Nicolaas & Carina se selfdoen troue

Teenoorgestelde lok en dit lees ons duidelik in die liefdes storie van Nicolaas en Carina; met hul duidelike verskillende belangstellings kan die twee nogsteeds nie genoeg kry van mekaar nie.

Carina het soos ‘n Griekse Godin gelyk op die spiraal trap met haar haarstuk en ‘n rok van Bridal Manor glo ons Nicolaas kon nie sy oë van sy pragtige bruid afhou nie.

Die dekor van die onthaalsaal is vreeslik mooi en Carina deel met ons lesers ‘n baie oulike idee om as geskenke vir gaste te gee.  Ons by Mooi Troues dink dit is absoluut briljant.



Vertel ons hoe het julle ontmoet?

Ek en Nicolaas het net buite ons universiteit se biblioteek ontmoet – waarskynlik my gunsteling (en sy minder gunsteling) plek op kampus.  Ten spyte van ons duidelike verskille, hy hou van sport & syfers en ek is ‘n liefhebber van tale & stories,  kon ons nie (en kan nog steeds nie) genoeg van mekaar kry nie.



Vertel ons van die tema van jul troue.

Ons wou ons troue eenvoudig en persoonlik hou.  Die seremonie was in ‘n kerkie langs die universiteit (St. Wilfrid’s) waar my oudste suster ook getrou het.  Die onthaal was by my ou hoërskool (Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria).  Die skool het ‘n pragtige saal met houtvloere, ‘n groot stoep en ‘n pragtige laning witstinkhoutbome…

Ons wou iets van onsself uitbeeld en terselfdertyd ons gaste ook laat tuis voel. Ons het ‘n groen-bos-byna-sprokie gevoel probeer skep: baie groen, stowwerig donkerblou en ‘n tikkie goud.  Om ‘n persoonlike konneksie by die troue toe te voeg, het ons besluit om vir elke gas ‘n boek as ‘n geskenk te gee.  In die hospice, tweedehandse boekwinkels en kermisse het ons gesoek na boeke en stories wat by elkeen van ons 160 gaste sou pas: van klassieke romans, digbundels, kookboeke, handleidings en woordeboeke.



Vertel ons meer van jul fotosessie?

Ons was gelukkig om ons foto’s op die Universiteit van Pretoria se kampus te neem – op die presiese plek waar ek en Nicolaas ontmoet het. Ons wonderlike fotograaf, Hanneri de Wet, het ons baie gemaklik laat voel.



Advies vir paartjies wat hul troue beplan?

Besluit as ‘n paartjie wat vir julle belangrik is op julle troudag en begin daar.  Vir ons was dit goeie wyn, goeie kos en goeie musiek.

Vra vir hulp: Ons was gelukkig om ‘n ondersteunende familie en groep vriende te hê wat gehelp het met die beplanning, versiering, voorgereg, nagereg en agtergrondmusiek.  Ons het ook die liefdevolle hulp van Lucretia Schabort gehad, ‘n troukoördineerder wat ons baie met die blomme en versierings gehelp het.

Maak dit pret: Vind iets wat die hele voorbereidingsperiode vir julle vreugdevol sal maak.  Danksy my liefde vir tale en letterkunde, was dit vir my boekwinkels.



Diensverskaffers