Franco & Jolene se selfdoen troue

Franco en Jolene se selfdoen troue was ‘n pragtige geleentheid omring met ou wêreldse sjarme en inspirasie. Elemente soos die onversierde troukoek bedek met Roosmaryn en Vinkel blare is ‘n nuwe manier om die onversierde troukoek neiging te interpreteer. Hulle het ook ander unieke elemente gehad op hul groot dag soos blompatroon strooimeisie rokke asook pragtige ruikers en blomme wat hoofsaaklik uit groenerigheid bestaan het. Die fotografie is inspirerend en vang perfek al die emosie wat deel was van daardie dag. Videografika is behartig deur Mighty Fine Productions en beslis iets waarna hierdie paartjie nog vir jare sal kan kyk en glimlag oor hulle spesiale dag.

Vertel ons hoe het julle ontmoet


Ek en Franco het deur gemeenskaplike vriende ontmoet.  My beste vriendin is met sy beste vriend se broer getroud.  Na menige kuiers, koffies en geselsies kon ons nie anders as om op mekaar verlief te raak nie.  Ons geniet dieselfde goed in die lewe soos kosbare tyd met vriende en familie spandeer, ons geniet ‘n gesellige ete, nuwe plekke ervaar en om mekaar uit te daag.  My hart het lief geraak vir Franco se omgee hart en hy het lief geword vir my menswees. 

Wat was die styl van die troue?


Die gevoel waarvoor ons gegaan het was, intiem en warm, terselfdertyd ook lig en persoonlik.

Ek is nog altyd mal oor `n woud en gesellige gevoel.  Daarom het ons baie groenerigheid op die tafels gehad, met wit proteas, kerse en goue voëltjies.  Om die intieme en nimf gevoel te skep, het ons geel feetjie ligte gespan en die pale in die venue ook toegedraai met Eucalyptus blare.

Ons het die naweek wat Franco my gevra het om te trou per toeval by die venue oorgeslaap, en was net van die begin af mal oor die styl, mense en gevoel van die venue (al was dit nog onder konstruksie).

Was julle met wittebrood?


Ons Wittebrood was fantasties, ons was na die Ooste van Mauritius na Ambre Resort & Spa en het 7 nagte op die mooie eiland deurgebring.  Hierdie was beslis een van die mooiste en lekkerste vakansies tot dus ver, met baie son, sand en glashelder water.  Dit het werklik gevoel asof ons in `n paradys was en is die perfekte manier om die huwelik af te skop.  Ons het gedoen net wat vir ons lekker was en waarvoor ons lus gekry het.  Baie geëet, gesnorkel, bootjies getrap en ontspanning was bo aan ons lys.

Wat sou jul verander het as jul kon?


Ons dag was werklik perfek, met soveel liefde, vriende en geselligheid.  As ons kon, sou ons definitief die tyd net vir `n rukkie laat stilstaan het of dalk vroeër die dag getrou het om `n langer dag te hê.

Advies aan paartjies wat besig is om hul troue te beplan?


Geniet die beplanning, dit gaan regtig so vinnig verby.

Omdat ek sukkel met keuses maak en van klomp verskillende goedjies hou, was dit vir my makliker om idees te druk en bymekaar te sit soos ons aangegaan het.  Deur om al jou verskillende idees bymekaar te hou is dit makliker om te sien wat bymekaar pas.

Besluit ook wat vir julle belangrik is en hou daarby.  Onthou waaroor hierdie spesiale dag van julle regtig gaan, bo en behalwe al die mooi, werk en moeite wat in so dag ingaan, is hierdie dag dié dag wat jy en jou man ‘n belofte voor God maak.

So ontspan, haal diep asem en geniet die voorbereiding.


Diensverskaffers: