Louis & Mariza se Rooi Kappie Troue

Louis en Mariza en het ‘n unieke tema vir hul trou gehad wat ongelooflik mooi gelyk het en dit pas perfek my vandag, siende dat die Valentynsdag is en alles Rooi gaan wees.  Louis en Mariza se het baie fondse gespaar deur hul familie lede betrokke te maak by hul troue.  Daar was ook lekker gelag tussen deur met die trou reëlings en Mariza het al geringe tyd geweet wat die kleur van haar rok gaan wees toe Louis dit vroeër vir haar bevestig het.  Die kleur Rooi was baie mooi en stylvol reg oor die troue gebruik.

Hulle het op hul wittebrood vir hulself toeriste gehou in Suid-Afrika en al die mooi dorpies en plekkies gaan besoek.  Dit is iets wat ons as Suid-Afrikaners meer moet doen, toeris speel in ons eie land.


Louis en Mariza vertel: Ons hele begroting was R40,000 – en ons het vreeslike groot families wat almal lekker Afrikaans is en graag troues bywoon!  Dus het ons meeste goed self gedoen (dit wat ons kon, maar die res het ons verskaffers voor gebruik).  My suster is ‘n grafiese ontwerper en het vir ons al die kaartjies/pamflette as ‘n trougeskenk gegee.  My ma is ‘n bloemiste, ek en my sussie het groot geword tussen lappe en blomme en dus het sy en my ma al die blomme gerangskik (daar was nog ‘n begrafnis in die kerk die oggend van ons troue, so amper alles is vooraf gemaak om ‘n dag of twee te kan hou). Twee van my liefste tannies het gehelp met toffie-appels maak as gaste geskenke en my een niggie het gehelp om die saal te versier – spesifiek al die voëltjies opgeplak en die sport prestasie borde toegemaak met ongedrukte koerantpapier.  Ek het self die koek gebak (en ja, die aand voor die tyd amper my hare uitgetrek van frustrasie!), my liewe skoonsuster (boetie se vrou) het 300 pannekoekies gebak as deel van die kos wat tydens die foto-uur geëet is.  My ma het my trourok en  mantel gemaak – sy het vir weke voor die troue elke aand tydens die kragonderbrekings by ‘n lampie sit en borduur, sowaar ‘n erfstuk!  Die ander rokke (strooimeisies, blommemeisie en ma-van-die-bruid) is deur my en my ma gemaak.  Ek en my ma en sussie het al baie troues gedoen, maar hierdie was sowaar die sneeuvlokkie wat die bal aan die rol gesit het om ons eie trou-besigheid in 2016 te begin.



Hoe het julle ontmoet?

Mariza: Ek het eendag by my sussie ingeloop, smoorkwaad vir ‘n dosent oor ‘n taak.  Hier sit ‘n man en sy broer voor my vir wie my sussie besig is om besigheidskaartjies te maak, ek het die ketel aangeskakel, die taak neergesit op die tafel en uitgeloop en gedink oor hoe simpel ek is: ek glo dan nie eers in liefde met die eerste oogopslag nie en hier sit dit dan nou, lewensgroot, reg voor my.

Louis: Ek was by ons grafiese ontwerper, toe loop hierdie jong meisie in. My eerste gedagte: Wie is sy? Is sy Enkellopend?



Wat was jul Trou-tema inspirasie?

Mariza: Ek wou my hele lewe lank in ‘n rooi of ‘n swart rok trou, en sonder dat Louis geweet het van dit het hy eendag genoem hy sal graag vir sy toekomstige vrou wil vra of sy nie in ‘n rooi rok sal trou nie.  Jare later het hy natuurlik daarvan vergeet, maar ek het mos geweet – hier kom ‘n ding.  So die trourok se kleur was vasgestel, en toe dink ek: “Hmmm, wat van ‘n tipe Rooikappie-tema? Iets wat soos ‘n woud lyk…” So toe kry ek die beste van beide wêrelde – ‘n rooi rok en ‘n swart, fluweel mantel met die boom wat op ons troukaartjie (en regoor die troue) gepryk het op geborduur.



Vertel ons van jul Wittebrood:

Louis: Ons het deur Suid-Afrika getoer, my vrou het glad nie geweet waarheen ons gaan nie, net dat sy moet warm klere inpak.  Ons het in die Karoo, Prins Albert, begin, deur Gariepdam, Clarens, Golden Gate Nasionale Park, Little Switzerland in die Drakensberge as die eindbestemming, spesiaal vir die sneeu, wat gesmelt het drie dae voor ons gearriveer het, en weer terug met ‘n soortgelyke roete, via die Karoo Nasionale Park.  Sy het die Desember voor ons troue geskimp sy wil so graag Little Switzerland toe gaan, my antwoord was natuurlik “Nee, te duur, ons gaan kamp”; en die trane het nogal gevloei toe ons daar indraai.



Advies wat julle kan gee aan paartjies wat nog moet trou?

Mariza: Al is jy hoe reg vir troues vir ander mense doen, dis nie ‘n slim plan om als self te probeer doen nie – die stres is heeltemal te veel en mens het ‘n vreeslike goeie ondersteuningstelsel nodig. Terugskouend is daar so baie goed waaroor ons maar net lag – en dis die belangrikste les: mens kan enigiets hanteer solank jy die humor daarin kan raaksien.

Louis: Koes as jou aanstaande die koek die aand voor die troue probeer bak! Hehe, grappie. Ons het goeie wyn en vonkelwyn teen ‘n billike prys opgespoor deur elke tweede naweek by ‘n ander wynplaas in ons omgewing te gaan wynproe. Dit was heerlike uitstappies en goeie ontspanning tussen die trou reëlings deur.



Diensverskaffers: