Bloeisel Confetti inspirasie

Bloeisel Inspirasie_0001


Ons deel die Bloeisel Confetti inspirasie fotosessie met jou vandag op Mooi Troues. Die grimering was sag en natuurlik om klem te plaas op die broosheid van die bloeisels, die kant detail van die kopband en die speelsheid en eenvoud van ‘n Duitse vlegsel. Die fotosessie was ‘n spontane, impromptu besluit om die vlietende bloeisels van ‘n stokou boom in ‘n verwaarloosde vrugteboord vas te vang en was nie regtig “gereël” nie. In ‘n oogwink en met ‘n dol gejaag het Elaine en Steph als bymekaar gekry om hierdie mooie inspirasie te skiet.


Bloeisel Inspirasie_0002


Inspirasie van die fotosessie?

Hierdie storie begin met ‘n wilde peer boom wat oornag sy bloeisel baadjie aangetrek het, ‘n sagte tulle rokkie en ‘n paar oomblikke in die laaste lig van die namiddag son. Ons inspirasie: die natuur, elke oomblik was gedikteer deur die wind, die reën, die bloeisels. Ons loop laatmiddag op Steynsdraai rond en sien die enigste “bruid” in die vergete boord. Ons gaan gryp blindelings so paar goedjies – wat presies een kamera, een lens, ‘n rok met sy spelde soom en ‘n leer was. Ons hardloop kaalvoet in die plaaspad terug boord toe en verbeel ons ons sien nie die onheilspellende wolke in die verte nie.


Bloeisel Inspirasie_0003 Bloeisel Inspirasie_0004


Hoekom is die span diensverskaffers gekies om saam te werk?

Die beeldskone Steynsdraai plaas  is afgeleë en met die wonderlike verassing wat die natuur vir ons ingehou het was daar geen tyd om diensverskaffers te reel nie. Die rok was ‘n half gemaakte stuk waarmee ek besig was vir Dust and Dreams Photography se klerekas vir een van ons toekomstige kuns-afdrukke en is gebruik met spelde nog aan die binnekant vasgesteek!


Bloeisel Inspirasie_0005 Bloeisel Inspirasie_0006


Wat was vir jou die spesiaalste deel van die fotosessie?

Steph balanseer homself op in stapel bakstene en na die eerste paar fotos begin die wind om ons warrel, die donder wolke rol in en die bloeiseltjies sif soos gebreekte confetti op ons neer… Binne oomblikke val die eerste vet druppels reën en ons soek skuiling onder die leë plaashuis se stoep. Ons wag die reën uit en is verbaas om te sien ons “towerboom” is skielik kaal, die bloeisels net vertrapte confetti tussen ons modder spore. Ons dwaal terug huis toe, rok in die hand en met net so paar foto’tjies in die sak. ‘n Onvergeetlike 15 minute!


Bloeisel Inspirasie_0007 Bloeisel Inspirasie_0008 Bloeisel Inspirasie_0009


Advies wat aan paartjies gegee kan word wat die inspirasie wil volg?

Die natuur is vol tower-oomblikke veral wanneer die seisoene wissel; die eerste herfsblare, winter-ys of lente blomme. Wees voorbereid op sulke onverwagte oomblikke wat nie net julle fotos nie maar ook julle dag baie spesiaal kan maak. Gebruik ongewone goedjies  -soos ons leer -wat julle byderhand het en met ‘n bietjie dinkwerk uniek kan inspan. Praat met julle fotograaf of koördineerder as julle iets uniek in die natuur wil gebruik en moenie uitstel nie, mens weet nooit wanner die wind en weer die bloeisels gaan vertrap nie.


Bloeisel Inspirasie_0010 Bloeisel Inspirasie_0011


Diensverskaffers:

Fotograaf: Dust and Dreams Photography | Venue: Steynsdraai plaas, Carolina
Rok: Handgemaakte tulle & vintage korset rok deur “The Closet @ Dust and Dreams Photography”
Hare en Grimering : Elaine Van der Merwe-Louwrens
Stilering: Elaine Van der Merwe-Louwrens