rugby wedstryd tussen die Springbokke en die ‘All Blacks’ kon geniet terwyl ons fotos neem.

Vertel ons van jul wittebrood?


Jacques het my verras met ‘n asemrowende wittebrood na die eksklusiewe en ongerepte White Pearl Resort in Mosambiek.  Met die spierwit sand en deurskynende turkoois water was dit beter en meer romanties as wat ek ooit kon droom.  Ons huisie was reg op die strand gebou en ons het ons eie swembad gehad met ‘n privaat paadjie tot by die see.  ‘n Week van luilekker kuier saam met my man op die wit strand beddens met ‘n skemerkelkie in die hand.  Die perfekte einde vir ons trou-storie!

Enige advies aan paartjies wat hul troue beplan?


As ons terugkyk na ons troudag kan ons met oortuiging sê dat ons niks sou wou verander nie.  Dit was ons perfekte dag.

Hier is ‘n paar wenke wat ons op die pad geleer het:

  1. Besluit op die aantal gaste wat julle graag sal wil nooi en deel dit van die begin af gelyk tussen die bruid en bruidegom se familie en vriende.
  2. Moet nie stres oor dinge wat julle nie kan beheer nie – Soos die weer.  Die dammetjie onder ons kerkie was ongelukkig dolleeg en sonder Waterlelies omdat ons troudag in die middel van ‘n droogte geval het.  Soos ons fotograaf oor ons troudag gesê het: “When life gives you lemons, make Mojito’s!”  Onweer, droogte en ander ‘ongewenste’ weerstoestande maak die mooiste fotos.
  3. Moet nie bang wees om jou dekor en blomme self te doen nie.  Dit is so bevredigend om op jou troudag te sien hoe mooi alles lyk en dat jy dit self gemaak het.  Ek het vas besluit op ‘n spesifieke blou-grys kleur – Serenity.  Omdat ons nêrens tafeldoeke of servette in hierdie kleur kon kry nie het my ma dit vir ons gemaak en ek het die wit vlinders op elke tweede servette geverf.  Die paar ure op jou troudag gaan so vinnig verby.  Maak die beplanning deel van die lekker.
  4. As julle by ‘n venue trou wat ‘n entjie se ry is – onthou om van die begin af die reiskoste van die verskaffers in ag te neem.  Dit tel verskriklik vinnig op na ‘n reuse bedrag.

Wat was jul begroting vir jul troue?


Ons begroting vir die hele troue was R200 000.  As gevolg van die blomme en dekor wat ons meestal self gedoen het, het ons troue op die ou einde net so onder dit gekos.


Diensverskaffers: