Tinus & Annami se plaas troue

Bruidspare is gewoonlik gestres oor die reën op hul troudag, maar soos ons in die fotos sien van Tinus en Annami se plaas troue het die reën ‘n wonderlike dramatiese effek tot die fotos gegee en soos Annami sê elke druppel was ‘n druppel seëning.  Die troue is perfek vir paartjies wat ‘n Winter troue beplan of beplan om te trou waar dit reën gedurende die Somer.



Vertel ons van jul ontmoeting?

Die ontmoeting was baie gepas vir die tyd van ons lewe.  Tinus was ‘n 4de jaar BIng student in Dagbreek en ek ‘n 2de jaar BSc student in Nerina.  Dit was die begin van die jaar en soos dit maar in Stellenbosch gaan Jan/Feb is dit Jool en Varisty Cup en baie min akademie.  My kamermaat en sy kamermaat was baie goeie vriende gewees en so het ons al in Jool tyd  by die manne in Dagbreek gaan kuier.  Ek het my vriendin, Dore gesê, “Joh maar wie is daai man met die mooi arms?”  Ongelukkig het ons nie toe al die moed gehad om met mekaar te gesels nie.  Die 1ste Maart is Dore se verjaarsdag en die 28ste Februarie is toe nou ‘n Maandagaand en as ‘n Matie beteken Maandagaand in Februarie Varsity Cup Rugby.  So is ons saam met die Dagbrekers Rugby toe.  Ek is maar effe skaam gewees en ken nie die Dagbrekers nie en besluit toe om by my broer van Majuba te gaan sit.  En dis toe wat Tinus my sien verby loop en besluit hy wil daai meisie beter leer ken.

Lang storie kort.. Almal eindig toe in Nubar op en voor ek weet staan Tinus voor my met my gunsteling drankie (as ‘n student) in sy hand. Ek was stom, ek was nie bewus dat hy my naam ken nie, maar die man het vinnig by Dore gaan seker maak wat ek graag drink… En so het ons storie begin, al dansend op Nubar se dansvloer.



Inspirasie vir die styl van die troue?

Ek het op ‘n plaas groot geword en was die enigste meisie tussen 5 seuns, dus het ek nie graag gedroom oor my trou dag en al die tierlantyntjies nie.  Tinus is ook mal oor die plaaslewe en ons gunsteling plek is hulle wildsplaas in die Oos Kaap, dit is ook presies die plek waar Tinus op ‘n uitkykpunt op sy knieë voor my was met die mooiste ring ooit.  Dus was die plaas ons inspirasie vir die troue.  So ons wou alles so eenvoudig en gemaklik as moontlik hou.



Vertel ons van jul Wittebrood?

Ek het eers by paspoort beheer uitgevind dat ons bestemming Zanzibar was… Wat ‘n ongelooflike ervaring.  Ons het so ontspan dat ons later skuldig begin voel het.  Dis net blou blou water, mengeldrankies 10vm die oggend op die strand, kelners wat jou bederf en etes wat jou laat smul na nog.  Ons hotel, Melia is die perfekte wittebrood bestemming, jy voel nooit of daar ‘n oormaat mense is nie, jy het jou privaatheid, maar kan tog etes geniet saam met ander toeriste.  Ons het ‘n toer gaan doen, Seafari.  Hulle neem ons op ‘n Dhow bootjie op die see uit na Mnemba eiland waar ons kon snorkel tussen die mooiste vissies.  Daarna was ek en Tinus braaf genoeg om in die diep water saam met die Dolfyne te swem. Dit was waarlik ‘n onvergeetlike ervaring.  Die perfekte dag was afgesluit met ‘n braai op die strand.



Wat sou jul verander as jul kon?

Voor ek ons foto’s van Ronel gekry het sou ek sê die reën en die koue… Maar die foto’s is so ongelooflik mooi en soos die Dominee gesê het elke druppel is ‘n seëning van Jesus, en was ons nie geseën nie.  Die aand was perfek, presies soos ons dit wou gehad het. Ons kon ‘n heerlike aand hê saam met ons familie en vriende.



Advies aan paartjies wat nog moet trou?

Begin jou beplanning vroeg om onnodige stryery te vermy.  Almal se gemoedere is hoog voor die troue.  Dis emosies van blydskap en hartseer (omdat twee kinders die ouer huise verlaat).  Maar meeste van alles geniet elke oomblik, moet nie eers dat gietende reën jou ontstel nie.  Alles gebeur met ‘n rede.



Diensverskaffers: