Beplan Jou Troue 6 Van 12

Ons het verlede maand die vyfde van ons twaalf maande trou beplanning aftiklys gedeel.  Hierdie is maand ses van twaalf.  Met ander woorde sewe maande voor jou troudag.  Dit is die nodige informasie wat oor twaalf maande opgebreek sal word in kleiner stukkies, sodat dit nie so oorweldigend is om jou troue te beplan nie.  Lees mooi deur elke een van die hoofpunte, om seker te maak wat jy moet doen.  Om ‘n troue te beplan is baie stresvol, veral as jy dit self beplan, maar Mooi Troues help jou om dit maklik en pynloos te doen.  Klik hier om meer advies artikels te lees.

As jy nog nie die punte in ons vorige artikel gedoen het nie, moet nie stres nie, jy kan dit doen tussen in ‘n korter periode.  Hierdie artikels is slegs ‘n gidslyn vir jou om te gebruik om jou troue minder stresvol te maak deur ‘n jaar voor die tyd al met die beplanning proses te begin.  Daar is paartjies wat daarvan hou om hulle troue in korter tydperke te doen, met bietjie meer stres. Daar is niks fout daarmee nie.


WAT JY TEEN DIE TYD MOES DOEN:

As jy nog nie begin beplan het nie, moet nie stres nie, jy het nog sewe maande van beplanning oor.  Dit beteken net dat jy meer moet doen oor ‘n korter tydperk.  Dit is nie onmoontlik nie, jy sal net meer moet fokus en aandag gee aan jou beplanning proses.

Jy moes nou teen die tyd die volgende gedoen het of baie naby wees om die volgende te doen:

  • Begroting: Moet nou al gefinaliseer wees, sodat jy weet waarop jy wat kan spandeer.
  • Datum van jou troue. Dit moet definitief al gefinaliseer wees.  Sonder ‘n datum kan jy niks boek nie.
  • Venue: Gefinaliseer het en geboek het.  Onthou om jou deposito te betaal en ook die kontrak baie noukeurig deur te lees voordat jy dit teken.
  • Bekende Diensverskaffers: Ontmoet het en begin boek het.  Bekende Diensverskaffers is lank voor die tyd uit geboek, so om seker te maak jy kry hulle vir jou troue, sal jy hulle spoedig moontlik moet boek.
  • Besluit het of dit ‘n Selfdoen troue gaan wees en of jy ‘n Koördineerder gaan huur. Dit is nou die tyd om dit definitief te finaliseer.  Koördineerders kort ook tyd om troues te beplan. Jy sal nie hulle enigste kliënt wees nie.
  • ‘n Idee begin kry oor watter tiepe dekor jy van hou, styl van die troue en ook begin rondkyk het na al die verskillende Diensverskaffers wat jy sal benodig vir jou groot dag.
  • Fotograaf en Videograaf geboek het
  • Trou-gevolg gekies het
  • Versekering
  • Gastelys finaliseer het
  • Reeds besluit het op jou trourok
  • Reeds besluit het op die koek en koekbakker
  • Jou bloemis geboek het
  • Begin verblyf geboek het vir die bruidspaar en ook gaste.  Onthou hoe vroeër jy plek boek hoe goedkoper sal die prys wees.
  • Wittebrood begin beplan het
  • Trou Offisier/Amptenaar geboek het
  • ‘n Verhuring besigheid: Ingedagte het in die geval dat jul self die trou dekor doen en beplan.
  • Spyseniering: Begin proe en heel moontlik geboek het
  • Beligting en elektriese benodighede.
  • Grimering- en Haarstilis geboek.

SKRYFBEHOEFTE ONTWERPERS:

As jy nog nie begin dink het aan ‘n professionele skryfbehoeftes ontwerper nie, is dit nou die perfekte tyd om daaraan te begin dink.  Skryfbehoefte ontwerpers ontwerp alles vanaf jou spaar die datum kaartjies, uitnodigings, spyskaarte, bykomstighede soos hemde en of wapens vir jou troudag ens.  Die lys is te lank om hier te noem, anders is hierdie artikel ‘n skryfbehoeftes ontwerp artikel.

Dit is belangrik om iemand professioneel te kies en regtig te kyk wie dit doen vir die passie en nie net wie dit doen om geld te maak nie.  Gaan met iemand wat jy gemaklik mee voel en wat vir julle gepas is.  Verskillende ontwerpers het verskillende style.  Klik hier om Mooi Troues se verkose skryfbehoefte verskaffers te sien.


STUUR SPAAR DIE DATUM KAARTJIES:

Begin nou al jou spaar die datum kaartjies uitstuur na jou buitelandse gaste wat moet reis om by jou troue uit te kom in tyd.  Dit is nie ‘n formele uitnodiging nie, maar dit gee net die nodige informasie op die oomblik soos die datum en plek.


GRIMERING EN HARE PROEFLOOP:

Doen nou al jou grimering en hare proefloop, want as jy nie gelukkig is met iets nie kan jy altyd jou kunstenaar vrae of jy dalk weer ‘n proefloop kan doen om dit te verbeter.  Onthou ook, jy huur ‘n kunstenaar gebaseer op die persoon se unieke styl van grimering en hare, soos met enige ander kunstenaar.  Maak seker jy huur iemand waarmee jy gemaklik voel en nie net iemand wat jy op ‘n afslag prys gekry het en nou die persoon se styl probeer verander om jou te pas nie.  Dit is baie belangrik dat jy weet daar is verskillende vlakke van kunstenaar soos beginner-, middel- en dan jou top professionele bekende grimering kunstenaars.


DINK AAN VERMAAK VIR BUITELANDSE GASTE:

As jy verblyf boek vir buitelandse gaste maak seker jy vind uit wat die aktiwiteite en gewilde plekke naby is.  Maak dan ‘n oulike lys wat jy vir elke een van jou gaste kan stuur per e-pos, sodat hulle ook kan begin beplan wat om te doen voor en na die dag van jou troue.  Jy wil nie graag jou gaste ongemaklik laat voel nie.


VERLOWING FOTOSESSIE:

Dit is net so ‘n belangrike punt.  Nie almal is gemaklik en modelle voor die kamera nie, maar dit beteken nie jy moet sleg lyk op foto’s nie.  Boek ‘n verlowing sessie by jou fotograaf.  Dit kos bietjie duurder, want dit is ‘n ekstra fotosessie, maar doen jouself ‘n guns en boek dit.  Dit gaan jou baie help om gemaklik te word met jou fotograaf en ook voor die kamera.  Julle kry ook tyd om bietjie met die fotograaf te praat en meer te verstaan hoe die persoon is wanneer hy/sy foto’s neem.  Hy/Sy sal heel moontlik vir jou advies gee oor wat om te doen en wat om nie te doen nie.

Vir jou verlowing sessie.  Trek asseblief mooi aan en nie asof jy ‘n draf sessie gaan doen nie.  Dit is nogsteeds ‘n fotosessie en die fotograaf gaan dit heel moontlik deel op hulle Webtuiste en Sosiale media.


BOEK VERVOER VIR JOU GASTE:

Boek Vervoer vir jou gaste vroegtydig, omdat daar beperkte toer besighede is wat groepe mense aanry vir troues en as hulle vol geboek is, kan dan nogal ‘n duur storie raak om ‘n bussie self te huur met ‘n drywer ens.  So dink solank daaraan waar jou gaste gaan bly en hoe om hulle te vervoer vanaf hulle verblyf tot by die trou seremonie en onthaal en dan die aand terug na hulle verblyf toe.

Lees volgende maand oor maand 7 se aftiklys.


Artikel Krediet: