Rok Advies: Die probleem met goedkoop ingevoerde rokke

janitatoerien


Rok Advies


Janita Toerien is een van Suid-Afrika se top ontwerpers en vandag deel sy haar raad ten opsigte van ingevoerde rokke met jou. Hier volg die artikel:

Ek kan vir dae praat oor die probleem wat ek het met Chinese invoere en die impak wat dit het op ons Suid-Afrikaanse ekonomie, maar ek gaan dit (probeer) opsom en meer spesifiek fokus op hoe dit die klere- en kleinhandelsektor affekteer.

Jare gelede, met apartheid, was daar sanksies teen Suid-Afrika gewees wat ons gedwing het om ons eie produkte te maak met ons eie produksielyne. Handel met ander lande was beperk en só ook dan invoere. Na 1994 was die sanksies gelig en Suid-Afrika het ‘n nuwe lewe gekry in die invoer/uitvoer industrie met nuwe besigheidsgeleenthede en dit was wonderlik. Ongelukkig wanneer nuwe geleethede gegryp word word daar dikwels vergeet van die gevolge en wat van die “ou” en huidige gaan gebeur.

In ons land, 15 – 20 jaar gelede, het die klereproduksie industrie floreer. Die groter handelaars het hulle klere by plaaslike fabrieke laat maak. Ons het ons eie materiaal laat maak, ons eie hangers, ons eie afwerkings, alles. Nou is daar dalk een of twee vervaardigers van die bogenoemde oor. Hierdié handelaars is moeilik om te vind en selfs wanneer jy hulle kry is hulle skaars ‘n tiende van die groot skaal waarop hulle vroeër gewerk het. Ja, tog, ons kry ‘n nis vervaardiger wat ten duurste iets vir ons kan doen, maar dit raak min iets wat vir meer as ‘n paar jaar hou. So wat het gebeur? Waar is die verskil?

China het gekom met kostes wat niemand kon klop nie. Ek is seker daarvan jy het al gehoor van “sweat shops” en kinderarbeid. Dis nie ‘n mite nie, dis realiteit en dis ‘n verbruikers gedrewe realiteit wat maak dat baie van ons families, vriende en plaaslike werkers hulle werk verloor het. Baie van die fabrieke in China betaal werkers lone wat belaglik min is. Die fabrieke het ook werkers wat 24 uur ‘n dag werk in 12 ure skofte of meer. Van die fabrieke het beddens daar, terwyl die een skof werk gaan slaap die ander, 7 dae ‘n week. Nou vergelyk jy die lone van Suid-Afrikaanse werkers met dié van Chinese fabrieke en jy kan miljoene ‘n jaar spaar. Fabriekseienaars spaar nie net geld nie, hulle maak ‘n reuse wins. Stadig maar seker het meer en meer handelaars besef dis vir hulle voordelig en meer winsgewend om hulle produkte in China te laat maak, ten koste van die honderde mense wat vir hulle plaaslik in hulle fabrieke werk. Honderde, duisende mense word afgedank omdat die maatskappy meer geld kan maak deur die produk oorsee te laat maak. Hierdie lande sluit ander derde wêreld lande soos Indië en Bangladesh ook in.

Die probleem kom nou in dat wanneer verbruikers na twee eenderse produkte kyk, een wat in Suid-Afrika gemaak is en een in China, is hulle onder die indruk dat die Suid-Afrikaanse een hopeloos te duur is. Inteendeel, dit is die Chinese een wat die wanindruk skep omdat dit teen slawe-arbeid pryse gekoop is. Wanneer dit by trourokke kom is dit nóg erger, want hoe hoër die waarde van die produk, hoe groter is die price gaping. ‘n Rok wat hier R10 000.00 sou kos is nou sleg R1000.00 omdat dit van China af kom en ons land se pryse kan nie daarteen kompeteer nie.

Nou mag jy dalk vir my sê “Maar almal het nie geld om R10 000.00 op ‘n rok te spandeer nie” en ek weet dit, ek vra nie dat jy dit doen nie, maar weet ten minste hoekom jy so min vir dit betaal. Jy, as verbruiker, word onder die indruk geplaas dat ons teveel vra vir ‘n rok terwyl die probleem by ons as ‘n verbruikersgedrewe kultuur lê. Ons gee nie om oor kwaliteit of hoe eties die proses was om die rok te maak nie, ons wil net hê.

Ek wil hê dat my naaldwerkster ‘n goeie salaris kry, dat sy vir haar kinders kan sorg. Ek wil haar betaal wat haar toekom vir die ure se handwerk wat sy in elke rok insit. Ek wil hê dat, al het sy nie ‘n graad nie en is nie gekwalifiseerd deur ‘n kollege nie, dat sy tog genoeg verdien om vir haar kinders nuwe skoene te koop in die winter, dat sy nie dae deur hoef te werk om geld te maak sonder om hulle te help met huiswerk in die aand nie. Sy is ook ‘n vrou en ‘n ma. Sy verdien die basiese en sy verdien goeie werksomstandighede, nes ek en jy. Weet jy dat meeste naaldwerksters minder as R30.00 per uur verdien? Party kry R180 per dag vir 10 ure se werk.

Ek het iewers gelees dat 20 jaar gelede het Suid-Afrika ongeveer 200 000 – 220 000 mense in die klerevervaardigings sektor in diens geneem. Dit is nou af na 16 500. Dit is so erg dat daar in ‘n onlangse verslag gesê was dat indien die 16 500 hulle werk verloor sal dit nie eers ‘n verskil maak in die werkloosheidssyfer van ons land nie. Dalk nie, maar dit is 16 500 mense met families om voor te sorg. Die verslag het gegaan daaroor dat daar ‘n minimum salaris gestel moet word vir naaldwerksters en die werksgewers wou nie dit doen nie, hulle het gevoel hulle gaan te veel geld verloor omdat die minimum hoër is as wat hulle huidig betaal en dis goedkoper om hulle produk dan in China te laat vervaardig. Eina.

Die probleem met die goedkoop Chinese rokke? Hulle het jou onder die wanindruk geplaas dat daardie pryse die norm is. Dit is nie, dis uitbuiting van mense sonder menseregte.

My oplossing? Hoe meer ons die plaaslike mark, plaaslike vervaardigers en plaaslike maatskappy ondersteun hoe meer werk is daar vir hulle, hoe meer mense kan hulle aanstel en hoe meer van ons eie geld gaan terug in ons eie ekonomie.

Nou, verstaan ook dat daar wel fabrieke bestaan wat nie soos die bogenoemde bestuur word nie. Baie boetieks voer hulle rokke in van China of van ontwerpers wat Chinese fabrieke gebruik en daar is fabrieke wat ordentlik is en eties bestuur word. My punt is, verstaan hoekom Chinese rokke goedkoper is, verstaan wat dit aan ons plaaslike ekonomie doen en maak ‘n ingeligte besluit.


Diensverskaffers:


Artikel verskaf en geskryf deur Janita Toerien