Graeme & Donna se feëverhaal in die bos

Graeme en Donna wou ‘n unieke ervaring skep vir hul gaste op hul troudag.  Hulle het presies dit bereik met die bos troue wat se tema geïnspireer is deur sirkels.  Dit was ‘n intieme geleentheid wat almal kans gegee het om te fokus op die twee se liefde vir mekaar.  Lees onder oor hulle slim idees vir wittebrood fondse en trou-geskenke, asook hoekom hulle die unieke venue in die bos gekies het.

Vertel ons hoe het julle ontmoet?


Ons storie het op ‘n bewolkte dag begin by ‘n strand partytjie in Kogelbaai in Oktober 2013.  Toe ek (Graeme) vir Donna tussen al die mense sien, het ek geweet – dis my vrou daai. Later die aand het gemeenskaplike vriende ons aan mekaar voorgestel en ons het ons paadjie begin saamloop. Drie jaar later, op 4 Maart 2016 in die pragtige Cederberge het Graeme op een knie gegaan en die groot vraag gevra.  Die res is geskiedenis!

Wat was die styl van die troue en waar het julle inspirasie gevind?


Ons het al baie troues en temas gesien.  Hulle was vir ons almal tradisioneel en nuwerwets.  Ek en Graeme het besluit ons wil iets doen wat onthou sal word.  Ons het toe gekies om in ‘n bos te trou omdat ons versot is op die energie wat jy voel in ‘n bos.  Ons het geweet van baie populêre bos venues, maar het iets klein en intiem gesoek en was in die wolke toe ons die perfekte bos by Mountain Breeze Resort gevind het. Die tema was sirkels omdat dit anders is. Die sitplekke in die bos was op hout-bankies wat in ‘n kring formasie gepak was. ‘n Groot ronde krans het ook bo ons gehang en ons het in ‘n sirkel van roosblare gestaan. Vir ons het dit gevoel asof ons eenwording dieper en meer intiem verteenwoordig word met die sirkel in die hemel bo ons en die sirkel op die aarde onder ons.  Die onthaal was by Forest 44 wat oorkant Mountain Breeze resort is.

Was julle op ‘n wittebrood?


Ons het vir ons gaste ‘n keuse gegee om op enige manier ‘n geskenk te gee.  Ons het wel genoem dat as hulle sou wou, kon hulle tot ons wittebrood fonds bydra of alternatief dan op enige ander manier ons verras met ‘n geskenk.  ‘n Week later was ons op pad na Bali toe vir ‘n paar weke.  Dit was ‘n paradys en ons is so dankbaar vir die hele vakansie, vlugte, akkommodasie, kos, en masserings wat alles deur ons gaste se bydra befonds is.

Wat sou julle verander van jul troudag?


Ons sou graag die hitte wou afkoel! Ongelukkig was ons troudag op een van die warmste dae in Februarie.  Dit was 36 grade teen 4nm. Gelukkig het een van ons oulike familielede vinnig “China Town” toe gegaan en 50 waaiertjies vir al die dames op die troue gekoop en daar was lekker koue bier vir die manne.

Advies aan ander paartjies wat hul troue beplan?


Ons het self ons troue beplan en die laaste paar weke voor die troue was vreeslik rof!  Daar was baie klein dingetjies wat gebeur het soos veranderinge aan die gastelys, probleme met verskaffers en die tafel-plan. Wees voorbereid dat dit nogal rof kan raak en vra vir vriende en familie om te help. Gee vir elkeen ‘n taak wat hulle sal kan doen op die dag van die troue sodat jy minder dingetjies het om oor bekommerd te wees op die dag. Op die dag van die troue vlieg alles so vinnig verby, sit terug en neem dit in.  Probeer ontspan en elke oomblik geniet al is daar dingetjies wat nie vlot verloop nie.  Onthou al die gaste wat hulself geniet en saam lag. Al het jy nie tyd om met almal op die dag te gesels nie – dis okay.  Geniet dit net saam met almal.

Wat was jul begroting en het julle daarby gehou?


Voordat ons enige verskaffers genader het, het ons gesit en ‘n begroting opgestel van wat ons dink alles sal kos.  Ons aanvanklike begroting was R100 000 wat alles moes dek. Dinge het uitgedraai om baie meer te kos, al het ons goeie navorsing gedoen vir die beste pryse. Die ding wat ons begroting oorgegooi het was die kontant kroeg en gaste wat tot na middernag gekuier het.  Maar ons sal dit vir niks verruil nie, want soos hulle sê: “‘n goeie troue het goeie kos, goeie musiek en genoeg drankies vir almal om gesellig te wees”.  Die finale begroting was R140 000.

    Artikel Diensverskaffers:

    Klik hier vir meer diensverskaffers

    Besoek Mooi Troues se aanlyn Trougids. Hier sal jy betroubare diensverskaffers in Suid-Afrika vind vir jou troudag vanaf enige plek waar jy ‘n internet konneksie het en ‘n toestel wat gekonnekteer is tot ‘n aktiewe internet konneksie, wees dit jou slimfoon, skootrekenaar of ‘n rekenaar. Ons het seker gemaak ons lys slegs betroubare diensverskaffers wat jy kan vertrou om hulle beste te gee vir jou troudag. Indien jy nie vind waarvoor jy soek nie, kontak ons asseblief.

    Is jy ‘n diensverskaffer wat op Mooi Troues wil adverteer? Klik hier vir ons advertensie kostes.

    Artikel Diensverskaffers: